Spinasie op die stasie

Ek was nog altyd lief om ‘n bietjie spinasie in my tuin te hê. As jy dit eers het, hou dit aan met groei en jy kan na hartelus pluk wanneer jy nodig het.

In ons dorpstuin was dit weer so. Maar nou maak manlief tuin en die spinasie wat net daar staan, werk op sy senuwees. Een dag sny hy hulle almal af, met die doel dat dit weer sal uitgroei, maar nooit weer is hulle dieselfde nie. Die peste en plae val hulle aan. En Toortsie se wange is dik.

Intussen is ons besig om te verhuis en hy maak solank tuin by die nuwe huis. Hy plant bome en maak groentetuin, te mooi. Die spinasie en pietersielie en ander kruie groei welig.

Manlief dra spinasie aan. Wasbakke vol! 😊 Dit bly sommer in die een kombuiswasbak lê en as ek water gebruik, word hulle natgespat en bly dit vars en lewendig.

Intussen doen Toortsie navorsing: Elke moontlike resep wat spinasie bevat word bekyk hoe dit Bantingvriendelik voorgesit kan word. Dis spinasie in die slaai, spinasie in die bredie, spinasie en skelvis, spinasie in hoender, spinasietert, ryk en romerige spinasie, …

Manlief noem so terloops dat ons nou net spinasie eet.

Net toe ek dink ek het die hoop spinasie gewen, lê daar ‘n nuwe, vars pluksel, ‘n hele wasbak vol!

In ‘n restaurant merk hy op dat ek moet kyk op die spyskaart, daar is spinasiegevulde biefrolletjies. Hy help ook nou al reseppies uitsoek!

Nou na, spinasie sensasie, ons gaan STERK word, as Pop-Eye reg is!

Toortsie

Ns. Onthou, as julle wil weet hoe om spinasie lekker voor te sit, vra net vir Toortsie. Sy eet, leef en droom spinasie.

17 thoughts on “Spinasie op die stasie

    1. Ek het een keer gelees dat die ysterwaarde van spinasie dalk nie reg weergegee is nie. Of dit waar is, weet ek nie. Intussen werk ek die groenigheid maar oral in. Vanaand? Omelet met spinasie en kaas. 😂

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!