Butternut en Banting

Iemand vra of ons butternut, of eerder, botterskorsie, mag eet as ons die Bantingleefstyl volg.

Ja, ons mag botterskorsie eet as ons die Bantingleefstyl volg, maar …

Botterskorsie is op die oranjelys, en ons weet mos dat ons oranjelysitems net in beperkte hoeveelhede mag eet.

Sommer net weer ter verduideliking:

Van die groen lys mag ons eet soveel ons liggame benodig.

Rooi items? Glad nie. Niks. Nul.

Oranjelys, soos aangedui, maar die oranjelys lees jy nie en, en, en nie, maar of, of of.

Terloops, pampoen is op die groen lys, dis net botterskorsie wat op die oranjelys is. Jy mag een en ‘n halwe koppievol botterskorsie per dag eet, maar as jy soveel geëet het, mag jy vir daardie dag geen ander oranjelysitems eet nie. Die getalle soos wat dit in die oranjelys aangedui word, is die totaal vir die hele lys vir die dag. Dus, as jy een en ‘n halwe appel geëet het, is jou kwota oranjelysitems vir die dag vol.

Botterskorsie is soeter as ander pampoen, daarom hou ons so baie van dit, en dis glad nie nodig om dit enigsins te versoet nie. Ek gooi sommer net ‘n bietjie Aromat oor en maak dit gaar met botter. As jy bang voel vir Aromat, geur dit met liefde soos wat jy verkies.

As jy egter versigtiger met die koolhidrate wil wees, kies dan eerder van die ander pampoensoorte.

Baie mense voel hulle wil glad nie van die oranjelys af eet nie. Dis egter heeltemal onnodig en ek voel ‘n mens beperk jouself te veel as jy nog die hele oranjelys ook uitsluit. Ons sluit alreeds al die stysels en suikers uit. Dus, as jy lus het vir iets op die oranjelys, eet dit, maar hou net by die voorgeskrewe hoeveelhede.

My laaste stuiwer in die armbeurs: Oppas om jou Banting té ingewikkeld probeer maak met onnodige goed wat jy uitsny, of om dit moeiliker te probeer maak as wat dit reeds is. Hou eerder by die reëls soos dit vasgestel is en verseker daardeur dat jy op die Bantingbus bly, in plaas daarvan om dit onnodig moeilik te maak en dit nie te kan volhou nie.

Groetnis

Toortsie

 

9 thoughts on “Butternut en Banting

  1. Ek het nooit pampoen ge eet nie, nie van soveel soetigheid gehou nie. Ek het egter ontdek dit is heerlik na ons begin bant het. Ek maak dit gaar in die oond met bietjie speserye en botter. Butternut maak ek met kaas, heerlik.

    Liked by 1 person

      1. Oe, jy mis uit dis njammies. Ek kook die butternut in die skil, as sag is laat ek bietjie afkoel. Sny oop, haal die pitte uit en skep versigtig die butternut uit die skil. Maak fyn, meng met kaas en botter. Skep terug in skil en rooster dan tot ligbruin. Lip-aflek-lekker.

        Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord