Die beste bloginskrywings …

lê verlore langs die stappad.

Is dit met julle ook so?

Die beste bloginskrywings kry ek wanneer ek dit nie kán skryf nie. Dan borrel die woorde sommer so uit in my gedagtes, hulle volg lekker op mekaar, daar is sprankel in.

Maar probeer nou daardie blog skryf wanneer jy tyd het. Jy kry net nie die woorde nie. Dis lomp. Ek kan nie onthou wat ek nou weer wou skryf nie. Dit voel sommer dof, met geen skop of sprankel in nie.

Ek wonder hoeveel, in my oë, regtig goeie bloginskrywings sommer net die afgelope week iewers in die lug in verdwyn het. Ek sê in elk geval nog altyd dat ek ‘n vliegkaartjie na die gat in die lug wil koop. Om al my goed wat in daardie gat in verdwyn, te kan gaan kry. Ek het nooit besef dat my bloginskrywings ook in daardie selfde gat in verdwyn nie!

In die week lees ek in die Bybel van ‘n vrou wat dood neergeslaan het omdat sy gelieg het en dink, dít sal werk by my reeks oor vroue van die Bybel. Dis iewers in die gat in.

Ek gaan stap en my vriendin stop by my, vertel my dat sy die dag haar 93-jarige, invalide, moeder, wie se onthou ook nie meer so goed is nie, gaan neem na haar geboorteplek. Nie dat sy enigsins iets daarvan sal onthou nie, en ek dink: Wat ‘n pragtige storie. Ek het die mooiste woorde in my kop. Nou ja, dis in daardie gat in!

Met die gedagte aan die voetspoor wat jy laat, dink ek dat ek sommer ‘n blog moet skryf oor die voetspore wat spesifieke vroue in die Bybel gelaat het. Eintlik het almal wat genoem word in die Bybel, mos voetspore gelaat. Ek loop en dink aan spesifieke vroue, hoé ek dit gaan aanbied, net om dit te verloor in die gat in die lug!

Sommer net vanoggend het ek met my rekenaar kom sit en gedink dat ek nou sommer ‘n klomp goed gaan skryf. Dalk is die gat nie in die lug nie, maar in my kop, vir al wat jy weet!

Nou ja toe, skryf julle blogs wanneer julle kan, geniet dit, en ek hoop dat julle nie ook ‘n klomp langs die pad verloor nie.

Groetnis

Toortsie

23 thoughts on “Die beste bloginskrywings …

  1. Ons moet maak soos die ware kunstenaars, dit agterop sigaretboksies,teen die muur waarnaas jy jou op daardie oomblik bevind, of op servette skryf, voordat die woorde verdwyn!😄Al probleem, ek rook nie.

    Like

    1. Ek het ‘n snaakse verbintenis met sigaretboksies. My pa en my oom het mekaar gehelp in die boerdery. Later my broer en neef ook op dieselfde manier. Die een kom saai by die ander en die ander een help weer bale maak, ens.
      Dan, die einde van die jaar kom die twee bymekaar, en maak boeke op agter op ‘n sigaretboksie.
      Toe my ouditeurbroer later in die prentjie kom, het hy ‘n stop gesit met hierdie tipe van boekhouery.
      Persoonlik dink ek dit was ‘n goeie manier.

      Liked by 2 people

  2. Nee ek rook ook nie en ja, ek weet van hierdie gedagtes wat sommerso wegraak. Ek het al gesê ek moet my selfoon saamvat en die voice recording funksie gebeuik, maar ek vergeet pal my selfoon in my laai 😧

    Like

    1. Maar wanneer ek tyd het, is daar ook net mooi niks om te vertel nie en hier het ek vergeet van hierdie blog wat reeds geskryf was, toe gebeur daar sommer 2 op een dag! Dis nou behoorlike vermorsing!

      Like

Gesels saam, asseblief!