Hoe stig ek ‘n Facebookblad?

Na aanleiding van ‘n navraag: ‘Hoe stig ek ‘n Facebookblad vir my tuisnywerheid?’

O, dis die maklikste ding ter wêreld! Ek sê keer op keer dat my boeke nooit so ‘n sukses sou wees as dit nie vir Faceboek, en spesifiek, my Facebookblad was nie.

Die ding is, ‘n mens wil jou produk adverteer, maar jy wil nie die hele tyd al jou Facebookvriende irriteer nie. Daarom, die blad, waarop mense wat daarin belangstel, inteken en die plasings sien as hulle sou wou. En wil hulle nie, kan hulle net met die druk van ‘n knoppie dit stop.

Ek verkies ‘n Faceboekblad bo ‘n Groep. ‘n Groep is gewoonlik privaat en mense moet toestemming vra om deel van die groep te word. Dit het natuurlik ook sy plek, maar nie as jy jou produk wil adverteer nie. By ‘n FB blad kan enige persoon kyk wat daarin belangstel, sonder om eers jou goedkeuring te vra. As ek reg onthou, kan jy iemand wat ‘n verpesting is, blok op jou blad.

So, hoe maak jy?

As jy in jou Facebook is op jou tuisblad, kyk aan jou linkerkant by die indeks.

Kies ‘blaaie’ of ‘pages’.

Dan kies jy ‘skep blad’ en jy vul al die nodige goed in wat hulle jou vra. Wat is die titel van jou blad?

Dan moet jou blad bemark word. Hulle stel voor dat jy al jou faceboekvriende moet nooi om deel van die blad te word. Ek sal dit nie aanbeveel nie, omdat soveel mense nie daarvan hou om vir al wat blad is, genooi te word nie.

Ek stel voor dat jy die skakel na die blad eerder net op jou gewone Faceboekprofiel sal deel. Dan sal van jou vriende wat belangstel, gaan loer en dit ‘like’ en begin volg.

Hoe doen jy dit? Jy kliek op die naam van jou blad sodat dit oopmaak op jou skerm. Dan kleur jy die URL (adres) wat bo-aan verskyn (https://www.facebook.com/ xxx ) sodat dit ingekleur is. Regskliek. Copy. Gaan na jou fb en paste dit daar.

Hoe jy jou blad gaan vul, is natuurlik jou eie keuse.

Wat vir my werk:

  1. Neem baie foto’s van wat in jou tuisnywerheid (of besigheid) is.
  2. Moenie al die foto’s gelyk plaas nie! (Mense kyk dan een keer en dan is dit klaar.)
  3. Plaas eerder elke dag een foto. En in plaas daarvan dat jy elke dag moet onthou, kan jy jou werk baie makliker maak deur dit te skeduleer. In plaas van publiseer kies jy die pyltjie regs daarvan. Kies skeduleer en dan sit jy in wanneer dit geplaas moet word. Een foto per dag en so kan jy vir drie maande vooruit foto’s plaas en ontspan.
  4. Skryf ‘n kort, maar oulike opskriffie by elke foto. Mense is lui vir lees, so hou dit regtig kort en kragtig.
  5. Maar nog belangriker: Wat dink jy van jou winkel/besigheid? Watter gedagtes gaan deur jou kop? DIS DIE GOED WAT JY NEERSKRYF VIR DIE ANDER MENSE OM TE LEES!
  6. Kyk ‘n bietjie wat op ander blaaie gebeur, maar doen jou eie ding. Moenie hulle probeer na-aap nie. Dis juis die uniekheid van jou winkel en jou blad wat die mense gaan trek.
  7. Hou jou blad lewendig en interessant. Mense hou daarvan om vermaak te word. Hier is jou kans om dit te doen.

Onthou, ‘n Facebookpage word nie in een dag gebou nie. Dit begin dalk met een persoon wat dit ‘like’ op dag een en nog twee op dag twee. Moenie moedeloos raak nie, hou net aan. Sit elke dag iets ouliks op, en soos jy begin reaksie kry of meer selfvertroue kry, sal jou plasings ook verander. Begin by die eerste tree en hou net aan. Jy sal nie spyt wees nie.

Sterkte!

Toortsie

17 thoughts on “Hoe stig ek ‘n Facebookblad?

        1. Ek delete sommer net die suur mense, ook hulle wat God laster en kla oor reën. Die Fb wat ek het, het net positiewe en oulike en lekker mense 😁 Nou loop ek soms dikbekke in die regte lewe raak, vies omdat hulle nie meer fb pret met my het nie.

          Liked by 1 person

              1. Ek spot met Kaapstad wat ook ‘n “wineberg” het maar die mense WHINE sonder ophou. Altyd te warm/koud/nat/droog/te veel/te min wind of wat ookal. Of die trein is te vroeg of te laat. Iemand kla altyd oor iets. My leuse: “the weather in Cape Town is always perfect. Dress accordingly.” Hehehe

                Liked by 1 person

        2. My eie man het kort nadat hy uiteindelik fb gekry het, geknor oor ek een of ander iets opgesit het waarin hy toe meer lees as wat nodig was. Ek het hom baue hard en duidelik gesê wat ek bedoel het, en ook dat met die volgende grom, hy tjaila uit my fb. Hy gedra hom nou baie mooi.

          Liked by 1 person

            1. Ek voel baie ernstig daaroor dat ‘n mens in die ‘regte’ lewe soveel nonsens moet verduur, ek weier om dit in die virtuele lewe ook te moet verduur. Daarom kies ek my vriende baie mooi. Lekker mense met positiewe boodskappe. 😁

              Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!