Nie vir kinders

Nie vir kinders, deur Pierré Smit, is ‘n reisjoernaal deur een van ons eie blogmaats, Oudoring.

Nou is dit eers biegtyd: Ek het die boek gekoop, sommer om ‘n blogmater te ondersteun. Maar hier kom die eintlike waarheid nou: Dit was een van die beste besluite wat ek nog kon neem!

Oudoring skryf tog te lekker. Die boek lees lekker. ‘n Mens wil hom nie neersit nie. En ek, wat self al as kleinkindjie deur die reisgogga gebyt is, om die waarheid te sê, ek het die reisgeen in my bloed, het nog nooit ‘n ware reisjoernaal gelees nie. WOW! Wat ‘n reisjoernaal om mee te begin!

Oudoring en sy vrou besluit om hulle werk te bedank en te loop reis, na Sjina, Maleisië en Indonesië, almal plekke wat ek nog nooit begeer het om te besoek nie.

En hier kom bieg nommer 3: Nadat ek hierdie boek gelees het, nee, nadat ek hierdie boek TWEE keer gelees het, het ek wraggies só lus om te gaan kyk wat hulle gekyk het, te gaan beleef wat hulle beleef het.

Saam met Oudoring en sy vrou beleef ons die lekkerte, soek ons slaapplek, klim ons berg saam met ‘n klomp jongmense, ry ons deur die nag op ‘n hoppende, wiegende bus, voel ons soms moeg, voel ons opgewonde, is ons die enigste Afrikaanssprekendes.

Maar saam met hom, kan ek ook ná baie reise sê: ‘Wat was die beste? Onregverdige vraag. Teenvraag – wat is die kriteria? Eintlik is ‘n vergelyking onvanpas. Elkeen van die lande het sy eie stel mooi herinneringe opgebou. Ons sal elkeen onthou oor sekere redes. En ons sal na elkeen kan terugkeer. Voor dan gaan ons eers probeer om by ander onbekende plekke op aarde uit te kom. Reis is om te ontdek, om te verken, om ‘n plek te ervaar. Nie eintlik om dit weer te besoek nie. En om te talm. Bietjie langer te vertoef, te beleef, om die plaaslike dinge te doen.

Dalk is reis ook so. Mens kry die antwoorde vir die uitdagings by die huis op ander plekke. Jou uitdagings word relatief, jy kyk na jou eie wêreld met ander oë. Ek waardeer weer die goed wat vir my vanselfsprekend geword het, ek raak weer opgewonde oor seldsaamheid en besondersheid. ‘  (Aangehaal uit ‘Nie vir kinders‘)

Ek kan hierdie boek met ‘n opregte hart aanbeveel. Kry hom vir jou. Loop toer saam met Oudoring deur Sjina en al die plekke waarvan ek al weer nie die name kan onthou nie. Gaan beleef saam met hom wat hy beleef het.

En bieg nommer 4: Hierdie is nie die laaste reisjoernaal wat ek lees nie. Ek gaan nóg lees.

Groetnis

Toortsie

 

15 thoughts on “Nie vir kinders

    1. Ek het dit op Amazon gekoop. E-boek. Ek is nie seker of dit in gedrukte vorm beskikbaar is nie.
      Ek is sooo bly om jou ‘stem’ te hoor! Vanoggend het ek vinnig op die nuus gehoor van ‘n aardbewing in Indonesië en geeonder of jy veilig is.

      Like

  1. Ek gaan dadelik werk maak om hom in die hande te kry Toortsie, dankie.
    Die plek waar die aardbewing en tsunamie was is darem nie in die aankoop wereld nie, maar my hart pyn vir al die lewens verliese. Twee aardbewings so kort na mekaar in Indonisie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!