Bote

Vandag wil ek sommer net skryf oor bote. Klein bootjies, groot bote. Vissersbote. Passasiersbote. Oorlogskepe. Slaweskepe. Reddingsbote. Seerowersbote. Roeibootjies. Trollers. Noem maar op.

Al hierdie bote is ook in ons lewensverhaal teenwoordig. Soms ry ons in ‘n lekker boot, op vakansie. Soms is ons boot in lewensgevaarlike waters. Soms word ons boot aangeval. Soms dobber ons sommer net op die see, ander kere moet ons vaar vir wat ons werd is. Soms is ons saam met ander mense in ‘n boot met ‘n ongemaklike bestemming.

Soms loop ons boot op die rotse. Soms dui alles daarop dat die boot finaal op die rotse geloop het, met geen keer nie, en dan, wonderbaarlik, kom dit los, draai hy om teen alle logiese denke, verander hy rigting. Ja, die waters is steeds onstuimig, ja die skipper moet steeds ekstra verstigtig sy berekeninge en besluite maak, maar hy vaar in ‘n ander rigting, met God se genade alleen. Die onmoontlike gebeur.

Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is dit moontlik.

En, sou die boot nie omdraai nie, kan ons steeds ons hand in Sy groot Hand hou en anderkant uitkom, dalk met groot letsels, maar sterk omdat ons Sy Hand vashou.

Soos ek ook vanoggend gelees het in Lukas 18: ‘Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.’ Hy vertel van die regter wat nie eerbied vir God en mense gehad het nie, maar iemand gehelp het omdat sy herhaaldelik gevra het. En dan in vers 7: ‘Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?’

Hoe ongelooflik dit ook al klink, hoe onmoontlik dit ook al lyk, bote wat op rotse geloop het, kán loskom, kan omdraai en stadig, maar seker, na veiliger waters vaar. Soms vat dit lank, maar dit kán gebeur. Dit gebeur. Met Sy genade alleen.

Toortsie

13 thoughts on “Bote

Gesels saam, asseblief!