Net ‘n doek om

Vroeërjare toe die vroue huisvroue was, en lank voor Google selfs ‘n gedagte was, was daar ‘n kursus vir alles onder die son aangebied, ook op die platteland.

Dis kerspitborduurwerk en laslappiewerk, kruissteek, baurnmalerai, houtsneewerk, lapverf, blommerangskikking, stensilwerk, mosaïekwerk, ag, noem maar op. En as daar ‘n kursus aangebied was, kon jy die spore daarvan sien by elke huis waar jy ingestap het. Handsakke maak, skoene oortrek …

Ek het ook hier en daar ‘n kursus gedoen, maar die fondse het maar ontbreek om alles wat ek wou, te kon bywoon. Ek kan nie blomme insteek nie. My ma kon. Sy was uitstekend daarmee en het al die benodigdhede gehad om die perfekte blommerangskikking te doen. My skoonma het ook geweet van die lyne en kon blomme insteek op die regte manier.

Toortsie het indrukkings gemaak. Jy vat die bos blomme en druk dit in die eerste die beste pot. Ek vermoed iemand het by my afgeloer, want deesdae maak almal indrukkings, mens sien min rangskikkings.

Toe word Toortsie se seuns in standerd 5 prefekte en elke prefekma kry ‘n beurt om op ‘n Maandag blomme vir die skoolsaal te doen. Daardie rangskikking staan dan die res van die week in die hoof se kantoor. Behoede my! Ek bied aan om die hele jaar die snoepie se geld te tel, net nie blomme nie, asseblief, maar iewers glip my naam toe wel deur. Net die een keer, nie weer nie!

Een of ander tyd werk ek tydelik by ‘n firma. My man het ‘n klomp veldblomme gebring, waarvan ek toe ‘n klomp saamneem werk toe. Gryp ‘n pot, nie regtig geskik vir veldblomme nie en bind ‘n doek om dit en neem saam werk toe. So ‘n rukkie later was daar weer blomme by die werk en ek hoor net iemand uit sy beurt praat van ‘n doek ombind. Jajaaa, sy vrou was ‘n kranige blommerangskikker …

Wel, so what! Pfffft. Die blomme en die pot en die doek was met liefde gedoen, sekerlik nie op standaard nie. Dalk is die doek nou nog, na al die jare ‘n ou interne grappie, wie weet?

Toortsie

24 thoughts on “Net ‘n doek om

  1. Soort soek soort en birds of feather flock together. Ek raak al hoe meer bewus daarvan dat die bloggers voëls van enerse vere is. Ek rangskik nie blomme nie, ek bak nie koekies nie, ek doen nie handwerk nie, ek was en stryk omdat dit moet en ek kook kos net wanneer daar regtig niemand anders is om daardie ou takie oor te neem nie. Ek het nooit eers naby die bus gekom nie; jy is darem daar in die bus met jou kook- en handwerk. Ons is oukei.

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!