Verby grense

Daar waar ek in die pad inkom, staan altyd rylopers, in die hoop vir ‘n saamrygeleentheid.

Ek moes Kaap se kant toe gaan, maar eers gou ‘n draai in die dorp gaan maak en ‘n netjies geklede swart dame vang my oog. Sy het my nie gesien nie, ek het mos in verkeerde rigting gery. Toe ek weer daar verbyry, besluit ek skielik om haar op te tel. Ek weet dit is verskriklik gevaarlik en gewoonlik doen ek dit nie, maar ek ry met die bakkie en ek sê sy kan saamry as sy agterop sit, die passasiersitplek lê reeds vol goed.

Maar die gewete skop in en ek sien dat sy nie baie gemaklik sit nie, sy trek ‘n truitjie aan om haar teen die koue te beskerm en ek weet nie of die bakkie regtig skoon is agterop nie. Ek stop net daar en sê sy moet voorin klim.

Wat ‘n seën! Wat ‘n pragtige dame! Ons gesels al die pad soos twee ou vriende en sy vertel my dat sy en haar twee klein kindertjies al jare gelede uit Zimbabwe Kaap toe gekom het in die hoop om iets te kan inbring om vir haar kinders te sorg. Sommer kleintyd moes die kindertjies leer om self reg te kom, sy moes gaan werk vir ‘n inkomste.

Aanvanklik het sy as huishulp gewerk, maar haar gesondheid het ingegee en sy het besef sy moet iets doen waar sy meer beheer oor haar tyd het en het ‘n eie besigheid begin.

Omtrent een maal per maand neem sy die bus tot in Johannesburg waar sy haar voorraad aanvul en dan kom sy naweke na ons dorp waar sy van huis tot huis loop en die klere verkoop. Die mense betaal af vir die ware, dus moet sy weekliks almal weer naloop om haar geld in te vorder, selfs op plase ook.

Sy maak van duimgooi gebruik, want hier is mos nie openbare vervoer beskikbaar nie. Ek vertel haar tog dat ons plaaslike taxi ook Kaap toe ry.

Ons praat diep dinge, hoe God vir haar sorg, hoe sy pakke kos koop en dit met die bus stuur na haar verhongerde familie in Zimbabwe. Sy vertel hoe daar nie kos in die winkels is nie en die mense regtig swaar kry.

Haar seun is agtien jaar, en wil begin vakansiewerk as pakker doen, maar sy sien nie kans nie. Ek moedig aan: Laat hom gaan vakansiewerk doen, maar leer hom om sy beste te gee, selfs al is dit nie ‘n lekker werk nie. Hy leer vaardighede aan wat hom in die toekoms baie sal help. ‘Regtig mevrou? Nou gee mevrou vir my hoop.’

Ja, ons raak moedeloos dat Suid-Afrika die plek is waar almal is, maar hierdie kort treetjie oor grense heen het my net weer eens laat besef hoe dankbaar ons steeds kan wees. Hierdie vrou is ‘n sterk vrou, ‘n inspirasie, wat haar kant probeer bring om op ‘n eerlike manier ‘n lewe vir haar en haar kinders en ook haar mense tuis te probeer maak.

Groetnis

Toortsie

22 thoughts on “Verby grense

    1. Ek dink soveel misverstande kom omdat ons nie weet hoe die ander persoon dink nie. Ons viel bedreig deur dit wat ons nie ken nie. En ja, dis ‘n verskriklike groot risiko om iemand by jou in die kar te laai. Hierdie jeer het dit gelukkig goed uitgedraai.

      Liked by 2 people

        1. Maar in SA moet ons ook versigtig wees. Sjoe! Dis ‘n moeilike een. Ek dink nou nog aan Son wat so kwaad was toe sy die man in die reën sien stap met sy sakke kruideniersware, maar die omstandighede in ons land maak dat sy hom nie optel nie.

          Like

      1. Ek stop nog gereeld want ek bly n entjie van die winkels af…dan laai ek mense op…maar so tipies…laai maar ook net mense op wat soos ek lyk….te bang vir ander…so freakin sleg.

        Liked by 1 person

  1. Ek ken ook so n vroy. Haar naam is Lizzie. Sy verkoop dikwels gevlegte mandjies ens. Ek h haar eendag spesiaal Swellendam toe gery( dit was in d dae toe my man weggewerk het en ek dus alleen was en baie tyd gehad het. Ek het haar baie lanklaas gesien. Ek laai wel mou en dan mense op- nwt vroue, wat tussen Struisbaai en Bredasdorp hike. Ek glo maar hulle is “veilig”.

    Liked by 1 person

    1. Hierdie een is Mary. Ek het baie mense opgelaai toe ek nog op die plaas was. Vroue. Altyd gedink dis plaasvrouens. Ek is maar bang om mans op te laai, ek së dit vir haar, toe sê sy: And then you picked me. 😁

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!