Aanmaning

Ek dink ek is in die moeilikheid. Ek is bang vir ‘n aanmaningsbrief.

Eerstens mag dit dalk ‘n brief van bekommernis wees, want my Parkruntyd van voltooiing raak weekliks swakker.

Verder is ek bang dat hul gaan sê dat die motief vir my deelname bedenklik is. Want sien, ek maak mos geen geheim daarvan dat ek dit doen vir die lekker en die gesels nie. Ek pla die ander parkrunners!

My parkrungeskiedenis, of parkwalk indien jy dit so wil verkies, is as volg:

Die eerste week stap ek en manlief. Ons hou dit aanvanklik so agterlangs en steek so een vir een ‘n paar stappers verby, terwyl ek tog te lekker babbel met al wat voorkom.

Week twee was ietwat moeiliker, ons neem mos toe die honde saam. Nie ‘n goeie besluit nie, ek moes toe op hulle konsentreer, seker maak hulle pla nie die ander stappers nie, poefie nie in die pad nie, ens.

Op week drie besluit ek om een van die Parkrunvoorstelle baie ernstig op te neem, dat ‘n mens eerder te voet of met publieke vervoer daar moet aankom, om nie die verkeer onnodig te vermoei nie. Ek stap sommer van die huis af, baie vinnig, want dit is nogal ‘n entjie! Op ‘n galop daag ek ‘n minuut voor die tyd daar op, en met dieselfde galop spring ek weg. Totdat iemand opmerk dat ek vandag besonder doelgerig is. Net daar slaan ek brieke aan en raak aan die gesels en pla mense wat van agter af wil verbykom, net om oor ‘n rukkie weer te galop tot by die volgende geselsie. En natuurlik stap ek toe weer mooi terug huis toe en gesels met al wat leef en beef wat ek langs die pad kry.

Op week 4 het ek gaste vir ontbyt. Toe hulle vertrek, spring ek met ‘n vaart in die kar, ry met die kortste (en stadigste) pad tot by die parkrun, wat toe alreeds ‘n paar minute tevore begin het. Ek parkeer, storm by die wegspringplek verby en draf so vinnig ek kan, wat ek op my oudag nie meer mag doen nie, tot by die laaste stappers, want ek is nog bang vir verdwaal ook! En dáár vind ek weer ‘n maatjie vir ‘n praatjie.

As ek nou mooi terugdink, het ek my by week 4 nie te vrot gedra nie, ek dink nie ek het in iemand se pad geloop nie. Dalk is daar nog ‘n bietjie grasie vir my!

Reg! Ek sal my sokkies nou mooi optrek. Ek belowe!

Maar minder gesels? Ek wonder darem?

Toortsie

40 thoughts on “Aanmaning

    1. Ek is mos mal oor stap en oor gesels en oor gesellige samesyn. Die parkrun bied dit alles vir my en 5 km is regtig nie moeilik nie. By ons is dit oor ‘n plat terrein, so daar is nie eers ‘n ou bultjie nie! Dis regtig lekker, neem ‘n vriendin saam en gaan geniet dit. 🙂

      Liked by 1 person

    2. Jy moet jou eers registreer op die parkrun se webblad, en dan besluit jy: Hierdie Saterdag gaan ek dit doen, en whalla, daar gaan jy. 🙂 ‘n Mens registreer net die heel eerste keer, en dan druk jy jou strepieskodekaartjies uit, want jy moet een van hulle hê, en dis al. So maklik soos dit.

      Like

  1. Ek het seker ‘n jaar terug laas geparkwalk. My verskoning vir die laaste paar maande is dat ek my kind moet gaan haal by swem, half 9. Dis n simpel tyd. Ek hou ook so van die gestap en gesels, my pa wil kom saamstap. Dan moet sussa maar bietjie by die swembad wag tot ma en oupa klaar gesels het….

    Liked by 1 person

  2. Jou rekord lyk nog beter as myne, want my parkwalk word gedikteer deur die weer. Die vorige naweek het ons egter die lekker weer opgebruik vir die Trafalagar Conservancy Walk en Saterdag was dit so mislik koud dat my arme kind wat die naweek kom kuier het, nie eens kans gekry het om te gaan visvang nie.

    Liked by 1 person

    1. Hierdie rekord sluit ook ‘n hele paar no go’s in. Maar Saterdag moet julle my dophou, dan gaan ek die rekord slaan, want net daarná moet ouma ry om twee ekstra soesiale kuiergaste te loop haal.

      Liked by 1 person

  3. Toorts as jy nou skielik met jou babbelbekkie toegepleister gaan parkrun in jou geweste, gaan daar rekords opgestel word soos jou dorp se mense weghol denke die stil jy is ‘n zombie. As iemand jou wil aanmaan, groet vriendelik en knoop die volgende gesels aan. Wed jou daar is iemand wat dankbaar is om liewer deur “wat het ek gedink doen ek”-oomblik in die parkstap, te gesels. Ek dink jy is ‘n tonikum. Lekker week.

    Liked by 2 people

  4. Net solank jy nie hoor wat dié wat verby wil kom te sê het nie… is alles piekfyn. Ek hoor mos wat sê die klomp bergfietsryers op die erf van die stadiges wat net in die pad is. 😁😁😁 Wees net jouself Toorts, liewe land…. they can leave it or take it.

    Liked by 1 person

  5. Ai Toorts ek is opslag moeg…ek wag daat by die eindpunt in my kar vir jou dan praat ons n versie….
    Eendag ad my rug reg is kom ek spesiminjaal soontoe om deel te neem. Intussen op en af ek maar tussen my huisie en die shofar fabriek….darem gemiddeld 5500 tree n dag

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s