Beskerm jou huwelik

Geen reëls in die lewe is in yster gegiet nie, geen reël is gewaarborg nie, veral nie die reëls rondom huwelike nie. Verder loop die vyand ook nog rond soos ‘n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind, watter huwelik hy kan vernietig.

Die huwelik is ‘n instelling van God en die duiwel sal alles in sy vermoë doen om huwelike te vernietig, want as hy die huwelik vernietig kry, gee hy sommer die gesin en veral die kinders ook op die koop toe moeilikheid.

Ons weet dat ons alles 100% reg kan doen en steeds werk dit nie. Dalk wil jou huweliksmaat nie probeer nie, om watter rede ook al. Dalk probeer jy regtig jou bes, maar kry net nie die resultate nie.

Ek kry die e-posse van intiem.co.za en elkeen van hulle is so spesiaal, maar soms is ek ook te lui, te moeg, te beduiweld, sommer net nie lus om dit te lees en te probeer wat daarin staan nie. Tog kan ek, danksy eie ondervinding en 33 jaar getroud wees, getuig dat wanneer ek positiewe boeke, kommentare, e-posse, stories oor huwelike lees, dit my aanspoor om harder te werk aan my eie huwelik.

Hierdie artikel gee raad oor hoe om jou huwelik te beskerm en ek wil jou aanmoedig om dit te gaan lees. Moenie dit net lees nie, pas dit ook toe. Probeer dit. Die kans dat jy gaan resultate kry, is goed.

Hulle noem die volgende:

  • Dat jy daagliks tyd moet spandeer met God.
  • Dat dit nie altyd veilig is om iemand van die teenoorgestelde geslag as vriend/vriendin te hê nie en jy moet mooi dink wat jy alles vir hierdie persoon vertel. Jy moet dit eerder vir jou huweliksmaat vertel.
  • Dat jy defnitiewe grense in die werksplek moet stel.
  • Dat ons ons huwelike opwindend moet hou.
  • Deursigtigheid, veral wat ons selfone en rekenaars aanbetref. Huweliksmaats behoort nie geheime te hê nie.
  • Ekstra versigtigheid in weerlose tye.
  • Goeie kommunikasie tussen huweliksmaats, ook oor verleiding.
  • Moenie naïef wees en die krag van ‘n verleier onderskat nie.

Ook ek het nodig om aan ‘n paar van hierdie sakies aandag te gee, ‘n mens verval so maklik in ‘n groef.

Ek daag vir ons uit: Kom ons maak 2019 ‘n uitsonderlike jaar waarin ons ekstra hard werk aan ons huwelike. Kom ons maak ons swak huwelike goed, ons goeie huwelike beter en ons baie goeie huwelike uitsonderlik. Kom ons versamel memento’s, goeie herinneringe van saamwees en plesier tussen ons en ons huweliksmaats. Dis die grootste geskenk wat ons aan onsself en ook ons kinders, ons ouers, ons familie en vriende kan gee. Kom ons bou huwelike wat God eer.

Groetnis

Toortsie

#Jusjojan

memento

12 thoughts on “Beskerm jou huwelik

    1. Weet jy, net deur die lees van daardie artikel, het my gesindheid sommer verander en toe my man huis toe kom, het ek saam met hom op die stoep gaan sit en ‘n drankie gedrink. So maklik. Intiem vra of ons huweliksmaats is of huismaats. Mens verval so maklik in ‘n groef.

      Like

  1. Eish Toortsie…ek staan mos nou op die kantlyn en kyk in op een van ons kinders se huwelik….en ek huil oor ‘n 12jarige seuntjie en ‘n 11jarige dogtertjie, want hul mamma se keuse gaan hulle lewens vernietig en sy wil vir niemand luister nie…..almal is teen haar, behalwe haar vriendin van die afgelope twee jaar. Wat haar gees voed met net genoeg stekies om die skade wat alreeds daar is, groter te maak. Wat die pappa se foute so opblaas en aan die klok hang dat die mamma nie sien dat die klok net kan lui as iemand die tou trek nie. En daai tou word deur die vriendin getrek…praat van ‘n brullende leeuwyfie…

    Like

  2. Terug pieng: Sorry neh – Positief

Gesels saam, asseblief!