Natalherinnering

Voor die Towerinne heeltemal van hulle reis deur Natal vergeet en saam met Lekkervurig by Graaff-Reinet kuier, wil ek darem my laaste stuiwertjie in die armbeurs gooi oor Natal. Dis nou dalk nie die Suidkus nie. Ek het eers as getroude gehoor van die Suidkus en die Noordkus. Hier waar ons uit die Kaap getoer het, is ons sommer Natal toe.

Ek was in standerd 2 toe ons die eerste keer deur Natal is, tot in Lorenco Marques, wat natuurlik nou Maputo is, en ook deur die wildtuin. By Swaziland wou hulle almal se vleis en goed konfiskeer wat ons gehad het, maar my ma weet hoe sielkunde werk en het van die gaar kos vir die doeanemanne gegee. Ons het die dag daar gebraai by die grenspos en my broer-hulle het sommer die kokosneute wat hulle by die vorige mense gekonfiskeer het, by ons in die karevaan gelaai.

In Natal het ons by Winklespruit gebly en sommer daar in die swembad geswem en in daardie omgewing rondgery. Hoekom sou my rok op ‘n stadium nat wees? Sou ek in die rivier geswem het met klere en al? Geskok is ek nou! Op pad terug Winklespruit toe het ek toe my pa se trui aangetrek solank my rok in die venster gewapper het om droog te word.

Die speelpark in Durban was natuurlik ‘n wonderlike belewenis en ek kan nie eintlik onthou wat ek daar gespeel het nie, behalwe dat ek by een van die stalletjies ‘n nommer moes raakgooi met ‘n bal en toe ‘n baie mooi glas gewen het.

Heelwat jare later was ons weer daar. Ons en vriende van ons. Ons dogtertjies was seker so 2 of 3 jaar oud. Daar is sulke oulike karretjies, Dune cars, en ek en vriendin besluit dis nét reg vir onse ou dogtertjies. Genade! Dit was gevaarlike karretjies. Ná die eerste rondte kom die tweetjies verby en kyk ons met sulke half verskrikte ogies aan. Toe hulle die tweede keer verbykom kan ons sien dis nie meer snaaks nie, gelukkig stop dit toe na drie rondtes. Die kinders het geklou vir al wat hul werd was en ek en vriendin het ons amper natgemaak van die lag! Dit was natuurlik ‘n senuweeagtige lag, maar ja.

Dis daardie selfde jaar wat ons in Natal vasgesneeu het. My kind het gesê dit was alles my skuld, want ek het vir almal gevra om te bid vir sneeu omdat ons Golden Gate toe gaan. Wat ‘n belewenis! Toe ons oor die Van Reenen Pas ry, het dit net oopgemaak en die lorries wat vasgesit het in die pas, kom van voor af met sneeumanne op die enjinkappe.

Daar is nog stories, soos toe ons in die HOP huisie geslaap het, maar julle kan self daar gaan lees.

Lees meer van die Towerinne se verbeeldingstoer deur die land deur op hierdie skakel te kliek.

Toortsie

Advertisements

18 thoughts on “Natalherinnering

    1. Ek dink ons het dit al oor en oor vir hulle vertel. En ons staan daar en kan niks doen nie en hulle klou vir al wat hul werd is! 😱 En as ons nou nog daaroor praat, raak ons histeries. Ek dink dit was skone senuwees. Ek dink darem as dit regtig gevaarlik geraak het, sou ons geskree het dat hulle dit moet stop.

      Liked by 1 person

    2. Frannie, ek sê elke keer wat ‘n kind iets oorkom, dankie vir die Here vir al die kere wat Hy my kinders beskerm het, wat ek dalk dom was of onverwntwoordelik, en selfs nie dit eers besef het nie en sommer net dat hulle heel anderkant uitgekom het. Ons was soms rof! Jy weet, op die plase word die kinders maar rof groot. Dis net genade as hul heel anderkant uitkom.

      Liked by 1 person

  1. Dis darem ander soort tye gewees daardie. Ek het ook maar maar eers toe ek groot was Natal en die see leer ken. My man was al 45 jaar toe hy die eerste keer die see gesien het. Hy het geglo daar is nie bome by die see nie. Na die eerste keer kon hy nie genoeg kry nie. Hy het bv nie besef dat die golwe jou omgooi nie. Ewe braaf stap hy die see in, en met wat die golf kom slaat hy hom onderstebo. Hy was 6vt 4dm en het 110kg geweeg! Alles was vol sand. Hy het bietjie ongelukkig gevoel maar dit tog geniet.

    Liked by 3 people

    1. 😁 Ek het weer met die see grootgeword, maar kan nie behoorlik swem nie. My ma was lief vir swem, maar my pa het ‘n watervrees gehad omdat sy broer verdrink het. Al ons neefs en niggies het daardie vrees geëerf. Dis nou eers in die volgende geslag nek omgedraai. Ek us nie fobies nie, maar hou nie daarvan dat my kop onder water gaan en ander mense aan my raak as ek in die water is nie.

      Like

      1. Dis tog maar iets wat n mens bybly. Ek het self eendag in die swembad gespring min wetende dat ek baie korter as my vriendin was. Haar kop het bo die water uitgesteek en myne het toe ondr die water verdwyn. Dit het my so laat skrik dat ek toe nie daarvan gehou het om werklik met my gesig in die water te wees nie. Ek swem wel maar daar moenie ouens naby wees wat my onder water laat gaan nie.

        Liked by 1 person

  2. Ek let meer en meer op dat almal se see-herinneringe draai om hulle vroeë kinderjare. Ek was nooit as kind in Natal nie, maar ek onrhou goed hoe het my pa laat swem by Muizenberg, die wind op Melkkbosstrand en dan ons vakansies in Hondeklipbaai toe ek nog ‘n tjokkertjie was en Hondeklopbaai ‘n klein-klein dorpie. Heerlik. Ek is bly jy het ook ons wêreld mooi beleef.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s