My gedagtes rondom die Camino

Ek pen sommer net my gedagtes neer. Of ek ooit die Camino gaan stap en wanneer ek dit gaan doen, is nog ‘n ope vraag.

Intussen lees ek daaroor, luister wat mense wat dit al gedoen het, sê, luister na raad, en dink hoe en hoekom ek dit sal doen.

Soos ek reeds geskryf het oor hoekom ek dit wil doen, sal dit vir my ‘n manier van reis wees. Dis nie dat ek een of ander iets wil gaan verwerk nie, en ook nie iets wil bewys nie.

As my lewe aangaan soos dit nou doen, sal daar ‘n tydfaktor wees en kan ek nie onbepaald gaan nie. Ek dink dat ek ‘n maksimum van 20 dae sal kan stap as ons dit mooi inpas. Twintig dae is te min vir enige van die Camino-roetes, so ek kan sommer nou al in my hart die besluit maak en rustig daaroor raak, dat ek nie ‘n volle roete sal stap nie.

Dan is die groot vraag hoe belangrik dit vir my is om die laaste 100 km te stap en ‘n Caminosertifikaat te kry. Sê nou ek beplan om wel die laaste 100 km te stap en my voete gee in, of iets gebeur en ek kry dit nie reg nie, mag ek dalk teleurgesteld terugkom.

Besluit ek egter om die Franse roete te stap en te begin by Saint-Jean-Pied-de-Port met die wete dat ek in elk geval nie die volle roete gaan doen nie, kan ek dit dalk baie rustiger aanpak en kyk wat my liggaam vir my sê, met niks wat my druk nie. Sou ek dan so voel, hoef ek net 15 km op ‘n dag te stap, in plaas van 25 of selfs meer, net om so veel as moontlik kilometers kaf te draf. Sou ons voel om ‘n dag te rus, sal dit dan ook nie saakmaak nie, omdat ons sommer net die ervaring geniet.

Ek dink regtig dit is hoe ek my kop moet instel, om elke oomblik daarvan te geniet, nie gejaagd te voel omdat ek die eindpunt móét haal nie, en sou ons liggame vir ons sê dat dit nou genoeg is omdat ons voete dalk oppak, of wat ook al, dat ons daarna sal luister en dan sommer net die omgewing geniet en vakansie hou.

Dit is hoe dit nou vir my sin maak. Môre lyk dit dalk anders, wie weet? En of ek dit regtig sal doen, sal net die tyd leer, my lewe hang gelukkig nie daarvan af nie.

Mooi loop!

Toortsie

15 thoughts on “My gedagtes rondom die Camino

    1. Ja, die gesprek kan nog interessant word, maar eers moet ek vir manlief oortuig om saam te gaan. Ek dink nie hy sal my heeltemal allern laat stap nie, die jans is te groot dat ek verdwaal en agter die ystergordyn beland!

      Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!