2018 in perspektief

Toortsie se blog het vanjaar ‘n uitskieterjaar beleef, waarvoor ek regtig dankbaar is. Op ‘n stadium het ek gedink dit is aan die doodkwyn, net om met hernude ywer verder voort te stoom.

Vir my is dit belangrik dat my blog tog sal groei oor jare. Dit ís al ‘n hele paar jaar oud, met baie bloginskrywings oor ‘n verskeidenheid onderwerpe, wat bydra dat Google dit raaklees as mense spesifieke goed soek.

Gelukkig is dit darem nie ál lesers wat hy trek nie en is daar darem ‘n redelike groepie gereelde lesers, wat vir my baie spesiaal is.

Vir my is dit jaarliks ‘n uitdaging om die vorige jaar se syfers te oorskry en eintlik kan ek regig niks daaraan doen om die statistiek te verbeter nie. Ek probeer altyd aan my kwaliteit werk en vra myself af of mense régtig hierdie sal lees. Ek lees en lewer ook kommentaar by ander blogs en plaas my blogs op Facebook, maar dis redelik ál wat ek kan doen.

Nie elke jaar se syfers oortref dié van die vorige jaar nie, tog vind daar groei oor tyd plaas.

Aan die begin van 2018 het ek weer eens my doelwitte gestel: Soveel per dag, soveel per maand en soveel vir die jaar. My getal per dag is nogals hoërig, en baie dae is dit nie bereik nie, en net so baie dae is dit ver oorskry, dat ek dink die daaglikse gemiddeld vir die jaar is wel oorskry. Ek het elke maand die mikpunt gehaal, behalwe in Desember, maar teen daardie tyd het ek ook lui begin raak.

Wat die syfer vir die jaar aanbetref, wil ek eers sê dat ek gewoonlik my persoonlike rekord eers in Desember breek, gewoonlik laat in Desember. Vanjaar het ek op 11 Oktober my persoonlike rekord vir die jaar gebreek en vroeg in Desember nóg ‘n nuwe mylpaal bereik wat ek nie eers beplan het nie.

Hierdie jaar het my blog hoogtepunte bereik en ek kan net dankie sê vir elke leser. Julle is tops!

Blogmaats, as ons skryf op blogs, laat ons ‘n lewende monument agter wat vir baie mense nog tot nut kan wees selfs lank ná ons dood. Ons is besig om te help bou aan ‘n groot biblioteek waarin mense nog baie gaan kom delf. Let’s do it! 😁

Vir my is my blog nie 100 persent myne nie, maar dis God se blog. Hy het hierdie geleentheid in my hand geplaas, Hy het my leer skryf in my bidboek, dis Hy wat my die woorde gee om te skryf en die lesers stuur. Alle eer gaan aan Hom.

Mag 2019 ‘n uitsonderlike jaar wees vir elkeen van ons.

Toortsie

16 thoughts on “2018 in perspektief

    1. Dankie. Ons almal bereik hoogtepunte op verskillende maniere, ons moet net ons oë daarvoor oophou. Dit gee jou nuwe energie, maar mens moet net altyd waak om nederig te bly. 😁

      Like

Gesels saam, asseblief!