Towerinne by die Suidpunt Toortsie se dag 1 as gasvrou

Verskoon asb, ek begin solank post, dis ‘n rowwe week en ek het ‘n paar bloginskrywings. Julle kuier mos by my en Seegogga gelyk.

Hierdie is ‘n fiktiewe toer wat 14 bloggers deur die land neem.

Nadat Seegogga ons behoorlik trakteer het, is dit my beurt. Ons het vroeg uitgeboek by haar gastehuis en net vinnig ons goedjies gaan aflaai by ons strandhuis.

Ek het ‘n baie rustige tyd beplan, maar ons weet mos nou almal dat ons nie hierdie span Towerinne sommer in toom kan hou nie.

Ons eerste besoekpunt was Elim, ‘n ou Morawiese sendingstasie. Daar het ons sommer die mooi kerk en watermeul bekyk en die labirint geloop om ons siele skoon te maak. Tannie Frannie en Scrapydo het behoorlik vasgehaak in daardie labirint. Towerinne! Sug.

Die gedagte was dat ons by die Black Oystercatcher sou gaan eet, maar Bondelsgedagtes en Una wou gaan kyk hoe dit by Pearly Beach lyk, met Seegogga wat net aanhou vertel hoe mooi dit daar is.  Ag, ons ís mos met vakansie, so hoekom nie?

Plaas dat ons by die plan gehou het!

Toe ons by die see kom, sien ons daar is duikers in die water. Opgewonde skree Trommeltjies, sy kan duik, sy gaan nou ook, en storm nog voor ons behoorlik kan keer, met Positief agterná.

Ons probeer ons bes om die twee uit die water te kry, dis PERLEMOENSMOKKELAARS, en as hulle in die water is, bly jy daar uit! Daar het juis ‘n polisieman op die wal gestaan en wag dat van die duikers hulle voete uit die water sit. Dis professionele ouens daai, ‘n mens mors nie met hulle nie!

Intussen sit ons en bewe van angs op die wal, want as een van ons twee Towerinne nou opgewonde met ‘n perlemoen uit die see kom, is dit tronksake en voorbladnuus.

Maar, soos een man het ons beskermhere uit hulle voertuie geklim, vir die polisie amptelik en saaklik meegedeel dat hulle van die Suid-Afrikaanse en Vlaamse Intelligensiediens is en dat hulle hier is om die groep pragtige dames, wat op ‘n geheime sending is, te beskerm, en dat hulle geen probleme wil hê nie. Die polisieman het net met groot oë na die hooggeplaasdes gekyk, iets gemompel dat hy weet van ons,  en toe so ‘n bietjie verder weg gaan staan en staar oor die see.

So ‘n ruk later het die twee dames met leë hande uit die water gekom en is ons daar weg.

Toe ons deur Baardskeerdersbos ry, met almal se spanning só opgejaag was deur die perlemoenduikers in ons midde en dis warm,  het ons Marietjie’s Pub & Grill ingeval, want ons was dors.

Ag nou ja. Jajaaaa. Wat ‘n gesukkel om die span dáár weg te kry! Natuurlik was daar ‘n paar voete wat gejeuk het om op die tafels ook te dans, vertel dit nou oor! Ek het toe maar ons bespreking by die Black Oystercatcher gekanselleer, want ek het besef dit gaan te laat word. Die Towerinne het behoorlik weggelê aan die seekos.

Die middag laat is ons terug en het ons ‘n sonsondergangdrankie by Agulhas se uitkykpunt gaan geniet en sit en staar na die suidpunt van Afrika waar die twee oseane ontmoet.

Die res van die aand het ons sommer net ‘n vuurtjie gemaak en rustig saamgekuier. My man het natuurlik die vrouegeselskap vreeslik geniet, en die opmerkings oor die gebraaide skaapstertjies! Stedelinge! 😱😂

Net toe ek nou dink dat ons nou rustig gaan raak, hoor ek konsternasie van die krismisbedspul af! Hul gaan nou skinny dip by Struisbaai se hoofstrand. Elfuur in die nag! Maar dit is helder maanskyn en voor jy kan sê mes, is Hester, Woordnoot, Virgo, Perdebytjie, Lekkervurig en Kameel daar weg! 😱

Doodmoeg, maar doodlekker, dit is wat dit is.

Net terloops, dis hierdie tyd van die jaar:

Foto geleen op Facebook.

Lees gerus die Towerinne se verbeeldingstoer deur ons land hier.

Toortsie

100 thoughts on “Towerinne by die Suidpunt Toortsie se dag 1 as gasvrou

                1. Toorts ek het ‘n groot probleem….as jy vir Loui Koen ken vra hom om asseblief nie ‘n berig en fotos van ‘n klomp kaal vroue wat onder die maanlig swem te plaas nie. Sien my twee kleinkinders hou van môre af saam met hulle ander oupa en ouma op Struisbaai vakansie. As daardie mense en die kinders dit sien is ek in diepe verknorsing!!! Ek soek ‘n bietjie genade vir my uithakkery daar op julle dorpie.

