Breipenne galore

Ek het in my leeftyd die waarde van breipenne geleer. Goeie breipenne. Lekker breipenne.

Want, soos alle breiers weet, is ‘n breipen nie ‘n breipen nie ‘n breipen nie.

My ma het baie breipenne gehad, sy het graag gebrei. Ek het altyd geweet dat breipenne duur is, en in my ekstra arm, jong getroude jare, het ek gevoel hoe duur breipenne is. Breipenne is soos goud opgepas.

Oor die jare het ek seker by my ma breipenne gekry, maar ook my eie versameling opgebou. Daar was lang jare tussenin wat ek nie ‘n steek gebrei het nie, tot ek weer begin het.

Nou die dag vat ek my ma se breimandjie huis toe, sy brei nie meer nie. Nou wonder ek skielik of ek nie vir haar wol moet neem nie? In haar mandjie is ook ‘n sak vol breipenne.

Dit was my voorreg om hierdie lieflike breipenne uit te soek en die skewes en een-een penne uit te haal. Hier kan nog BAIE gebrei word! 😁

Dis álmal van daardie lieflike penne wat ‘n mens nie meer kry nie.

Kom, laat ons brei!

Toortsie

22 thoughts on “Breipenne galore

  1. My ma het pragtig gebrei en my dogter het nou nog handgebreide truie wat ouma vir haar gemaak het. Sy het nog, toe sy 94 was, blokkies gebrei vir kussings wat my dogter gemaak het vir ‘n alzheimerprojek. Ek het my kinders se skooltruie gebrei met ‘n breimasjien vir baie jare, maar nooit die breipenne bemeester nie.

    Liked by 1 person

  2. Oooo, die penne laat my ook terugdink aan my ma. Sy het van lang breinaalde gehou omdat sy geleer het om haar penne onder haar arms vas te knyp. Die latere breipenne was altyd te kort vir haar. Sy het spesiale staal penne gehad waarvan sy gehou het. Hul was op einde al gekronkel van al die brei. Maar ander penne wou sy net nie gebruik nie. Sy het ook haar laaste paar jaar net meer stroke gebrei vir nekdoeke. Sy het volgens my maklik duisend truie in haar lewe gebrei. Elke keer as daar n mooi patroon uitgekom het, het se dit probeer.

    Liked by 2 people

      1. Sy was beslis. Ek het meestal Donderdagoggende as ek af was by haar gaan kuier en dan het ons meestal n hele bespreking oor n nuwe patroon gehad. Sy het vir my en Tina truie gebrei vir spreekwoordelike Afrika. Tina het altyd gesorg dat daar nuwe wol is wat sy kon brei. Ai dis mooi herinneringe.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!