Sou jy weet?

Ek dink my man lag soms stilweg in sy mou hieroor, maar dat ek nie name kan onthou nie, is mos nou al ou nuus. Die ander een is as ek iemand op ‘n ander plek raakloop waar ek hul nie sommer sal verwag nie, ek dalk ook nie weet wie die persoon is nie. So, sou ek skielik oor Kameel val op Struisbaai, en ek het haar nie hier verwag nie, mag ek haar dalk met dowwe ogies aankyk.

‘n Bejaarde vriend, met wie ons baie te doen kry, van ons trou vandag. Ek vra vir manlief: ‘Wat is die man se naam wat vandag net tannie nnn trou?’ Hy het net sy kop geskud en verskeie name saam met die regte van gesê, totdat ek darem later die regte naam onthou het. (Ek wonder of manlief effens bekommerd is hieroor? Ek het al jaaaare gelede dokter toe gegaan hieroor, maar hy was nie bekommerd nie. )

So loop ek nou die dag op die skou rond en sien ‘n vriend wat jare gelede op ons dorp gewoon het. Ek het darem geweet wie hy is, hoor! Ons gesels toe ‘n bietjie.

By hom is ‘n vriendelike man, wat ek herken, maar dit is dit. Wie hy is? Geen idee nie! Hy kom, gee my ‘n soen en ‘n drukkie soos ons boere maar maak, noem my op die naam, sê ek lyk goed, dat manlief mooi na my kyk, en dat ek vir manlief groete moet sê en ook dat hy mooi na my kyk.

Toe ek by manlief aankom gee ek hom die boodskap: ‘Ek het vir xxx raakgeloop en daar is ‘n lang, vriendelike man by hom. Hy stuur groete en sê jy kyk mooi na my. Wie, dink jy, sal by xxx wees?’

Gelukkig loop ons hulle toe weer raak en kon ek hoor wat sy naam is, en ek dink nie manlief het my verklap nie! 😱😂

Nou wonder ek, sou júlle kon raai wie dit was?

😁 Toortsie

16 thoughts on “Sou jy weet?

  1. Ek is nie te sleg met name nie, maar moet ek ń voertuig verduidelik, klink dit so: Bertus, ek het vandag my droomkar gesien.
    O, hoe lyk dit, my vrou? Dis wit, daardie yswit, nie die dowwe wit nie. En daar is ń swart dakkie, en die vensters lyk anders as ander karre sn. Lyk soos ń sportskar, of so iets. Maar dis SO mooi!!!…???

    Liked by 1 person

  2. My vrou het ‘n baie groot familie en ek kan soms nie eers onthou wie hulle is nie. Loop ek een van hulle in die winkels raak ontbreek die name, gelukkig kan ek die gesig erken en meeste van die tyd ‘n goeie idee hê wie dit is. As dit by ander mense kom weet ek net die gesig lyk bekend, maar kan ek baie keer nie die persoon plaas nie. Dan is ek soms ook so in my eie wêreld (omdat ek sou gou moontlik uit die winkels wil kom) dat ek niemand raak sien nie en beskuldig word dat ek nie wil groet nie… 😳🙄

    Liked by 1 person

  3. Jy’s glad nie alleen nie Toortsie. Ek kon nog nooit ‘n naam en ‘n gesig bymekaar bring nie. Ek het vir jare lank ons grootbaas in die bank Dewald genoem in plaas van Hendrik. Elke keer het iemand my reggehelp maar volgende keer was hy maar weer Dewald. Ek het al my huisdokter in die winkel raakgeloop en hom nie herken nie.

    Liked by 1 person

  4. Ek is so baie bly ek is nie alleen nie. Ek is vanoggend voorgestel aan ‘n nuwe konsutant wat vir my werk en ek het al klaar sy naam vergeet. Nou-net vir hom sy epos adres gaan vra om sodoende sy naam uit te figure

    Liked by 1 person

  5. Ek is aan die ander kant van die munt–ek is so onbeduidend van aanskyn dat mense my naam vergeet die oomblik wat ons gese het “Aangename kennismaking” Nou dreig ek om iets onbehoorliks kwyt te raak sodat ek ten minste onthou sal word vir die onsedelike opmerking. 😦

    Like

  6. Ai, my kinders kon so lam raak vir hulle ma wat ñ verkeerde naam koppel aan ń persoon en al word ek hoe reg gehelp, elke keer kom my , self gemaakte, naam weer ter voorskyn. So as ek besluit het Piet is Jan, dan is hy nou Jan. Dit is nie dat ek nie probeer nie, maar hy lyk na Jan, hoe moet ek nou help, dit is hoe dit is.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!