Die Towerinne stimuleer mekaar

Hierdie is sommer my eie, persoonlike ervaring, wat werklik is, van ‘n klomp opvolgstories van ‘n klomp dames en soms een of twee here, wat suiwer verbeelding is. Ingewikkeld, maar dis wel hoe dit is.

Toe ons ons heel eerste storie begin het by Toweropstal, eintlik, toe daar besluit is dat ons ‘n vervolgverhaal moet skryf, het ek, teen my beterwete in, ook ‘ja’ gesê, want ek is te bang ek mis iets! Wat ek vir niemand vertel het nie, was die vrese in my hart: Hier is uitstekende skrywers tussen ons, mense wat weet wat aangaan, mense wat weet hoe om dit te doen, en dan is daar ek met my loskop en nie altyd die feite kan onthou nie en sommer net wil skryf vir die lawwigheid. Watter bydrae kan ék tog maak, behalwe alles lekker omwoel by tye?

Maar, soos die opskrif sê, stimuleer die Towerinne mekaar en gebeur daar in die Toweropstal dinge en word wannabe skrywers soos ek betrek en raak meegevoer en verbaas die verbeeldingsvlugte wat kom, my elke keer! Ek skryf uit my beurt uit, lewer spontaan kommentaar sonder om eers my woorde te oordink en geniet my gate-uit.

Toe kom die tweede storie en die derde en en en tot ons lotjie op die groen giggelbus geklim het, in ons verbeelding natuurlik!

Die reëls word gegee en ek dink stilweg: Wat het ék tog om te bied? Ek het juis met die vorige storie die hele storielyn kom omfoeter teen almal se wense in, ek is nou skoon gespanne.

Maar, die Towerinne stimuleer mekaar en op ‘n manier begin my gewone lewe deurmekaar raak met die groenbusmense se lewe. Ons word genooi om ekstra stories te skryf en te publiseer, om die virtuele toer nog meer oemf te gee, maar wat kan ek tog skryf?

Skielik onthou ek van my kitaar en dink, wel, hier is darem nou een ou bydraetjie. Dankie tog.

Maar kry ek vir ‘n week kuiergaste en moet die etes beplan, dan verweef ek sommer die Towerinne en maak asof ek dit vir húlle kuier by my beplan. Maak ek hordes kos vir ‘n kombuistee en vir pendel en wat nog alles, raak Lekkervurig toevallig bekommerd dat ons kan verdwaal op die paaie Limpopo toe en ek dink: Langpad; inpakkos; en net daar word die pendelkos en kombuisteekos, kuiergastekos en kos wat ek die afgelope paar dae gemaak het en afgeneem het met my foon ter wille van advertensie vir my boek, sommer inpakkos vir die Towerinne. Vertel die blogmaats nostalgies van hulle kinderjareherinneringe van Pretoria, onthou ek ook skielik van my eie ekskusies in daardie selfde stad.

Gebeur hier iets met my, dan rek en strek ek dit sommer tot in die giggelgroen towerbus.

Dankie, Towerinne, julle rek en strek my verbeelding ver verby waar ek gedink het dit kan wees! En hier skryf ek al weer! Sorrie, ouens, maar ek kan myself nie inhou nie, dis wat ‘n lawwe groen bus aan ‘n mens se verbeelding doen!

Die towerinne se virtuele toer kan hier gelees word:  http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

Groetnis

Toortsie

42 thoughts on “Die Towerinne stimuleer mekaar

  1. Mens verwar naderhand die werklikheid met die storie.Ek het nou al my bydrae geskryf om volgende week te publiseer en heeltyd as ek in die omgewing beweeg waaroor ek die blog geskryf het,vang ek myself dat ek toer op die bus…ek het hulp nodig!😵😵

    Liked by 6 people

    1. Lag ek nou vir jou Perdebytjie. Ek het ook hulp nodig…ons sal almal ‘n kopdokter moet gaan sien. 😁😁😁😁 Tik ek eers soen. Dan word ons dadelik groendakkies toe gestuur. Nooit besef ‘n mens kan jou so in jou verbeelding inleef nie.

      Liked by 3 people

  2. Ek is tog net te bly dat dit nie net ek is wat so behep is met ons toerbus nie. My lus vir skryf is noual vir ń ruk weg, maar as die groen bus op ń blog verskyn, is ek daar! Toortsie, dat jy van alle mense gewonder het wat jy kan bied. Dankie tog vir jou, jy sit heerlike sprankel in ons stories!

    Liked by 3 people

    1. Dankie dankie. Behep met die groen bus? Ons sal dit mos nooooit erken nie. My dogter lag te lekker as ek haar van ons manewales vertel, sy ken my goed genoeg. Ander mense kry nrt bevestiging van iets wat hille lankal vermoed.

      Liked by 1 person

  3. Ek voel soos wat jy hier beskryf. Vandat my datum waarop my bydrae moet verskyn uitgewerk was het ek my storie al begin skryf. Soek fotos, agtergrond van dinge, dis omtrent matriek skryf om alles in te vul. As mens nie waag nie wen mens nie. My seun skud ook net sy kop as ek hom vertel van al die mannewalise(hy’s maar enigste Afrikaanse ou met wie ek dit kan deel) My een Dinsdag teedrink vriendin kry ook stukkies van die stories. Sy geniet dit as ek allerhande SA goed vertel. Jy moet asb nie ophou skryf nie(al is neeste denkbeelkig) Dis voedsel vir die siel.

    Liked by 6 people

  4. Ander sal sê ons het ‘n skroef los…maar ook ek is in die Towerinne se net vasgevang. Kuier al vyf dae by ons dogter…en wat doen ek? verdwyn kort kort toilet toe om Camilla se liefdesstorie sinnetjie op ‘n slag te skryf.

    Liked by 4 people

  5. Hahaha kry ek nou lekker vir julle almal se kommentaar. Janee die groenbus het ons breine oorgevat en ons hartsmaats gemaak. So baie van wat julle elkeen skryf is waar vir my ook, self jou bydrae Toortsie. Ek kan my nie indink dat een van julle jie skryf of saam ry nie, ondenkbaar. Elkeen bring sy sprankel in ons bus in. Vir ‘n alleen bly siel soos ek is dit n boks swiets….

    Liked by 2 people

  6. Dis die kleur….die bus se kleur wat die deurslaggewende faktor is. Groen is vrolik, vredevol, laf, rustig..al die dinge wat ons Towerinne nodig het en dis waarom ons so saamgebind is. Viva Groenbus!!

    Liked by 2 people

          1. Abrie, nou het jy my kliphard laat lag. “O Towergrond……😁😁😁 Ek sien hoe staan ons hande op die harte en sing dit. Wie het nou ooit kon dink jou huisie… Toorts se vingerafdrukke…en ‘n opdrag aan my om daaroor te skryf sou vir soveel verbeeldingsvlugte sorg. Hoe het die naam Toweropstal ontstaan?

            Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!