Mans en Banting

Ek het al soveel keer gedink: Mans hou van Bantingkos. Dames ook! Natuurlik nie alle mans nie en ook nie alle dames nie! En ek wil Banting in niemand se kele afdwing nie, maar mense vra my soms wat my man hieroor sê.

Mans steur hulle nie aan vet wat aan vleis is nie, hulle eet dit sonder klagtes. Hulle gee ook nie om om ‘n stukkie biefstuk met vet en al te eet nie. En sit jy ‘n ‘snack’bord met kaas en ham en salami of biltong voor hulle, kla hulle ook nie. Mans eet tog te graag aan ‘n lekker bord lamspotjiekos of skaapstertjies of skilpadjies (lewer in netvet). En mans kla en keer nie as hulle ‘n stuk roomkaastert kry nie, om die waarheid te sê, hulle vra of hulle nóg mag kry! 🙂 Gee jy vir hulle varkworsies of boerewors of kaas of beestong, vra hulle nie vrae nie, hulle geniet dit net!

Ek weet nie of mans altyd so baie van slaai hou of sade (voëltjiekos) nie, maar hulle geniet ‘n lekker Bantingmuffin wat van sade gebak is, met kaas. Hulle hou ook van die groente wat ‘n bietjie opgedollie is met room of kaas of spek, en eet dit gewoonlik sonder om te kla.

Nee wat, dis maklik om vir mans Bantingkos voor te sit. Nou moet ek ietsie fluister: My man geniet regtig die ryk kosse, maar hy eet steeds sy tjippies en gewone beskuit en soms ‘n snytjie brood. Defnitief minder, maar wel nog en hy hou baie van sjokolade, maar ek baklei nie met hom nie, want hy kla nie oor my kos nie!

Dames, as die man in jou lewe dalk die rede was hoekom jy huiwer, kan ek jou sê dat die kans goed is dat hy die kos baie sal geniet. Ek kan dit natuurlik nie waarborg nie, net soos ek ook nie kan waarborg dat Banting vir jou goed sal wees nie. En terloops, my man is ‘n baie goeie bemarker van my boek en hy sal baie gou iemand na my verwys! 🙂

Groetnis

Toortsie

12 thoughts on “Mans en Banting

    1. Ek was net so lief vir rys en aartappels en brood. Snaaks genoeg, ek was nou net van plan om op fb te skryf dat ‘n mens ‘n bredie of potjiekos sonder rus kan eet, toe soen ek joune. 😁 Met genoeg vet in die dieet, smag mens nie meer daarma nie. Baie keer is dit maar net hoe ons gewoond is om dit te eet. 😊

      Like

Gesels saam, asseblief!