Hoe om kos te geniet

Sjoe! Wat ‘n lekker onderwerp stuur Google vir my: ‘Hoe om kos te geniet – mondeling.’ ‘n Mondelingonderwerp oor kos van alle dinge! Ek kan vir ure hieroor praat!

Ek glo met my hele hart dat God kos gegee het om te geniet. Hy sou nie kos so ‘n balangrike item in ons lewens gehad het as Hy nie wou hê dat ons dit moet geniet het nie, want Hy wil regtig hê dat ons gelukkig moet wees en die lewe geniet.

Sonder kos gaan ons dood. Ons liggame het die kos nodig om te bly voortleef. Ons liggame het gesonde kos nodig om te kan funksioneer, kos met goeie voedingswaarde.

Vir jare word ons al gebreinspoel dat ons voedingswaarde moet sny. Ons kos word verwerk dat dit op die ou end minder voedingswaarde het as die boks waarin dit verpak word en dan word dit weer met vitamines en minerale aangevul omdat al die vitamienes en minerale wat daarin was, uitgehaal is. Ek is seker dit was nie wat God se bedoeling was nie.

Kos is regtig daar om te geniet, en wanneer ons eet, moet dit ‘n lekker ervaring wees. Daarom is dit ook vir ons self soveel beter om aan ‘n etenstafel as gesin of as vriende saam te eet, eerder as by die TV, wat ons almal so maklik doen. Wanneer ons as gesin of vriende saam eet om ‘n tafel, of gesellig op die stoep of om ‘n vuur, is ons aandag op mekaar gefokus, gesels ons saam oor lekker dinge of selfs dinge wat vir ons sleg is. Ons maak grappe en so tussendeur geniet ons die kos, soos dit veronderstel is om te wees. Ons kos verteer sommer makliker en ons het ‘n gevoel van genoegdoening. Want, soos ek reeds gesê het, is kos daar om te geniet en nie om oor skuldig te voel nie.

Ongelukkig, met die dat ons al hoe meer gemorskos eet, verwerkte kos eet, kos wat in diep olie gebraai is, kos met baie suiker in, het ons gesondheid oor jare al hoe meer agteruit gegaan en het ons al hoe meer vetsugtig geraak. Ons het verslaaf aan kos geraak en kan onsself nie meer beheer nie. Ons luister nie meer na ons liggame oor wanneer om op te hou eet nie en prop net in, agter die lekker aan. Dit bring ‘n skuldgevoel mee. Dit veroorsaak dat ons skuldig voel as ons eet.

Kos is beslis daar om te geniet, en ons kan dit soveel meer geniet as ons eet wat gesond is, met dankbare harte. Daar is egter ‘n verantwoordelikheid betrokke by die voorreg, en dit is dat ons mooi moet kyk wat ons in ons monde inprop. Dán kan ons elke happie geniet.

Sou jy hierdie bloginskrywing gebruik vir jou mondeling, sal ek dit baie waardeer as jy dit as verwysing sal noem. Vir nog opstelonderwerpe, kliek HIER.

Groetnis

Toortsie

12 thoughts on “Hoe om kos te geniet

  1. Jy praat waar, ons word so gebreinspoel met negatiewe skrywes en prate oor kos dat ons skoon skuldig voel om te erken ons geniet dit. Dan op terug refleksie besef jy dat sulke mooi herinneringe gemaak is juis rondom ń etenstafel.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!