Wat ‘n Saterdag!

Die heel week hou ons al troue. Eers was dit die voorbereidings. As moeder van die bruidegom wil ek geweldig baie eer gee aan die bruid se ouers wat ‘n pragtige geleentheid gereël het.

Die onthaal was op die plaas en hul het ‘n groot markiestent opgeslaan.

Soos julle weet, brand dit in die Suid-Kaap en Donderdagoggend sien ek ‘n rokie trek in die berg reg agter ons. Ek wonder of hulle bewus is van die vuur, maar sien toe die reeds afgebrande stuk, dit brand blykbaar al die heel week.

Maar Vrydag begin die vuur versprei.

Saterdag waai daar ‘n sterk bergwind, reg in ons rigting en dis digte rook en ek staan en kyk hoe die vuur sommer amper by ons brand, kyk waar oral bome groei en ek vrees dat dit die troue gaan kniehalter. Ek en skoonseun bid, en ek weet, vele ander mense bid ook.

Maar God hoor en die wind en die rook gaan lê en ons het ‘n pragtige middag en aand gehad. Die hele aand was daar ‘n rooi gloed en het ons tog maar kort-kort gekyk hoe die vuur sommer naby ons bloedrooi brand.

Perde is my skoondogter se groot liefde en het ‘n prominente rol gespeel.

(Ek het party van hierdie foto’s op Facebook gesteel)

Dit was ‘n pragtige, feestelike geleentheid en ek voel dankbaar en trots dat ek deel hiervan kon wees.

Vandag het ons gaan kyk waar die vuur oral gebrand het. Ja, ons het skade, maar daar was baie genade ook, soos ‘n baie duur masjien wat behoue gebly het terwyl dit rondom hom gebrand het. Bekyk die foto baie mooi.

By die buurplaas het ‘n huis bly staan met ‘n klompie groen bome om hom, terwyl alles verder verbrand het. Genade, dis wat dit is. Net genade.

Hierdie was vanmiddag by ons op die plaas.

Maar ook hier was God genadig. Terwyl die vuur voortwoed, dink ek dat dit hier by ons tans redelik onder beheer is. Net genade. Dis meestal die veld wat brand en genadiglik het dit by ons nie na die lande versprei nie. Maar as die wind weer begin opsteek, dan kan ek nie help om bekommerd te wees nie.

This too shall pass. ❤️

Groetnis

Toortsie

28 thoughts on “Wat ‘n Saterdag!

  1. Eerstens, van harte geluk met jou seun se huwelik, Toortsie – mag hul nuwe lewe saam oorloop van geluk.

    Dan is ons saam met julle bly dat die verwoesting nie so erg is soos wat dit kon wees nie, en hoop en bid saam met julle dat dit gou onder beheer sal kom.

    Liked by 1 person

  2. So baie aan julle gedink en hard gebid dat die troue rustig kan gebeur. Ek en Bertus het mooi na die foto gekyk waar daardie grote masjien heel veilig staan met als om hom afgebrand. Julle het weereens ons Here se beskermende hand ervaar, Toortsie.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!