Saterdaggedagtes oor roetine

Ek is nie so ‘n goeie roetinemens nie, en ek sukkel nog my lewe lank om my roetine in te pas by die ‘algemene’ roetine, want sien, daardie algemene roetine wat almal volg, vra dat jy ‘n oggendmens moet wees. Vroegoggend moet jy opstaan, stiltetyd hou, jou gesin voed, blablabla en teen die tyd wat ék eers wakker word, moes jy omtrent al ‘n dag se werk gedoen het.

Verder is daar nog ‘n sterk mate van te veel belangstellings en dat my aandag maklik spring van die een ding na die ander, wat roetine ook nog beperk. En ek is ‘n ‘goeie vrou’ wat, as my man nóú gehelp wil wees met sy rekenaar, los waarmee ek besig is en hom loop help. Of gou vinnig kos pad toe neem, of wat ook al. Roetine daarmee heen.

Dit laat my dink, ek wonder of daardie klapper nog reg is? Ek sal moet kyk.

En terloops, hoe spel ‘n mens roetine? Lyk my darem ek het dit reg.

Dus, my hele lewe lank, werk dit so: Is ons by die huis, werk my lewe op een manier, ek maak op ‘n sekere manier kos. Is ons by die see, werk alles weer anders. Kuier ons by mense, nóg weer anders. Aanpasbaar, maar elke keer moet die enjin weer van voor af begin.

Ek besef nou dat gesondheid die afgelope 18 maande sedert ons op die dorp woon, agteruitgegaan het. Gesondheid is nie eintlik die regte woord nie, want ek is gesond. Dis net dat ek byvoorbeeld nou al 18 maande sukkel om weer in ‘n roetine te kom wat betref my rugoefeninge. En as ek dit nie doen nie, kreun ek myself in die nag wakker van pyn. En nou pendel ons ook nog en dit foeter dit ook deurmekaar.

Sedert ek in die dorp woon, sukkel ek ook om weer ‘n lekker staproetine te kry. Ek dink al hoe meer dat dit nie die gemaklikste manier is om met die honde te probeer stap in die dorp nie. Elke erf het twee honde, nes ons, dis ‘n geruk en gepluk aan die leiband, dan moet ek vastrap vir wat ek werd is, en dan moet ek trek. Dit lyk nou of dit beter werk as ek eerder op ‘n ander tyd van die dag stap as gewoonlik, dan kan ek sonder die honde stap omdat dit veiliger voel daardie tyd van die dag.

‘n Mens sukkel ook om afstand te stap in die dorp, kom ek agter. Dit was baie makliker op die plaas wat ek sommer net die pad gevat het.

Stadig, maar seker kom dinge in plek. Nou moet ek ‘n bietjie ernstig fokus op my oefenroetine, vir wat dit werd is.

Groetnis

Toortsie

19 thoughts on “Saterdaggedagtes oor roetine

  1. Roetines is baie goed… Help mens om ding gedoen te kry sonder om iets te vergeet… Ons het September 2017 by nuwe huis ingetrek Januarie 2018 ‘n nuwe klein dogtertjie ook in die gesin verwelkom. Nou ja, roetine met die jongste werk goed, maar sedert ons getrek het werk geen ander roetine in ons huis nie. Ja, ek weet dit is al meer as ‘n jaar, moet tog nie jou gesig so vir my trek nie… Ons sal wel weer in roetine kom, ons sal almal net ‘n bietjie meer moeite moet maak.

    Liked by 1 person

      1. Ons sukkel maar net om aan te pas. Dit vat langer om in die bed te kom en ook om op te staan van dat ons in die nuwe huis bly… Weet net nie hoekom nie, dit is nie omdat ons nie probeer nie… 😂

        Liked by 1 person

  2. Ek sukkel op die oomblik met my staproetine (ek blameer die weerburo) en nou is my humeur ook uit roetine. Hopelik lê daar beter dae voor. Hoekom kry jy nie iemand (‘n buurvrou) om saam met jou te stap nie? Safety in numbers.

    Liked by 1 person

      1. Toortsie, ek het in Namakwaland grootgeword, daai halfwoestyn met ‘n suidoostewind wat die sand so hard teen jou bene piets dat jou skoolkouse leer. Ek hààt wind. En ek het grommets in my ore. Moenie ear plugs voorstel nie – dis net nog iets waaroor ek sal kakenkerm. Ons wag vir beter weer 😉

        Liked by 1 person

  3. Daardie stap met die honde het my ook grys hare gegee. Ek het egter 5 uur opgestaan om te gaan stap met hulle(dis in die somer in SA) dan slaap die meeste honde en mense veral nog. Middae het ek in die kar geklim en ver in die veld gaan loop(toe kon ek dit nog doen) Hier stap ekmy lang stap net voor nege want dan is al die kindrs en mammas omtrent in die skool of huistoe. Hier stap hul eers later in die oggende of vroeg middae. My roetine is baie belangrk vir my. As iets voorval en dit is terwyl ek n seker ding doen raak ek sommer maklik omgekrap wat weer my bloeddruk laat styg en maak dat ek nie lekker voel nie! Ha ha, as mens ouer word is dit moeilik om party dae by te hou met alles.

    Liked by 2 people

  4. Ek sukkel ook met die oggend ding. En oefeninge het hierdie jaar by die huis uitgevlieg toe hulle hoor dat reunie ingetrek het. Nou is reunie weg, maar ai, oefeninge wil nog nie terugkom nie en dis amper Desember!

    Liked by 1 person

        1. En die beste van alles is, ek WEET dit is goed vir my. Ek het dit nou getrou vir 5 dae na mekaar gedoen. Dadelik voel ek beter, ek is baie meer soepel, ek drink minder pynpille, ek slaap beter, doen die oefeninge nou al in ‘n korter tydjie. Sal ek tog maar aanhou!

          Like

  5. Hond stap in strate is voorwaar ń moeilike ene. Ek mis ook doe plaas Toortsie. Op Wellington het ons op ń wynlamdgoed gewoon en stap tussen die wingerde was heerlik.
    Ek erken nou ruiterlik ek sukkel met roetine. Dis seker ń slegte eienskap, maar te veel roetine maak my dood.

    Liked by 1 person

    1. My roetine lyk net bietjie anders as ander s’n. Die ding is, as almal in die huis aandring op hul eie roetine, kan daar ‘n ongemaklike skuurdery ook afgee. Daarom is dit soms goed as een persoon dalk ‘n bietjie aanpasbaar kan wees.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!