Beveg eensaamheid

Eensaamheid het ‘n manier om sy kloue in jou in te slaan sonder dat jy dit selfs eers agterkom en wanneer jy dit eendag besef, het dit jou gevang, het jy só vereensaam en het jy selfs jou selfvertroue verloor dat jy nie meer weet hóé om uit die situasie te kom nie.

Ek skryf hierdie bloginskrywing na aanleiding van My Seepkis se verwysing na Maroelamedia se artikel oor eensaamheid in Brittanje en dat daar nou selfs ‘n minister aangestel is om hieraan aandag te gee.

Ek is mos maar meer ekstrovert as introvert en hou van mense, maar ook van stilte. Tog dink ek dat selfs introverte soms geselskap nodig het.

Ek het ook oor tyd in die vereensamingslaggat getrap omdat ek so besig was met ons plaaswerkies en kinders rondry, ek het nie meer by mense gekuier nie en toe ek weer sien, al my selfvertroue verloor, myself bejammer, en selfs begin glo dat mense nie daarvan hou om in my geselskap te wees nie.

Sedert ek nou semi-dorpenaar is, probeer ek doelbewus weer met nense in aanraking kom en vriendskappe op die dorp bou.

Vir my werk dit regtig om aan gesellighede deel te neem waar ek kan. Ek probeer uitnodigings aanneem as dit enigsins moontlik is en word deel van klubs, selfs al kan ek slegs een of twee keer per jaar soontoe gaan. Ek probeer uitreik en wag nie altyd totdat iemand met my begin gesels, of my nooi nie.

Dit dra by daartoe dat ek nou meermale na goed genooi word en sodoende meer mense ontmoet.

As jy ‘n skaam persoon is, maar tog mense om jou nodig het, sou ek regtig voorstel dat jy by ‘n boekklub, die VLV, die blommeklub, perdryklub, hekelklub, laslappieklub, drafklub, of wat ook al, aansluit. Tensy jy jou regtig bot hou en jou liggaamstaal wys dat mense moet verbyhou, kan ek jou belowe dat iemand met jou ‘n geselsie gaan aanknoop en kort voor lank sal jy weer begin voel dat jy deel is van die gemeenskap.

Voel jy eensaam? Nooi iemand wat jy ken vir tee, en sê sy moet ‘n maat ook saambring. Dis net die eerste tree wat moeilik is, die volgende een is reeds makliker. Of nooi iemand wat vriendelik lyk om saam met jou by ‘n openbare plek tee te gaan drink, dis dalk gemakliker as by jou huis.

Dit werk vir my.

Groetnis

Toortsie

8 thoughts on “Beveg eensaamheid

  1. Ek is maar die stillerige ene….maar jare gelede het ek by ‘n kerk groep betrokke geraak waar ek deel was…en daar het ek soveel geleer van verhoudings en besef dat al is ek die stil ene, ek mense om my nodig het om my te laat tiek. In 2006 is ek weg daar en het ek opgehou leef…want ek is nou aangewese op my en myself en dis baie moeilik…dis dalk hoekom ek hierdie bloggery as ‘n lewensreddende noodsaakliheid begin beskou…dankie Toortsie, jy praat vandag my taal

    Liked by 2 people

  2. Hierdie is ñ goeie onderwerp om oor te skryf, Toortsie. Mens kan selfs eensaam wees midde in ñ groep mense of vriende. Ek dink dit kom veral by die deel van jouself- jou gevoelens en denke- met ander wat eensaamheid kan verlig.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s