‘n Pot vol genade

Ek het ‘n onderwyser gehad wat blykbaar nie die skool wou sluit nie. Want sien, sodra hy by die huis aankom, fluister die duiwel in sy oor en dan twyfel hy of hy die deur gesluit het, stap terug skool toe, gaan maak seker, net om oor ‘n rukkie weer te twyfel, terug skool toe te stap …

Die duiwel het ook ‘n vastrapplek vir homself by my uitgegrawe. Dit het klein begin, onbenullig, maar stadig, maar seker het hy dieper en dieper gegrawe.

Ek sal rustig vir die dag dorp toe gaan, net om skielik te onthou: Die yster! Ek weet nie of ek die stykyster afgesit het nie! Dit, terwyl dit my absolute gewoonte is om NOOIT weg te stap van die strykyster af sonder om sy kragprop uit te trek nie.

Of, die stoof! Ek het die stoof aan vergeet! O gits! die huis gaan afbrand!

Male sonder tal het ek dan teruggejaag huis toe teen ‘n totaal ongesonde spoed, net om die yster se kragprop uitgetrek te kry, of die stoof af. Of die plaasbestuurder gebel om te loop kyk.

Ja, ek hét al ‘n pot hoender aangesit en weggery … Gelukkig was daar kinders by die huis wat die gemors geruik het en die stoof afgesit het.

Oor tyd het hierdie onsekerheid my net al hoe meer oorval. Dit het my genoodsaak om, sou ek iewers heen gaan en daar is nog ‘n pot op die stoof, die stoof af te sit, en kliphard te sê: ‘Die stoof is af. Onthou, die stoof is AF. Hy is nie meer aan nie.’

Selfs terwyl ek dit sê, kom die twyfel nog.

Dit het my gedwing om myself ernstig aan te spreek, want as die twyfel so skielik kom, en al die hare op my lyf staan kiertsregop en my maag raak skielik ekstra aktief, dan bid ek en ek bid en ek bid, onophoudelik.

Tot die vorige keer wat ek vir my vra: Glo jy dan nie wat jy bid nie? Die Here sal sorg.

Gisteraand ry ons rustig uit na ‘n plaas toe vir bybelstudie. Ons gesels lekker, die bybelstudie is al ver heen aan die gang, toe ek onthou: Die pot tamatie op die stoof! Angs! Ek sê dit vir my man en hy glimlag net vir my. 🙂 Die onthou werk oortyd: Ek het die relish gekook, dit was al amper klaar, maar ek sou dit nie betyds kon bottel nie en ek wou nog stort, ek ruik toe ene speserye. Sit die stoof af en sit die deksel op, met die gedagte om dit vanoggend klaar te kook.

Oor en oor werk ek dit in my kop uit, maar het ek dit nou reg onthou? Twyfel. Bid. Oorgee aan ‘n genadige God.

En wat wag in my huis toe ek laataand terugkeer?

‘n Pot vol genade.

Mooi dag vir jou.

Toortsie

Ek sal maar net nog meer ernstig moet konsentreer in die toekoms.

24 thoughts on “‘n Pot vol genade

  1. Ek dink ons sukkel almal om oor te gee, te vertrou en te onthou dat God in beheer is. Ek weet ek sukkel daarmee. Ons weet wat die regte ding is om te doen maar ons beur altyd ander kant toe. Gelukkig het ons ‘n genadige God wat maar te geduldig is met ons, want God soek nie perfekte kinders nie … Hy soek net kinders wat Hom soek …

    Liked by 2 people

    1. Dis ‘n genade, Kameel, as jy van so iets vrygestel is. Ek dink ‘n groot deel daarvan is my loskop persoonlikheid en dat ek nog gou vinnig solank iets wil doen, daar is dan nou tyd daarvoor, en dan vergeet ek.

      Liked by 1 person

  2. Dit klink soos my man … en my seun is presies die teenoorgestelde – hy maak nooit seker nie en vergeet soms. Voordat hy met vakasie kom, begin sy pa vir hom boodskappe stuur: het jy jou selfoon charger ingepak? het jy jou riel onthou? is jou kar se bande almal gepomp? … bla-die-bla. Wanneer hy teruggaan huis toe begin dit weer: het jy jou wallet? het jy jou bestuurderslisensie? … bla-die-bla. Hy probeer met my ook: het jy jou kar gesluit? Dan KYK ek net vir hom. Ek is nie so geduldig soos sy seun nie.

    Liked by 1 person

  3. Mens kan jouself so maklik opwen oor dinge wat jy outomaties doen. My outomaties dinge doen het al tweekeer gemaak dat ek uitgstap het deur gesluit het en nie die sleutel gevat het nie. Dis nie baie plesierig nie. Ek doen puntsgewys sekere aksies as ek uitgaan. Laat ek nou net afgelei word van wat ek doen is dit verby met Doris Day. Gelukkig is ek nie so erg soos wat jy jou bekommer nie.

    Like

Gesels saam, asseblief!