Vuurfobie

Ek het al geskryf oor my vuurfobie wat kleintyd ontwikkel het toe daar in die  kamer waarin ek geslaap het, ‘n kortsluiting ontstaan het en ek amper versmoor het van die rook. Gelukkig het my ma iets in die kamer kom doen en daarop afgekom.

‘As sy nie toe na die kamer gekom het nie, sou ek versmoor het.’ Oor jare het ek hierdie fobie gevoed en het dit groter en groter geword. Soveel so dat as ek op die Bredasdorp/Swellendampad ry en ek sien die berg brand by Heidelberg, het ek angstig geraak. Sou daar iewers iets op die plaas brand, sou ek gaan kyk of dit veilig is. Ek was bang dat ‘n kar omslaan, want dit kan aan die brand slaan. Donderweer kan ‘n brand veroorsaak.

Kort nadat ek Transformasie Gebedsbediening (Transformation Prayer Minsistry, TPM) begin doen het, wonder ek een dag oor hoekom ek hierdie fobie het. Op my, toe nog, onseker manier, het ek TPM op myself toegepas en ek is nie seker of ek heeltemal by die leuen oor myself uitgekom het nie, maar ek het besef dat daar iets baie groots is wat ek misgekyk het: Dat Gód gesorg het dat ek nie versmoor nie, dat dit Hy was wat my ma kamer toe gestuur het en ek dus veilig was en die brand gekeer kon word.

Soms het ek daarná gewonder: Is my fobie nou genees, of nie? Daar was een keer ‘n brand in die berg net agter ons plaas, en my man het daar aangekom en gevra of ek weet wat aangaan, en ek het doodrustig vir hom ‘ja’ gesê. Gewoonlik sou ek teen daardie tyd al my goedjies gepak het en gery het.

Saterdag, met die brand wat dreigend nader kom, was dit regtig vir my ‘n toets. Is my fobie genees, of was dit net ‘n foefie? Het ek my dit dalk net verbeel?

Ja, ek hét die vuur staan en kyk om te sien in watter rigting hy hardloop. Vir ‘n rukkie wou die angs kom omdat ek nie kon dink hoé die vuur sou stop nie. Ja, ek wás bang dat dit om ons, oor ons, kan hardloop. Maar ek was nie so angstig soos ek gewoonlik was nie. Ek was eerder bekommerd dat die troutent kan brand, en ek was bekommerd oor die skade wat ons én elke boer wat deur die vuur geraak kan word, sou kry. Ek was bekommerd dat, terwyl ons weg is, die vuur kom en my honde nie kan vlug nie omdat ons die hek toemaak dat hulle nie rondloop nie.

Maar ek was nie angstig uit vrees dat ek iets sou oorkom nie. Sou die vuur nog nader kom, was dit sekerlik anders, maar ek het totaal anders opgetree as wat ek die afgelope 50 jaar doen.

God is groot.

Toortsie

22 thoughts on “Vuurfobie

    1. Troue was baie lekker. Die mooiste hoor ek Sondag. Dit brand toe Saterdagaand naby die huis en almal was maar stilweg grillerig om te gaan slaap met die brand só naby.
      Iemand het blykbaar opgemerk dat dit okay sal wees, want ek is baie banger as almal daar, ek sal betyds waarsku! 😱
      Gelukkig het ek die hele aand ‘n voertuig met ‘n rooi liggie op sy dak sien beweeg en het vertrou dat hy ons sou kom waarsku as ons moes ontruim.

      Like

  1. ‘n Mens kan soms nogal totaal onsinnige vrese met jou saamdra – nie dat ek sê die vrees vir brand is onsinnig nie;jy moet sien hoe brandbewus is ons hier in die bos – maar om paraat te wees en iets so te vrees dat dit jou lewenswyse strem, is twee verskillende dinge. Dis gewoonlik ‘n onaangename voorval uit jou verlede, en veral jou kinderjare, wat dit in die eerste plek verooraak.

    Liked by 1 person

  2. Fobies is sulke versmorende monsters wat ons van lig en lewe beroof, iemand wat nog nie daarmee geworstel het nie verstaan nie hoe totaal buite jou beheer dit raak nie, net ons oorgee en God se groot genesende krag kan ons kom los maak. Hallelujah dat Hy vir jou kom losknoop het.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!