Towerinne aan die Suidpunt Dag 2

Ons het lekker rustig wakker geword, so een-een begin roer en sommer self koffie en beskuit gemaak en, toegedraai in ons komberse, sit en kuier totdat almal wakker was. Scrapy en Trommeltjies is vroegroerders en is al vroegdag uit om langs die see te gaan stap en skulpe op te tel.

Bondelsgedagtes en Positief het my gehelp om ontbyt te maak: Roereier, spek, varkworsies, tamaties, komkommer, sampioene in botter gebraai. Vir die koolhidraatverslaafdes was daar roosterbrood en natuurlik kaas. En daar was Hester se suurvytjiekonfyt, wat toe heeltemal te min was, want die Towerinne was gaande daaroor. Hier en daar het iemand hulle neuse opgetrek vir die vreemde smaak daarvan.

Daarná is ons na die Suidpunt van Afrika waar die twee oseane ontmoet, die Indiese en Atlantiese oseaan. Maar dis ook die plek waar die twee seestrome ontmoet: Die koue Benguellastroom wat van die weste weskus af kom, en die warm Mosambiekstroom van die oostekant af.

Hierdie kuslyn is baie gevaarlik en menige skepe het hier gestrand. Een laaste bewys hiervan, is die een skeepswrak wat nog hier lê.

Ons het gery tot by Suiderstrand, ‘n pragtige strandplekkie wat so eenkant lê, maar ook al hoe meer uitbrei deesdae. Dadelik het Virgo  en Perdebytjies planne begin maak oor hoe en waar hulle hulle huisie by die see sal bou.

Daarná is ons na Agulhas se lighuis, die mees suidelike lighuis in ons land, waar dit die roete aandui vir skepe op die stormsee sedert 1 Maart 1948. Die meeste van ons is met die trap op tot bo by die lig, Woordnoot en Una natuurlik heel voor, maar een of twee van ons wie se name ek nou nie hier gaan noem nie, het gevoel dat dit veiliger is onder op die grond. Onthou, die lighuis is vir die Toortsie baie spesiaal, dis mos die groot lig hier aan die suidpunt, sy is mos maar net ‘n ou klein liggie. Seegogga kon vir ons lekker staaltjies vertel, haar pa was mos ‘n groot vriend van oom Auret, wat jare gelede die lighuismeester was.

Toe was dit Suidpunt Potpourri se beurt vir heerlike tee en kaaskoek en die kooplustiges, waarvan Tannie Frannie en Kameel die grooste was, kon heelwat aandenkings en ‘n laaste paar kersgeskenke hier koop. So tussen ons, hulle het nogals gekloek om Toortsie se resepteboeke wat hier aangehou word, dis die eerste keer wat die meeste van hulle die in hulle hande vashou. 😊

Daarná het ons op ‘n plesierboot geklim en het ons al om die suidpunt gevaar, so ‘n uur uit en tuis. Party was maar behoorlik wit om die kiewe, hoor!

Die res van die dag kon almal maak wat hulle wil. Party het die baie gewilde Struisbaai Kersmark besoek, ander het gaan lê en sonbrand, die res het ‘n middagslapie gevang. Die hongeres het vis en chips by die Sea Shack gaan geniet, party sommer net ‘n koeldrank vir die geselligheid.

Sewe-uur was almal mooi en reg om na 55 Knots te gaan, ‘n baie mooi restaurant waar heerlike kos bedien word.

Die Towerinne uit die noorde kon nie glo dat dit saans 8 uur nog lig is nie!

Nog ‘n dag in die toer van die Towerinne. Om hulle hele toer te lees, het jy baie tyd en asem nodig, maar dis HIER te lese. Hierdie is die 114e hoofstuk in hierdie storie. 🙂

Toortsie

52 thoughts on “Towerinne aan die Suidpunt Dag 2

    1. In my kinderjare was daar geen huise nie. Toe wou mense dit ontwikkel. Kon Jan Haack die ontwikkelaar wees? Ek kan nie onthou nie. Erwe was uitgelê, maar slegs 1 huis gebou. My pa het gesê die see was grasgroen van al die tienrante wat daar weggespoel het. Die Breda Bank het ‘n groot gat moes sluk. Alles val plat. Dit was in die sewentigerjare. En toe, seker 30 jaar later begin die erwe verkoop en die huise gaan op. Daar is nie ‘n winkel of kafee nie, baie eksklusief. Baie besonders.

      Liked by 1 person

  1. Ek moet sê, dis een ding wat ek mis van die Kaapse wêreld – die laat aande wat jy nog buite kan spandeer en alles om jou sien. Hier by ons staan ons vyfuur in die oggend op met volson wat deur die gordyne skyn en sesuur in die aand is dit stikdonker. Jammer die suurvytjiekonfyt is nou op, maar ek hoop iemand gaan my genadig wees en ‘n bottel of wat korrelkonfyt aandra. O, ja en vars vye.

    Liked by 4 people

  2. Toortsie, ek kuier en eet so lekker en so bly ek maak planne vir huis bou. Praat jy nou so in my hart in. Ek het heerlik gekuier en is so bly ons is op die toer en saam met sulke amazing mense. En ek dink ook ons moet verby Napier gaan:):)

    Liked by 1 person

  3. Ek belowe julle hierdie girl tel nie eintlik skulpe op nie, maar klippies. Dis my ding, het julle nie gesien hoe swaar my sak was nie. Ek het nog een by Suiderstrand vol gemaak en onder my sitplek gaan weg steek. Lorenzo kan so kwaai raak oor die goed op die bus.
    Ek het hoeka my eerste Toortsie op Agullas gekoop. Die jaar toe ons in die leë huis gekamp het.
    Ek het heerlik gekuier daar by jou Toortsie.

    Liked by 2 people

  4. Ek het sowaar fluks geword op hierdie toer! Verbeel jou, ek ń voorbok met trappies klim by Agulhas. Seegogga se staaltjies was omtrent fassinerend, maar die plesierboot ryery was te erg! Ek het groot respekte vir jul Kaapse see, ek en my maag, so ek het maar net in die hoekie bly sit en bid vir genade…

    Liked by 3 people

  5. O lekker kuier ons tog hier op due beste plek op aarde. Dankie Toortsie. Julle sal almal weer moet kom . Ons moet nog gaan vis eet by Agulhas Seafoods en gaan braai by die wrak, gaan allekrukke uithaal en… en… 4 dae is heeltemal te min. Maar nou is dit eers Kersfeestyd, nè !

    Like

  6. O wee…wie het genoem dat die toer amper op ‘n einde is? Bwawaaaa!!!! Nee! Wat gaan ons dan weekliks met onsself aanvang? Toorts, hierdie was ‘n heerlike rustige kuier. Ek was nog nooit daar nie. Die verste wat ek was, was Elim. Baie dankie. Ek moet sê Una is ‘n pêl duisend. Sy het my nie gesplit toe ek die laaste paar van daai trappies daarbo opgekruip het nie, en sy het ook niks gesê van die nat kolle op my broek nie…dankie Una!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op seegogga Kanselleer antwoord