Hoekom wil ek die Camino stap

Hoekom wil ek juis die Camino stap? Is hier nie ander staproetes wat ek eerder wil stap nie? Hoekom in Spanje gaan stap, hoekom nie sommer in SA nie?

Ek het baie redes hoekom ek dit wil doen, en ek is seker ek het nog baie meer redes as wat ek hier noem.

  1. Ek is ‘n ewige toeris, dit is in my bloed. Ek hou daarvan om nuwe plekke te ontdek en te besoek.
  2. Vandat ek die eerste keer van die Camino gelees het, interesseer dit my.
  3. Europa is ‘n lieflike plek om te besoek, die dorpies is nie ver van mekaar af nie, die Spanjaarde verwelkom die pelgrims. Die infrastruktuur is goed.
  4. Ek kan nie ‘n rugsak dra nie en by die Camino is daar ‘n diens wat jou sak vervoer van die een plek na die ander.
  5. Ek het al baie ander staproetes ook gedoen. Wat my trek van die Camino is dat ‘n mens ‘n verder afstand kan aflê, jy kan stap so lank of so kort soos jy wil.
  6. Dis vir my ‘n oulike manier om oorsee te toer.
  7. Ons het die neiging om te veel in ‘n te kort tydjie te wil inprop, te veel plekke te wil sien en dan jaag van die een plek na die volgende. Ek dink dit sal goed wees om dit rustig, al stappende te doen.
  8. Dit moet ‘n fantastiese vakansie wees.
  9. Dit kan selfs ‘n bietjie goedkoper manier van toer wees as die normale een. Pelgrims kry op baie plekke afslag.
  10. Ek is lief vir stap. Ek is lief vir mense en dit sal vir my lekker wees om interessante mense langs die pad te ontmoet en ‘n paar woorde mee te gesels.
  11. Ek sal dit nie alleen wil doen nie, en sal dit graag saam met my man wil doen. Ek sien dit as ‘n belegging in ons huwelik.
  12. Ek glo dat dit vir my ‘n geestelike verdieping sal bring, dat ek tyd met God sal deurbring, tyd met my gedagtes.

Toortsie

24 thoughts on “Hoekom wil ek die Camino stap

    1. Die boeke sê dis nie nodig om vooraf plek te bespreek nie, jy stap van herberg na herberg. Dan slaap en eet jy baie goedkoop. Ek verkies ook egter om my slaapplek vooraf te bespreek. Ek wil nie moeg in ‘n dorp aankom en daar is nie slaapplek nie. Een van my vrae is, is dit nodig om deur ‘n agentskap watjy nie ken nie, te bespreek? Met baie navorsing, glo ek, sal ek dit self kan doen en deur booking.com bespreek. Ek bestudeer nou Bileam se donkie en Erns Grundeling en skryf neer elke tree wat hulle loop.

      Like

      1. Mariaan sê haar man sou haar nie laat gaan het as hy nie weet waar sy gaan bly nie. Soos ek verstaan reël een van die vrouens alles…. dink nie dis deur ‘n agentskap nie. As jy wil kan ek haar nommer vir jou kry dan gesels jy met haar. Ek het haar ontmoet… baie gawe vrou.

        Like

        1. Die kans is goed dat rk dit in elk geval sal doen. 😁 Ek moet nog net my partner oortuig kry om saam te gaan. Soos jy heeltemal tereg in die staatsteater opgemerk het, is die kans goed dat ek binne 3 treë sal verdwaal. Maar ek het ook al geleer dat die liewe Here sal sorg. Iemand sal na my kyk, dit kan jy maar weet!

          Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!