Om agteruit te brei

Ek is tans besig om ‘n gilet te brei wat vir ‘n VLV- kompetisie bedoel is. In die begin het dit gevoel of ek meer uittrek as wat ek brei, maar iewers het ek aan die gang gekom en vorder dit tog te mooi.

Maar, iewers het daar ‘n fout gekom. Iewers het ek die patroon verkeerd aangevat of iets.

Ek kan dit regknoei, maar die beoordelaars het skerp oë en sal dit beslis raaksien. Terugbrei is al opsie. Nie uittrek nie, want dan gaan ek steke verloor.

Een vir een brei ek die steke terug, ry vir ry, totdat ek uiteindelik by die fout uitkom: Ek het per ongeluk iewers nie deur die hele steek gebrei nie, maar deur die vesel en op so ‘n manier ‘n ekstra steek veroorsaak.

Dit sou op geen manier reggeknoei kon word nie omdat daar ‘n ekstra steek was en sou ek aanhou brei, sou die fout net meer en meer uitstaan en sou ek op die ou end baie meer moes terugbrei.

Ek kon nie help om sommer aan die lewe ook te dink nie. Soms wil ons iets wat verkeerd is, sommer toesmeer, regknoei. En soms werk dit en kom dinge tog reg, maar soms is dit nodig om ‘terug te brei’ totdat ons by die wortel van die fout uitkom en reg te maak.

Terugbrei is nooit lekker nie. Dis verkeerdom. Moeilik. Dit maak seer en ons wil nie altyd daardie seer weer oopkrap nie. Tog is dit die moeite werd om te werk aan jou seerkrydinge sodat jy oor tyd eerder ‘n heel mens word, as een wat swaar dra aan ons seer.

Transformation Prayer Ministry (TPM) is ‘n hulpmiddel om jou te help om die seer van jou lewe te ontknoop.

Groetnis

Toortsie

16 thoughts on “Om agteruit te brei

  1. Sjoe Toortsie…dis waaragtig die heilige waarheid…. knoeiery op enige vlak loop altyd op meer moeilikheid uit. Dankie vir die pragtige vergelyking. DInk dit geld ook vir kortpaaie vat as jy brei of hekel…dit kan ook nogal in ‘n ramp ontaard.

    Liked by 1 person

    1. Ja, hoe verder jy knoei, hoe langer jy knoei, hoe meer moet jy knoei om die vorige knoeiwerk reg te stel.
      Dit was regtig nie lekker om terug te brei nie, onthou ek brei op sirkelpenne en dis agterpant en voorpante gelyk, so ‘n ry vat laaank, maar toe ek by daai simpel steek kom wat ek verkeerd gemaak het en begin weer vorentoe brei, was dit so lekker en was ek so bly ek het dit gedoen.

      Liked by 1 person

        1. Die ding moet klaar, jong, en ek wil darem graag respek hê vir my eie werk. So ‘n ding bly jou mos pla, en die mooiste van alles is, as ‘n mens so iets dra, en iemand sê vir jou dis mooi, dan wys jy daardie knoeiplek vir die persoon! 🙂

          Liked by 1 person

Lewer kommentaar op HesterLeyNel Kanselleer antwoord