Kreatief in 2019

So op die pendelpad bly ek met my handjies besig, behalwe as ek slapkoppie raak en ‘n slapie vang.

Tog kan ek min foto’s wys van my kreatiewe pogings van hierdie jaar.

Vroeg in die jaar het ek ‘n mus en serp gehekel vir die VLV se kompetisie. Ek het ongelukkig nie ‘n foto daarvan nie, ek het dit weggegee. Vir my was dit nogals mooi, grof gehekel met sulke knobbels in vir tekstuur. Die serp was ‘n sirkel, is dit ‘n snood?, of ‘n cowl?, lekker breed gehekel sodat dit mooi vol en warm om die nek moes wees. Die beoordelaar het nie daarvan gehou nie, te grof na haar sin, sy verkies dun wolle. Wel, smaak verskil. 😁

Ek het daarná ‘n trei gebrei vir my seun, die patroon was in ‘n breiboekie wat die Huisgenoot uitgegee het. Ewe mates geneem en presies volgens die patroon gebrei, maar die eindproduk het soos ‘n sak aan die man gehang! Wat ‘n teleurstelling! Op daardie oomblik kom die buurman daar verby en wen ‘n trui! 😁 Wel, hy is hoog in sy skik! Intussen het hy ook ‘n klomp gewig verloor en mag hy dalk ook binnekort verdrink daarin, maar tot dan, glo ek hy sal dit geniet.

Ek het ook ‘n toppie gehekel vir volgende jaar se VLV kompetisie, maar dit kan ek ongelukkig nog nie hier wys nie, dalk gee ek iemand idees! 😂 Ek het ernstig begin hekel, baie uitgetrek en oorgehekel, toe kom ek agter dat die dyelot van die verskillende bolletjies gare verskil! Ek moes dit wraggies oor hekel! Dis vir my baie mooi en as alles goed gaan, wys ek dit volgende jaar vir julle. Ek vermoed die beoordelaar mag weer voel dis te grof, maar smaak verskil mos maar, so kom ons kyk wat gebeur. Ek hekel in elk geval eintlik sommer net vir die lekker.

Wat kreatiewe skryfwerk aanbetref, het die Towerinne my aangespoor tot ver buite my grense, en dit was groot genot.

Ag, en dan bou ons mos, en dít het my behoorlik besig gehou en my ‘n hele nuwe ervaringswêreld geleer.

gelukkig herinner Una my toe aan die heel lekkerste projekkie van die jaar, die ‘coasters’ wat ek vir haar gehekel het. 😁

Groetnis

Toortsie

27 thoughts on “Kreatief in 2019

  1. Og, daardie huisbou is een helse werk as ek dit so mag sê. Brei en hekel bly maar lekker. Ek het uiteindelik my naaimasjien op die tafelgesit sodat ek myself kan aanmoedig om my “mystery quilt” se laaste drie blokke te werk en dit dan aan mekaar te werk. Hier lê ook n reeds uitgesnyde bloes wat ek net moet uitgrawe en ook klaar wil maak. Dan is ek ernstig besig om my volgende Memoir deel te skryf. Genoeg om my lank besig te hou.

    Liked by 1 person

    1. Ek kom glad nie meer by naaldwerk uit nie en verloor selfvertroue! My dogter doen die mooiste naaldwerk en ek het haar ‘n bietjie help nate stik en some insit, dit so geniet. Kyk bietjie by Instagram martjiesews. Die jongmense dien op ‘n heel nuwe manier naaldwerk, heeltemal sonder patroon. My mond hang behoorlik oop.

      Like

      1. Ek is ook maar patroongebonde. Dis hoe ons maar geleer het. Vandag se modes met hul los voorkoms maak my sommer lus om iets te maak. Het vandag in die verbyloop sommer 2 meter materiaal gekoop om iets los van te maak. Was 40% afslag en het my so te sê niks gekos nie. Meestal $10-20 per meter Hierdie het m y spesiaal afslag $2. per meter gekos. Ongelooflik!

        Liked by 1 person

        1. Toe die tenders ingekom het, het ek net daar doodstil gaan staan. Daar is herbeplan, maar ek het ook elke ander opsie oorweeg en baie met my twyfel by God stilgestaan, totdat Hy my een nag duidelik geantwoord het.
          Toe het ek besluit ons bou en ek gaan dit geniet, en dit wás al die pad een plesier.

          Like

  2. Ek is self lief vir brei, hekel en naaldwerk doen. My kleindogters inspireer my om vir hulle rokkies te maak. Ek hou ook van verf, nou nie skilder nie, sommer klippe ens. Dit so lekker om te skep. So ń lekker stuk bevrediging in ń eind produk.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!