Hoekom goed inlê?

Gisteraand tien uur, toe ek, moeg en met ‘n seer lyf, nog woel om die laaste blatjang in die potjies te kry en ek nie weet wanneer die tamaties klaar gedroog sal wees nie, wonder ek by myself: Hoekom doen jy dit? Dis dúúr om met xylitol in te lê. Waarvoor jouself moeg maak?

Wel, al die jare hou ek daarvan om kos in te lê, goed wat as kos of slaai gebruik word, nie konfyt nie. Ek kan nie konfyt kook nie, ek kon nog nooit. Ek is ‘n bobaaskonfytflopper.

Dis vir my lekker as daar potjies kos is wat ek net vinnig kan oopmaak, veral slaaie. In my lewe voor Banting, het ek graag kerriebone, koperpenniewortelslaai, slaphakskeentjies, soetsuur appelkosies en noedelslaai ingelê. Kry ek skielik gaste, of is ek sommer net lui, is die potjie slaai byderhand. Nou, met Banting, is die uitdaging daar om die resepte Bantingvriendelik te maak.

My man maak nou behoorlik groentetuin en dis vir my lekker om die groente wat hy huis toe bring, te verwerk. Daardeur gee ek ook erkenning aan sy harde werk en ek kan sien dat hy my pogings geniet.

Verder, as ek self inlê, ís dit dalk duurder as die ekwivalent in die winkel, maar ek weet presies wat ek daarin gooi. Ek sorg dat ek goeie bestanddele gebruik en verseker daardeur dat my mense goeie kos eet.

Dit bly steeds vir my die moeite werd. Die satisfaksie daarvan is tog te lekker. Ek moet darem net fluister dat die tamatieblatjang laaank gaan hou, dis ekstra sterk! Ek sal beslis moet verander aan die hoeveelhede, soos ek mos maar altyd maak met ‘n nuwe resep, dit kort net ‘n bietjie Toortsieliefde. 😁

Groete

Toortsie

25 thoughts on “Hoekom goed inlê?

  1. O ons het ook so twee jaar gelede met ons groentetuin begin, en verlede jaar is ALS verwoes (plat met die aarde) na twee hengse haelstorms binne 12 uur ons getref het. So toe begin ons maar weer. Het al paar tamaties en selfs ‘n butternut al gekry!

    Die inlê-storie fassineer my vreeslik. Ons het begin Januarie by my Brits-ma gaan braai, en sy lê ook self haar eie goed in (vir dieselfde redes as jy). Maak tot vyekonfyt met vye uit haar eie tuin. Ek wil so graag dit prober, so sy het gesê ek moet een dag na haar toe gaan dan sal sy my leer. Ek kom uit ‘n huis waar hierdie vreemd is, so ek het GEEN kennis van inlê ens nie.

    Maar ek sien vreeslik uit daarna!

    Liked by 1 person

    1. So jammer oor die hael. My ma get graag konfyt gekook, veral groenvye was haar forté. Om een of ander rede het ek slaaie en ander tipes kos verkies om in te lê. Ek dink armoede het ‘n rol gespeel en my skoonpa se groentetuin. Ek wou die groente verwerk wat ek kry.

      Liked by 1 person

  2. Ek dink altyd as ek te veel van iets het, dat dit eintlik goed is om dit in te lê, net om dit nie te mors nie. Maar ek het ook nog nooit my hand aan daai een gewaag nie. Dalk moet ek nou begin.

    Liked by 1 person

    1. Ag dankie Una. Weet jy, hierdie Toortsieding is ‘n present wat die Here op my oudag vir my kom gee het. 😊 Dit is regtig soos hulle sê, as daar ‘n deur toegaan, moet jy kyk, daar staan ‘n ander een dalk wawyd oop. En as jy mooi dink, was kosmaak regtig die een ding wat ek nog my hele volwasse lewe elke dag doen. 🤔😳

      Like

      1. Dink laasnag toe die slaap my ontwyk aan jou blog oor m
        “Jack of all trades and master of none” teenoor ” master of one”. Besluit ek in my eie kop dat jy bietjie jok, jy is master of one, die banting ding en jou resepte boeke, maak jou master in my oë.

        Liked by 1 person

  3. My man kook heerlike blatjang, maar kan deesdae nie die gestaan in die kombuis hanteer nie. Ek is nie lief vir konfyt of soet ingelegde vrugte nie. Ek het so pas ‘n porsie van die heerlike sauerkraut geëet wat ek en my seun gemaak het toe hy hier was met vakansie. Hy het vir my ‘n fermentation airlock saamgebring en die kool was ons eerste poging om groente fermenteer (dis mos nou die nuutste health fad). Ons is heel trots op ons spanpoging.

    Liked by 1 person

      1. Jy moet oplees daaroor Toortsie. Dis een manier om jou groente te verwerk, maar dis ook ‘n baie goeie bron van probiotics, nog beter as yogurt of kefir. Ek het kool gekies om te doen, want ek vrek oor sauerkraut (my Duitse bloed) saam met my eisbein of spare ribs. Dit was so maklik. Jy kerf net die skoongewaste kool fyn, kneus dit, gooi sout oor om die water uit te trek, sit die kool in jou bottel, maak toe met die airlock en los 5 tot 7 dae. Daarna sit jy dit in glasbottels in die yskas en dit kan 6 tot 12 weke hou. Google fermented foods. Ek wil hierdie naweek my wortels doen.

        Like

          1. Daarvan weet ek nou weer niks 🤣 dis basies maar groente wat ingelê word in soutwater. Die airlock waarvan ek praat is net daar om te verhoed dat die groente lug skep, terwyl die gasse wat in die bottel ontstaan, vrygelaat word.

            Like

Gesels saam, asseblief!