Meer tyd

My ratte is geolie, ek werk op topproduktiwiteit soos lank laas, ek toets resepte, tik dit op die rekenaar, stryk, lees op oor die Camino, hekel vir die VLV, hou huis, hou stiltetyd, bak en brou, stap die 10 km van die Voet, neem resepte op vir Radio Overberg, dit kan net nie beter nie. (Uitasem is ek nou!)

Sondag gee ons dominee die sielvolste preek, so mooi, hy raak die hele gemeente aan die hart. Die preek gaan eintlik oor God se liefde en dat Hy stil tevrede is oor ons, dat Hy jubel en juig oor ons, maar die dominee vertel dat hy op ‘n sabbatsverlof was en dat hulle by ‘n oord was en dat hulle aansienlik meer tyd as normaal in God se teenwoordigheid verkeer het, en hy besef dat hy ook nóg meer tyd in sy alledaagse lewe met God moet verkeer.

Ek stem heeltemal saam met hom, as ek te besig raak en minder tyd met Hom spandeer, val my kaartehuisie vinnig inmekaar, soos wat ek glad nie so lank gelede ervaar het nie.

Sondagmiddag lees ek in die Lose It Magazine oor tien maniere om slaaploosheid te verhoed, en die eerste een wat hulle noem, is mediteer en dat die Boeddiste glo dat ‘n mens 20 minute per dag moet mediteer, maar as jy besig is, selfs vir ‘n uur per dag. Natuurlik is ek nie ‘n Boeddis nie en volg ek nie hulle leier nie, maar hy het ‘n punt beet, ek sien dit net op die Christenmanier. Daagliks tyd saam met God spandeer. Daagliks stil word in Sy teenwoordigheid. Wag vir Sy woord.

Sondagaand luister ons vir oom Angus. Sy onderwerp: Hoe kan jy die Heilige Gees hoor? Weer sê hy dit: Deur tyd met God te spandeer. Meer tyd. Stilweestyd.

Maandagoggend, toe ek vir die aand se bybelstudiegroep voorberei uit die boekie wat ons tans doen, Jakobus, hoe nou gemaak?,  wat sal die onderwerp weer eens wees? Dat wysheid kry deur ons besig te hou met die Woord. Dat, ‘wanneer ons met die Skrif besig is, ons nie verlore kan wees nie, want ons is in God se geselskap.’ Ons moenie dit afjaag nie, ons moet ons verdiep daarin, ons moet dit oordink, besig wees met die Skrif. ‘Wanneer ons vinnig en vlietend met die Skrif omgaan, sink dit nie in nie en kom ons hande en voete nie in beweging nie.’  Weer eens presies wat ek glo.

So wat daarvan? Hoekom hou God aan om dieselfde ding oor en oor en oor te sê? Toe ek mooi daaroor dink besef ek: In hierdie ekstra besige tyd wat dit voel of dit my soms wil oorweldig omdat my beentjies nie altyd kan byhou nie, is dit tyd om nog meer in God se teenwoordigheid te verkeer. Nog meer te hoor wat Hy sê. Nog meer rustigheid by Hom te kry. En ek besef dat hier ‘n week voor my lê met ekstra verantwoordelikheid, meer om te doen as normaalweg, ek gaan die Here baie nodig hê. Hy het my sommer vooraf gewaarsku! 😁

Want …

Die ware waarheid is dat dinge wel klopdisselboom verloop, maar die geringste ongelykheidjie in die pad laat my sommer ontspoor.

Meer tyd met Hom.

Mag jy ook stilweestye by Sy voete ervaar.

Groetnis

Toortsie

5 thoughts on “Meer tyd

        1. Dit help my regtig baie. Dit help my om kalm te bly in die rowwe waters, dat ek nie sommer paniekerig raak nie. Dit help my ook om perspektief te kry en dinge anders te benader. Ek kan dit regtig met my hele hart aanbeveel. ❤️

          Like

Gesels saam, asseblief!