                  Liked by 2 people

                  1. Ek sal mooi praat met hom. Hy is darem baie ordentlik en sal seker nie kaalswemmers op sy voorblad wil hê nie. Maar die agterblad is natuurlik ‘n ander storie. Dalk kan ‘n mens nie die gesigte so goed uitken nie. 😂🥂👙

                    Liked by 1 person

  1. Oe daai skaapstertjies. Ek het vir my man ‘n whatsapp foto daarvan gestuur en hy is nou baie bekaf – dis een van sy gunstelingdisse, maar hier rond sien of ruik jy mos nie ‘n skaapstertjie nie. Hy sê al hierdie gerondkuiery is nou regtig uitspattig, die Towerinne is besig om my te verlei – hy sien daar is sprake van drank en kaalswemmery en hoekom is daar ander mans teenwoordig terwyl hy by die huis moet bly. Ek moet sorg dat ek klaar kuieren by die huis kom! Gmf. Dis baie lekker hier op die suidpunt van Afrika en ek kuier heerlik, so hy sal maar geduldig moet wag.

    Liked by 1 person

  2. Spot maar met die Vaalies! As julle Wildtuin Jouies toe kom lyk julle ook maar heel anders as ons ou Vaalies. Ek wonder of daardie twee “duikers regtig met lee hande uitgekom het. Positief het so n half opgeswelde wang gehad toe sy uitkom. Ek het haar gevra of sy tandpyn het maar sy het net heftig haar kop geskud en vinger op haar mond gesit dat ek moet stil bly. Klink vir my n bietjie fishy!

    Liked by 1 person

    1. Ja ek glo ons Kapenaars lyk vreemd daar in die Wildtuin, maat dat dit ‘n lekker plek is, is baie waar. 😁
      Is dít waar sy die perlemoene gebêre het? Ek dog so stilweg sy het darem vreemde buuste en boude! Maar die polisieman het mos op ‘n veilige afstand gestaan. 😂 Ek wonder steeds wat hy bedoel het met ‘hy weet van ons’ ?

      Like

      1. Al wat ek altyd onthou is my pal in die Kaap het hulle “sopikoppie” genoem, want die pa’s dra mos altyd die kjinders so op hulle skouers en dan moet hulle kort-kort buk by deur in en al wat jy hoor is ma wat sê “sopdiekoppies” (pas op die koppies).

        Liked by 2 people

        1. Nou miet ek bieg. Ek dink nie ons het al ooit regtig geëet daar nie, maar ek verkyk my elke keer wat ons daar kom aan die lieflike, massiewe borde seekos. Ek dink hierdie vakansie is dit op my prioriteitslys om wel daar te gaan eet ook. Nee ag! So lus kan mens mos nie vir seekos wees nie! 😁

          Liked by 1 person

            1. Of dit sou baie lank neem voor ons kon bestel.
              Ons ry die dag om te gaan eet by Black Oystercatcher. Vol bespreek. Toe na Marietjies. Baie besig. Gaan lank vat. Ry terug Struisbaai toe. Probeer 55 Knots. Vol bespreek. Gaan koop vis en chips by Agulhas Seafoods. 😂 Wel, ons het ‘n lekker uitstappie gehad. Daardie dag het my skoonseun ouers gevra. 😊🥂

              Liked by 1 person

  3. Nou leer jy mt ook iets, Toortsie. Ek sal daardie labyrint weer moet gaan (be) soek op my volgende rerige besoek! Jy het my amoer hartverlamming gegee. Ek dig jy het ons weg voir ons due Suidpunt besoek het! En tiw bru g jy ons sowaar weer terug! Jay! Skinnydip in due maanlig! Super pret!

    Liked by 1 person

    1. Ek haak uit Bondels….moet in ‘n harnas gesit word. Jammer jong, die potstorie het uitgeglip voordat ek kon keer. Jy weet jy het my amper versmoor toe jy daardie verekussing oor my gesig gedruk het om my gillery oor die groot skrik te keer.

      Liked by 2 people

  4. Ons kuier nou in dele wat baie spesiaal is en mooi herinneringe inhou. Ek is so bly ek het uiteindelik die duik ding gedoen. Ons het lekker pret gehad Positief. Daardie smokkelaars het nie geweet wat hulle tref toe ons soos wafferse meerminne op hulle afduik nie. Daai een ou het sommer die perlemoene neer gegooi en weg geswem. Ongelukkig het ons ook ons asse presies toe af geskrik toe ons besef wat regtig aan die gang is. Tog nie soveel dat ons ń paar perlemoene gegryp het nie.
    Ons het al baie heerlik ge eet by Marietjies. Hulle platters is to die for. Moet net nie koffie drink nie, dit proe soos die slegste kamp koffie. Ons het een jaar op my verjaardag daar ontbyr ge eet. Manjifiek. Beste is bespreek vooraf.

    Liked by 2 people

  5. Ag ja…hier kom ou agterossie ook…. Toortsie..jou plek by die see is awesome! Ek sal permanent daar kan bly. Mens kan sien dis ‘n kuierplek. Niks fênsie ornamente nie. Jy het ons baie tuis laat voel. En ek bieg nou vandag…daai laatnag swemmery was tops! Veral toe die toppies begin waai!!! Ek sal niks sê nie want ons praat mos nie uit nie…maar dit was heerlik bevrydend om so te baljaar!!! Sorry vir die geraas1

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!