In my bloginskrywing oor gemoedstoestand waarin ek vertel het dat ons gemoedstoestand weerspieël word in ons blogs en dat ons mekaar se gemoedstoestand raaklees en aanvoel, het ek ook vertel van ‘n klompie kwaaiblogs wat ek geskryf het, maar ‘n hele paar daarvan in die asblik gegooi het. Tannie Frannie som dit toe goed op as ‘die terapeutiese waarde van skryf’, genoeg om my nou weer te inspireer tot ‘n nuwe bloginskrywing!
Hoe ‘n goeie beskrywing is dit nie!
Ek het partykeer woorde in my kop, woede in my kop, seer in my kop, blydskap in my kop, of is dit in my hart? Hierdie woorde/woede/seer/blydskap maak my behoorlik mal, dit moet net uit. Dit voel of ek wil bars en gaan bars as ek nie van hierdie woorde ontslae raak nie. Om die waarheid te sê, ek wil dit loop uitskree vir die persoon wat my so verskriklik kwaad/seer/bly gemaak het.
Wel, as die persoon jou bly gemaak het, is dit dalk goed dat jy dit uitskree en dat die persoon dit hoor, maar die gervaar lê by wanneer die persoon jou kwaad gemaak het. Nou ja, die Toortsie kry maar swaar om iets in te hou. Sy glo dit moet uit. Dis haar geaardheid!
Tog waarsku God ons in Jakobus 3 teen die gevaar van die tong wat soos die roer van ‘n skip is en die skip stuur net waarheen hy wil, of dit in gevaar is of na rustige waters. So het ek in my lewe al in baie stormwaters beland omdat ek nie my tong in toom kon hou nie.
Die terapeutiese waarde van skryf.
Hulle het altyd vir ons op skool geleer: As iemand jou verskriklik kwaad maak, skryf dit neer. Skryf ‘n brief, MAAR GOOI DIT WEG. Nou ja, dis natuurlik waar die Toortsie struikel. Voor sy dink, is die brief toegeplak, seël op, gepos, of in vandag se terme, het sy die ‘send’-knoppie gedruk.
Daar is min dinge soos die terapeutiese waarde van skryf. Daardie ding uitskryf. Deesdae skryf ek dit as ‘n bloginskrywing, maar genadig het ek al ‘n bietjie geleer en publiseer dit nie dadelik nie, veral as daar kwaad of byt in is. Ook omdat ek nie regtig anoniem skryf nie.
Ek skeduleer dit sommer vir maande vooruit en oor tyd lees ek dit oor en oor, verander daaraan, skawe die byt weg, gooi splinters wat kan seer maak, weg, en in die proses raak ek ook heel, want ek het dit uit my gestel uit geskryf.
Skryf het baie waarde! Doen dit!
Groetnis
Toortsie
Voor blogs het ek in ‘n ou skrif my woede uitgeskryf en dit later weer gelees. Dan kon ek nie glo hoe flou die ding waaroor ek so kwaad was, geklink het nie. Tyd versag die pyn en woede en laat mens meer rasioneel dink. Daarom is dit so gevaarlik om daardie knoppie in ‘n oomblik van woede te druk.
LikeLiked by 3 people
Ek glo aan die uitskryfding! Dis een vd redes hoekom ek begin blog het. Nie alles moet vir die wereld vertel word nie- skeur op! Maar hopelik lees die regte persoon hierdie insjrywing en gebeur daar erens iets. Ek was baie kwaad toe ek hierdie geskryf het. https://seegogga.com/2012/02/02/aandag-alle-gomvervaardigers-alle-produkeienaars-en-vervaardigers-en-alle-winkeliers-wat-nog-pryse-op-produkte-plak/
LikeLiked by 1 person
Ek het gou weer gaan lees daar. Jy laat jou kwaadwees op ‘n mooi manier uitkom.
LikeLiked by 1 person
Ek stem, skryf dit uit jou uit. Met emails veral- ek druk forward, sodat ek nie per ongeluk na iemand toe kan stuur nie en ek skryf uit presies wat ek voel en wil sê. So teen die 3e of 4e poging kan ek darem ‘n ordentlike of liewer aanvaarbare antwoord skryf. Maar daai g*t-wip skryf, dit MOET ek eers uit my kry😤
LikeLiked by 1 person
Ek het ook gou gaan lees Seegogga en dit is goed geskryf en onderstreep my gevoelens oor die gom van etikette. Iewers in my jonge lewe het ek baie geskryf en gedig om die binnekant op te ruim. Dit is werklik terapeuties.
LikeLiked by 1 person
Gister vir my veertienjarige kleinseun – wat my vertel het hy sukkel met vergifnis… veral met iets wat een vriend gedoen het – gesê hy moet dit uit sy gestel skryf, en dan vergewe. Dit is definitief terapeuties.
LikeLiked by 1 person