Laat ‘n voetspoor

My kop werk oortyd en eintlik het ek nie nou tyd om hierdie te tik nie, maar die woorde maal deur my kop. ‘Laat ‘n voetspoor.’ Dis die VLV se tema vir volgende jaar. Ek is nie seker of dit net VLV Kaapland is en of dit landwyd is nie, dit maak in elk geval nie saak nie.

Laat ‘n voetspoor.

Kyk net hierdie video. ‘n Groep branderplankryers het besluit, genoeg is genoeg, en begin om die see skoon te maak. Hulle laat beslis ‘n ander voetspoor as die ouens voor hulle, wat net gemors het waar hulle gaan.

Die vermindering van plastiek was vanjaar groot in die nuus en hier en daar begin mense gehoor gee. Ons gebruik nie meer plastieksakkies nie, sukkel ons af as in die winkels dat die mense moet leer dat hulle nie my seep en my goed in ekstra sakkies te moet sit nie, dat dit nie nodig is om die groenpeper of die patat in ‘n sakkie te sit nie, en dat hulle sommer die plakkertjie op dit kan plak.

Ons kyk na die voetspoor wat ons laat met ons watergebruik en leer om water in die stort op te vang, om al die afloopwater in die huis na ons tuin te gelei. Ons hergebruik die stort se water in die toilet, maak seker dat die wasmasjien vol is as ons dit aansit, was nie onnodig ons klere nie, maar dra dit selfs ‘n dag of wat langer. Dieselfde met ons lakens.

Maar waar ons regtig ‘n groot negatiewe voetspoor laat, is met ons elektroniese ware. Hoekom móét ons elke 2 jaar ons fone opgradeer terwyl hulle nog goed werk? Ek het vir my ‘n foon gekoop en het nou ‘n kontrak sonder ‘n foon en ek is seker dat my foon ‘n hele paar jaar gaan werk. Hoekom opgradeer as dit nie nodig is nie?

E-lesers. Jaaaa, ons het gedink ons spaar baie deur eerder e-boeke te koop as gewone boeke, maar ons het nie daaraan gedink dat ‘n e-leser ook vervang wil word op ‘n gereelde basis nie en ek kan nie help om te wonder watter voetspoor die vervaardiging en later, die weggooi daarvan laat nie.

Ons kan positiewe voetspore los, of negatiewe voetspore. Die keuse is ons s’n.

Watter voetspoor los ons in die hart van ‘n ander mens? Sê ons mooi woorde, of afbrekendes? Selfs al konsentreer ek daarop om positiewe goed te sê, glip daar soms negatiewes ook uit.

Laat ‘n voetspoor deur die bietjie kos wat oorbly, vir die ou op die hoek van die straat te gee. Of brei of hekel ‘n serp en hang dit daar waar die mense wag vir ‘n saamrygeleentheid. Of wat van ‘n keps in die winter?

Mooi voetspoorgeleenthede is baie, dalk moet ons net weer ‘n bietjie daarop fokus. Watter mooi voetspoorgeleenthede stel jy voor?

Groetnis

Toortsie

18 thoughts on “Laat ‘n voetspoor

  1. Snaaks dat jy nou so praat. Ek het gister n clip gekyk van n vrou in Nederland wat n herstel winkel vir gebreekte elektronika begin het. Dit word vrywillig deur kenners beman wat dan saam die kliënt die ware probeer herstel. Is dit nou nie n oulike idee vir so n voetspoor nie!

    Liked by 2 people

      1. Ek het al so hier en daar vertel van ons skoonmaak- en rommelverwyderingspogings. Kyk onder zwerfie op my blog. Ons het nou begin saamwerk met ‘n herwinningsprojek en sal nog daaroor ook skryf – sodra my blogvakansie verby is.

        Liked by 1 person

          1. Ek het ‘n aanlyn vorm ingevul en my siektesertifikaat saamgestuur. Ek ly aan geweldige depressie a.g.v. van te veel wind. Dis nou soos in wind wat waai daar buite waar ek graag wil gaan stap en parkrun doen en swem en op die strand rondlê. Ek sal terugkeer wanneer die wind gaan lê.

            Like

  2. Ons glo verseker ook nie aan opgradeer elke twee jaar nie. Gebruik fone 5 tot 8 jaar sonder om te sukkel. Die laaste een kon nie meer al die nodige toeps hanteer nie en ek moes toe ‘n ander een kry. Skootrekenaars is ook nou by die 8 of 9 jaar oud…
    Ons probeer nog ander dinge en plekke… 😊
    Ja, en voetspore en harte… Daardie wag voor my mond en die vlam van die tong… Werk ook daaraan. Ek wil ook nie enige een se vuil voetspore in my hart toelaat nie… Soms moet ons skoon maak, vergewe en vergeet… Hou ons harte skoon.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!