Self

Die self. Ek. Me, myself, I. Dis veronderstel om die onderwerp te wees waaroor ‘n mens die maklikste skryf en praat en, ja, vir ‘n babbelaar soos ek, is dit maklik om oor myself te praat, en ek doen dit graag, sekerlik soms tot groot pyn en frustrasie van ander.

Dis dan ook sekerlik die rede hoekom die Bybel sê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, ons moet ons naaste respekteer soos ons onsself respekteer, versorg soos ons onsself versorg.

Baie jare gelede het ek ‘n werkstuk vir ‘n teologiestudent getik, wat juis hieroor gegaan het en dit het ‘n blywende indruk op my gemaak. Ek het net die tikwerk gedoen, hy het die navorsing en die skryfwerk gedoen.

Wat hierdie student daardie jare in sy werkstuk geskryf het, is iets wat deesdae soms amper oorbeklemtoon word, dat as ‘n mens nie jouself liefhet nie, jy ook nie ander mense kan liefhê nie.

Die twee loop hand aan hand, onsself, en ander mense, en ons moet aan beide aandag gee.

Ons moet oppas dat die EK nie só groot raak dat die naaste glad nie saakmaak nie en die naaste eintlik vir my moet dien nie, dat die wêreld net om my draai nie. Ek, en ek alleen, en ek maak geen opoffering as dit nie tot voordeel van myself is nie.

Die ander kant van die munt is net so erg waar die naaste alles is en ek niks. Alles in my lewe gaan daaroor om te dien en ek sal myself verpletter en verneder ter wille van ander mense.

Iewers moet ons ‘n balans vind waar die self die nodige liefde kry om heel en gesond en gemaklik te wees, en as jy heel en gesond en jouself op ‘n gesonde manier liefhet, kan jy ander mense gesond dien, liefdevol, in oorvloed, in net so baie liefde soos jy jouself het.

Die een hand was die ander.

En soms moet ons net sag op onsself wees.

Toortsie

Jusjojan

10 thoughts on “Self

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord