Towerinne kuier aan die Suidpunt. Bonusdag.

Daardie dag wat Seegogga ons so haastig laat afdraai het so in haar wakkerword, is ons ook net vinnig by Koppie Alleen en die De Hoop Natuurreservaat verby. Die Towerinne was so teleurgesteld omdat hulle net vinnig moes kyk en nie werklik die ongerepte natuur kon geniet nie. Ons het dit bespreek en besluit om tog weer die lang grondpad aan te durf De Hoop Natuurreservaat toe. Dit is werklik ‘n hele dag se besoek werd.

Ons het genoeg water en koeldrank en piekniekkos ingepak en toe is dit ons en Lorenzo met die bus De Hoop toe. Ai tog, iewers kry ons toe ‘n pap wiel en almal moes in die warm son uitklim sodat die wiel omgeruil kan word. Gelukkig het daar een van die jong boere verby gekom, en soos ons hulle ken, dadelik gestop en tjoef-tjaf die wiel omgeruil. En ja, natuurlik ken ek hom goed, hy het dan voor my grootgeword! 😁

Dadelik het Trommeltjies en Positief nader gestaan en vir hom ook koeldrank en koekies uit die groenbus aangebied. Lekkervurig het net planne gemaak oor hoe sy hierdie jong man aan haar dogter gaan voorstel. 😁

Uiteindelik het ons by die De Hoop Natuurreservaat aangekom, waar ons net vinnig ingeboek het en ons bagasie afgelaai het voor ons na Koppie Alleen toe is, behoorlik hierdie keer.

Eers het ons almal sommer net vir lank op ‘n rots gesit en die manewales van die walvisse sommer hier reg voor ons in die water, geniet. Dit was ‘n behoorlike geoeee en ge-aaa elke keer as ‘n walvis heeltemal uit die water spring. Perdebytjie se kamera het behoorlik oortyd gewerk. Terloops, weet julle hoe ‘n lang neus het haar kamera?

Die swemmers onder ons het die seewater aangedurf, ons ander was sommer net rustig en het die seelewe in die getypoele geniet. ‘n Seekat het amper vir Virgo aan die been gegryp! En Hester wou net alekreukels uithaal, dís nou moeilikheid soek, dis ‘n reservaat hierdie! Seegogga kon ons tog te lekker inlig oor die verskillende seediere.

Tannie Frannie, Bondelsgedagtes, en Scrapy het sommer net op die groot rots bly sit en walvisse kyk.

Daarna is ons terug na ons blyplek by De Hoop, en het ons sommer op die vlei se wal sit en braai en gesels en kampliedjies om die vuur gesing, nes ek soveel keer as skoolkind by skoolkampe dit daar gedoen het. Hester en Kameel het ons vertel van die interessante boeke wat hul lees. Aan die oorkant van die vlei is Melkkamer se opstal en ek het vertel van die spook wat daar loop, Perdebytjie sal weet! 😁

Intussen kan Una nie uitgepraat raak oor haar beplande toer ba Bali in Februarie en na Indonesië later die jaar nie. My tone krul behoorlik en ek wens net ek kan saamgaan. Woordnoot se kop werk ook oortyd soos sy planne maak om saam te gaan.

Ná ‘n goeie nagrus en lekker ontbyt, is ons nou op pad Kaap toe, drie dagreise ver te perd.

Die goeie nuus is darem dat Alfonso nog agter die bus se stuur sit en ons orals veilig besorg, behalwe vir die stuk grondpad waarvoor hy nie kans gesien het nie, toe moes ek maar ‘n rukkie die stuur oorneem.

Toortsie

Nog ‘n dag in die toer van die Towerinne. Om hulle hele toer te lees, het jy baie tyd en asem nodig, maar dis HIER te lese. Hierdie is die 117e hoofstuk in hierdie storie. 🙂

43 thoughts on “Towerinne kuier aan die Suidpunt. Bonusdag.

  1. Toorts, my Bab vermoor ons as ons skoonma soek ‘n boer speel. Bwahaha! Una, toe kon ek saam met jou die walvisse se soutsproei spatsels voel. Whoohoo. So mooi en groots, die see en die seereuse. Daai Bali reise raak al hoe aanlokliker.

    Liked by 3 people

  2. Ek sal saamwerk sodat ons vir Bab ń handuitgesoekte man vind. Daai oulike kind van Lekkervurig verdien dit.

    Toorts, ek is heeltemal uitverkoop aan julle area. Hoe ek my man gaan oortuig dat ons daar moet gaan aftree, weet ek net nie. Maar ek gaan hard probeer. Hy is ń Suidkus mens, die warm seewaters pols deur sy are.

    Liked by 2 people

    1. Goeie nuus! Struisbaai het warm seewater! Die warm Agulhas stroom vloei mos hier verby(in die Indiese oseaan) Dis eers van Agulhas af , na di3eSuidpunt van Afrika, wat die koue Benguela stroom in die Atlantiese oseaan die res vd wes-Kaap( Hermanus Kaapstad ens )koud maak. Gister was Steuisbasi se water lou-warm en heerlik.

      Liked by 1 person

  3. Ag Toortsie, dis hierdie salige dae van amper niksdoen wat my batterye herlaai. Dis ‘n pragtige seediertjiefoto daardie. Om te dink, ek het soveel jare in Kaapstad self gewoon en nooit hierdie heerlike plekke behoorlik leer ken nie. In my verdediging moet ek darem ook sê dit was die jare van klaintjies grootmaak, sente omdraai en hard werk aan ‘n loopbaan. As ek weer terugkom aarde toe, wil ek ‘n seerob wees wat so luilekker al om die suidelike punt swem, elke dag, heeldag lank.

    Liked by 1 person

  4. Ek moet sê dis werklik heerlik om so rustig te sit en kyk na die wavisse.(in die werklike lewe het ek nog nie een gesien nie!) Dis darem maar net n ander wêreld hierdie van jou en seegogga. Mens kan sommer tot verhaal kom na al die grondpad se hobbels en klippe.

    Like

    1. My pa het soveel keer as die lewe kwaai druk, sommer Koppie Alleen toe gery. Daardie grond het toe aan ons behoort en daar het skape gewei op die plaas. Hy het altyd gesê so ‘n dag het sommer ‘n klomp moeilikhede weggewas.

      Like

Gesels saam, asseblief!