Dis eintlik gister, want ek het hierdie bloginskrywing geskeduleer sodat dit vanoggend verskyn.
My neef sou vandag 58 jaar oud wees. Hy was 2 jaar ouer as ek en hulle het so 3 kilometer van ons af gewoon.
Terwyl Dewet in die lugmag was, het hy elke keer my ouers kom groet as hy huis toe gekom het. Dit het nogal ‘n indruk op my gemaak.
Toe, op 26 November 1980, het hy verjaar, twintig geword.
Twee dae later sou hy huis toe kom vir sy verjaarsdag.
Vier lugmagoutjies het saam gevlieg in een van die outjies se pa se vliegtuig. Die weer was baie sleg, landwyd. Daar was blykbaar ‘n probleem met die radio van die vliegtuig. Ek kan nie onthou of hulle wel teruggedraai het nie, maar die boodskap het huis toe gekom dat hulle opgestyg het.
Daar het nie ‘n boodskap gekom dat hulle geland het nie.
‘n Hele week lank het die hele land vir hulle gesoek, hulle kon enige plek wees, veral in die swaar weer. Daar was selfs gevrees dat hulle uitgewyk het vir die weer en in Mosambiekgebied, wat daardie tyd vyandige gebied was, beland het.
Ons grootste vrees was dat die soektog afgelas sou word.
Oral het mense wat ‘n vliegtuig gehoor het, dit gerapporteer. Oral het hulle gesoek.
Gelukkig het een iemand ‘reg’ gehoor. ‘n Hele week later is hulle gevind.
Hulle het die vliegtuig gevind. Slegs 3 meter van veiligheid af. As hulle slegs 3 meter hoër gevlieg het, sou hulle oor die bergtop wees en aan Riversdal se kant, waar hulle veilig kon land.
Maar hulle was nie 3 meter hoër nie.
Ek was in matriek, of eerder, pas klaar met matriek en by ‘n skoolverlaterskamp toe hierdie dinge gebeur het. Dit was voor selfone. Ek vermoed dat hulle alreeds vermis was toe ek na die kamp is, of op een of ander manier het my ouers die boodskap by my uitgekry.
Elke middag met die eenuurnuus, het ek die leiers van die kamp toestemming gevra om wel in die kantoor, waar matrikulante nie toegelaat was nie, die nuus te kon luister, elke dag met dieselfde nuus: Hulle soek steeds na die vier lugmagoutjies wat vermis geraak het in ‘n privaatvliegtuig. Hulle versoek dat enige persoon wat ‘n vreemde vliegtuig opgemerk het, dit sal rapporteer.
Sy begrafnisdiens was in ons huis gehou. So ‘n jongmensbegrafnis trek geweldig baie mense. Hulle het ons woonvertrekke volgesit, ook die stoep en selfs op die grasperk. Wat my bygebly het, was dat ons redelik voor in die stoet gery het na die familiebegraafplaas, so drie kilometer verder. Ons het lank gestaan en wag by die begraafplaas voor die laaste motor oor die bult gekom het. Die hele gemeenskap was daar.
Vir lank het Dewet in my gedagtes bly voortleef, kon ek hom nog tussen ons indink, maar iewers het ons ouer geword, het sy gesiggie nie saam met ons oud geword nie.
Dewet sal altyd in ons harte leef.
Toortsie
Dis so tragies dat ‘n jong lewe so kort geknip is. Pragtig, deernisvol geskryf, Toortsie.
LikeLiked by 1 person
Ja dit was regtig jammer.
LikeLiked by 1 person
So n verlies bly mens lewenslank by. Ek dink die meeste van ons onthou so n hartverskeurende stoet. Ag jy vertel so mooi van die lieflike jongman!
LikeLiked by 1 person
Hy was regtig ‘n lieflike jongman. Lewenslustig. Lief vir perde.
LikeLiked by 1 person
Jy skryf so mooi oor hierdie neef van jou, Toortsie. Met soveel deernis.
LikeLike
Dankie. Ag ek kon net skryf hoe ek dit beleef het, en dalk was dit tyd daarvoor.
LikeLike
So mooi geskryf Toorts. En ‘n jammer gebeurtenis …
LikeLiked by 1 person
Dankie. O Spokie! Welkom! Vir jou het ons jare laas gesien. Gaan dit goed?
LikeLike
Dis so hartseer. 😥
LikeLike
Mens kan agterkom dat julle vir Dewet baie lief was en dat sy lewe, kort as wat dit was, vir baie mense tot seen was. Ons glo hy rus in vrede.
LikeLiked by 1 person
Ja, ek glo ook hy rus in vrede. 😊
LikeLiked by 1 person
Dit is so hartseer. Ek dink as hy hierdie kon lees sou hy weet hoe lief sy niggie vir hom is.
LikeLiked by 1 person
Ek wonder soms of ons dit as kinders besef het. Dit was vir my goed om dit te skryf. Kinders het ook verlies, maar kan dit nie altyd wys nie.
LikeLiked by 1 person
Dit is so. Ek dink ons nuwe generasie ouers gee ons kinders bietjie meer kans om uiting te gee aan hul emosies as wat ons kon. Maar dit het ook nou weer sy voor- en nadele.
LikeLiked by 1 person