Ek weet nie of dit met julle ook so is nie, maar wat ek lees beïnvloed my. Dit beïnvloed my eie gemoedstemming, die manier wat ek my mense hanteer, wat nog alles.
Dis natuurlik iets wat ons nooit moet vergeet nie: Ons mag dink ons is volwassenes, maar ons word ongelukkig beïnvloed deur die dinge wat ons beleef of nie. Ons mag dink ons is groot en kan sekere flieks, boeke, partytjies, feeste hanteer, maar ongelukkig is die waarheid dat ons dit nie regtig altyd kan hanteer nie.
‘n Regtig oulike en volwasse matriekseun het van sy ervaring by die Plett Rage geskryf en ek kan sien dat hy gemaklik in sy vel voel en beginselvas is, sy grense stewig is. Ongelukkig is ‘n groot groep van ons kinders, én volwassenes, nie beginselvas nie en ons grense is nie in plek nie, en sou ons by ‘n plek kom waar daar grootliks uitgehaak word, eenvoudig meegesleur word. En ja, nie almal raak meegesleur nie, soos hierdie pragtige jongman bewys het.
Of ons dit wil erken of nie, ons word beïnvloed deur dit wat ons lees, kyk op TV of ons rekenaar, ons omgewing en doen soms mee aan dinge wat ons nooit in normale omstandighede sou doen nie.
Terug by boeke.
Ons brein is soos ‘n rekenaar, dis ons keuse wat ons hom voer, goed of sleg.
Ek het nou die boek, ‘An African Love Story’ deur Daphne Sheldrick, gelees. Sy vertel van haar lewe in Kenia, en van hoe sy baie wees wilde diere gered en grootgemaak het, veral olifante. Dis ‘n pragtige boek wat diereliefhebbers baie sal geniet.
Vir my het die gevaar van die Mau Mau egter bygebly, die onveiligheid toe Kenia onafhanklik geword het, die onveiligheid van die boere, die op-die-oog-af goedgaan, maar die onrustige onderstrominge het my gemoed beïnvloed. Dit was regtig net té na aan die vel. Dit het my in ‘n donker wolk gehul waaruit ek net nie kon uitkom nie, tot ek later eerder die boek neergesit het.
Net daar besef ek dat ek ‘n ander boek sal moet kies, iets heelwat ligter, ‘n goedvoelstorie.
Ek hét al ‘Seisoen van Genade’ deur Alta Cloete gelees, maar tel dit weer op. Wat ‘n lieflike, eerlike verhaal van gewone mense wat die lewe leef, hulle pyn in die oë kyk en vorentoe stap. ‘n Verhaal met ‘n held en heldin wat mekaar liefkry, en ja, ek verkies sulke stories waar daar nog helde en heldinne is, nie stories wat die mans in die verhaal net sleg is en die dames net goed nie. (‘n Rukkie gelede het ek twee sulke boeke gelees waar die mans net sleg is en ja, dit is ook waar in vandag se lewe, hier ís baie hartseer, maar dit het my negatief beïnvloed, waarvan ek nie hou nie. )
Gewone mense, normale mense, met normale lewens, wat lief het, kwaad word, huil, speel, lag, dís waarvan ek hou in ‘n storieboek.
Onmiddellik trek die wolk weg uit my gemoed. Onmiddellik is ek sommer liewer vir my man, voel ek meer aangetrokke tot hom.
Ek het sommer dadelik die res van Alta Cloete se ‘Seisoenreeks’, wat ek nog nie het nie, bestel. Dis mos goed vir my en almal om my as ek boeke lees wat my laat goedvoel.
Groetnis
Toortsie
Baie waar dat wat jy lees jou gevoel en gedagtes beinvloed. Op oomblik moet ek n NZ Young Adult boek lees vir my boek-groep. Die geweld wat in die boek beskryf word maak my eintlik naar. Ek besluit nog of ek verder wil lees en of ek dit gaan los. Kannie dink dat so-iets aan jongmense voorgehou word nie.
LikeLike
Dit lyk my deesdae, hoe erger, hoe beter. Mense soek net meer en meer sensasie, wreedheid, en dan kan hul nie verstaan hoekom mense net wreder en wreder raak nie.
LikeLike
Dis waar, alles word wreder voorgehou. Dan ook daardie bo-natuurlike dinge wat tog so gewild is is ook nie goed nie.
LikeLiked by 1 person
Mens begin dink dat dit die norm is.
LikeLiked by 1 person
Dis waar, Toortsie. Ek glo defnitief dat wat ons op ń gegewe oomblik lees, ń uitwerking op ons het.
LikeLiked by 1 person
Dis hoekom ek moet bybellees. Anders wil ek heel uitrafel.
LikeLiked by 1 person
Ek kan regtig nie daarsonder nie. Dis beslis die boek wat ek in my lewe al die meeste gelees het. Dis my riglyn, die lewensaar, die padkaart, die antwoord op my vrae, my gerusstelling, my hoopgewer, noem maar op.
Ek is so bly jy noem dit, want dit was in my gedagtes en tie skryf ek dit sowaar nie!
LikeLike