Die ‘joker’-kaarte in vandag se lewe

Die Joker. Daar is gewoonlik twee Jokers in ‘n pak kaarte. Ek weet nou nie wat die Afrikaans daarvoor is nie. Skoppensboer? Daardie lekker kaart om in jou hand te hê en te gooi en almal te ontwapen. Die kaart wat jy uitgooi as jy nie weet wat anders om te gooi nie. Die kaart met die mag, ‘n kaart wat almal graag wil hê.

In die gewone lewe is daar ook sulke kaarte. Jokers. Kaarte wat mense op die onmoontlikste tye uitruk wanneer dit hulle pas, met verskillende redes natuurlik. Dalk wil die persoon iets wegsteek. Dalk is hy in ‘n hoek gedruk en moet dan van die Joker gebruik maak om uit die hoek te kom. Dalk roer die persoon nou iets aan wat te naby aan jou vel kom en maak dit jou ongemaklik. Dalk hou jy sommer net nie van wat die persoon sê nie, en wil hom of haar ontwapen, dan speel jy die Joker.

Ek kan nou aan drie sulke Jokers dink, maar ek is seker daar is nog:

Rassis

Oordeel

Inmeng

Verskeie vorms van selfbejammering

Wat vir my die interessantste is, is dat die persoon wat die kaart die graagste gooi, soveel keer self agter die deur staan, dat hy baie keer eintlik net dit reflekteer wat in sy eie hart aangaan.

Die ou wat ‘rassis’ skree en almal van rassisme beskuldig, is baie keer die grootste rassis van die lot.

Die ou wat so graag ander mense beskuldig van ‘oordeel’, is baie keer baie meer veroordelend as wat die persoon wat hy beskuldig, kan wens om te wees.

Wat vir my skreeusnaaks is, is wanneer iemand net hulle mening gee oor van die taboe-onderwerpe soos homoseksualiteit, of tattoeermerke, of halloween, of wat ook al, hul sê dalk net dat hulle nie meedoen nie, hulle sê niks verkeerds van ‘n persoon wat dit doen nie, raak die ouens wat ‘oordeel’ skree, so persoonlik, so veroordelend, die kerk word onmiddellik ingetrek, asook hulle met die Bybels onder die arm. Hulle was nie eers naby nie, maar hulle word uitmekaar geskeur deur die ouens wat die nie-eers-oordelaars veroordeel, my mond hang eintlik oop.

Inmeng. Dis vir my tog te mooi dat dit gewoonlik ‘inmenging’ is as die persoon iets sê waarvan jy nie hou nie, maar dieselfde kan ‘ondersteuning’ wees as jy wel daarvan hou. Interessant.

Dalk moet ons, ek ook, versigtig wees met die Jokerkaarte wat ons gooi. Dalk moet ons eers ‘n bietjie selfondersoek doen en wonder, wat is die ware rede hoekom ons so ‘n kaart sou wou gooi. En dalk, net dalk gee die persoon maar net sy eerlike mening, wat dalk van myne verskil, en moet ek dit respekteer, net soos ek wil hê hy moet my mening respekteer, wat dalk anders is as syne.

Toortsie

22 thoughts on “Die ‘joker’-kaarte in vandag se lewe

  1. Daar word dalk deesdae ‘n bietjie te veel gekonsentreer op alles wat gesê word. Soms sê ‘n mens iets sonder bybedoelings en die uitlating word heeltemal verkeerd verstaan. Maar omdat dit die neiging van sosiale media is, moet almal op die bandwagon spring. Nie baie “sosiaal” nie, is dit?

    Liked by 4 people

    1. Hoor hierdie een: Ons dorp hou ‘n raserige saamtrek. Iemand vra wat gaan aan? Ek antwoord dat dit ‘n so ‘n saamtrek is, dat dit maar ’n geraas is, dat dit baie geld inbring vir die dorp. My gesig word gewas. Hul sou nooit van my dink om so iets te sê nie. Ek sê dat die prys hoog is, veral as jy dink die lawaai begin al 3 uur in die nag, maar elke diertjie het sy plesiertjie, so dis reg. Toe word die kerk ingetrek en die dorpsmense se ondankbaarheid en ‘n oom wat die ou jare gelede die man amper verongeluk het en ek sê die mense van die saamtrek is diere, wat ek nie gesê het nie. Totaal die kluts kwyt. Nou ja, 10 pakke kaarte se Jokers is daardie dag gegooi en ek is alles wat sleg kan wees, ek verteenwoordig sommer die hele dorp se mense en se daaisoorthaters en ek weet nie wat alles nie.
      Die mooiste van alles was dat ek net ‘n feit genoem het en dat hulle my eintlik glad nie pla nie en dat elke diertjie het sy plesiertjie beteken dat ons elkeen doen dinge wat vir ons lekker is, niks te doen met ‘n verwysing na diere nie.
      Ek het my onttrek en gevra dat die persoon wat die post opgesit het, dit afhaal, want elke keer wat iemand anders durf waag het om op te kom vir my, is ek nog swarter gesmeer.
      That’s life. 😁

      Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!