Kuiersafari – Die gril en die gil

(Suiwer fiksie rondom ‘n fiktiewe toer wat 14 bloggers onderneem. )

Ons tweede kuierplek is toe by Bondelsgedagtes op die plaas. Wat ‘n plesier! Wat ‘n lekkerte! Sjoe! Waarvoor kan hierdie plaasmeisie nou meer vra as juis dít? 😁

Kyk, ek geniet dit so af en toe in die stad, maar op ‘n plaas is ek soos ‘n vis in water, lekker gemaklik.

Ek het die boeresport so baie geniet. Dit het my laat terugdink aan my kinderdae toe daar altyd op nuwejaarsdag boeresport op Struisbaai gehou was. Natuurlik kan ek steeds nie ‘n eier gooi nie en ek en Kameel het lekker gesukkel en gelag met die driebeenresies en die sakresies was ‘n fiasko op sy eie!

Maar die longdrop! Amper was daar ‘n misverstand! Bondels vertel hoe ek gegril en gegil het en dis heeltemal waar. Ek het daarná toe maar eerder die huis se geriewe verkies… of ‘n bossie!

Maar om ‘n heel ander rede …

Weet julle, né, ‘n longdrop is vir my glad nie iets vreemds nie, ek kom mos van die plaas af! 🤪

In my kleinkinderjare was ‘n longdrop al geriefie wat beskikbaar was by ons vakansieplek en die plaasskool het ook geen alternatiewe gehad nie. Ons hou mos ook daarvan, nes Perdebytjie, om in die boendoes vakansie te hou.

Maar toe gaan ek mos daar by Bondels na die buitetoilet en soos baie van julle nie weet nie, kruip daar soms ongediertetjies weg op plekkies waar jy hulle nie wil hê nie. Ek sien Scrapy sê dat daar gelukkig nie spinnekoppe en slange was nie. Ja, wel …

Julle wéét mos hoe bang ek vir spinnekoppe is, veral nadat een my gebyt het en ek baie siek daarvan was, jare gelede.

So, julle kan maar raai wat ek gesien het en hoekom ek so gegil het.

Al wat ek julle kan sê, is dat ek nie weer in daardie een sal ingaan nie, tensy daar eers behoorlik ondersoek ingestel is en ek verseker is dat alles veilig is nie.

Toortsie

Die virtuele toer van die towerinne kan op hierdie skakel gevolg word:  http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

35 thoughts on “Kuiersafari – Die gril en die gil

  1. Nou by my seun hulle in Kanada, is daar tot my verbasing longdrops by sommige van die stap plekke. Ai, maar ń longdrop in Kanada of Suid Afrika, die reuk bly dieselfde. Mens doen wat jy moet doen teen hoë spoed en probeer so min moontlik asemhaal. As die deur oplaas oop gaan strompel jy behoorlik daar uit as gevolg van te min suurstof en word diep teue lug ingetrek daar en dan.

    Liked by 2 people

  2. 😄 Longdrops is ‘n algemene ding hier rond en jy sien baie van hulle by privaat huise langs die pad as jy so teen die kus af ry. Wat vir my eienaardig is, is dat die meeste nie deure het nie, wat dus beteken dat hulle ‘n pragtige uitsig het oor die omringende heuwels en die motors wat verbyry. Of dalk is dit ‘n gerieflike plek om te sit en die kudde beeste wat teen die pad ry dop te hou?

    Liked by 4 people

Gesels saam, asseblief!