Trou-outfits

Hierdie is tong in die kies geskryf en julle moet julle asb nie steur aan die reëls soos hier genoem nie.

Die grootste nagmerrie wat my tref as my kinders troukoors kry, is die rok. Moeder van die bruid rok. Moeder van die bruidegom rok.

Met my eerste kind, ‘n seun, se troue is ek aanvanklik min gespin. Tot iemand sê: ‘O, jy gaan darem seker ‘n uitsonderlike tabbert kry!’ Ai! Die duiwel is listig!

Ek hoor: Jy moet volgens die kleurskema aantrek, jy is deel van die gevolg. Of nie. Die ma van die bruidegom moenie mooier lyk as die ma van die bruid nie. En, en, en. Blote bog!

Ek koop die mooiste lap, ligte grys satyn met pienk kralelap bo-oor. Vriendin sal dit maak. Skielik besef ek, dis te lig! ‘n Mens moenie met die bruid kompeteer nie!

Ek bel die vriendin en vra sy moet asb donkergrys satyn koop. Sy maak die rok en ek besef dit gaan nie werk nie. Die krale-oorrok is oorweldigend.

Dis twee weke voor die troue en daar’s nie tyd vir Kaap toe ry nie, en dis Paasnaweek. En hoe gaan ek vir vriendin sê dit gaan nie werk nie?

(Moet tog nie dat manlief vir julle vertel hoe ek die aand omgekap het van senuwees oor die trouklere nie, hoor! Hy vertel net die omkapdeel en nié dat ek die dag omtrent ‘n hele pot boontjiesop én amper ‘n hele vrugtebrood opgeëet het nie! Dis nie ‘n goeie kombinasie nie, veral nie so kort voor ‘n troue as die senuwees nie goed is nie.)

Ek kry sommer op Struisbaai ‘n swart nommertjie. Maar moeders van bruidegomme moet glo nie swart dra nie, sê die slim mense! Bog.

Vriendin ontdek ‘n donkergrys kant en maak my outfit klaar en stuur die voltooide rok vir my. Ek dink ek het mooi gelyk.

Met kind 2 se troue is dit chaos in my lewe, ons skou beeste en toer oorsee. Ek gee vir ‘n ander vriendin lap en ‘n stelletjie klere en sê, maak asb. Al wat ek kan sê, is dat dit nooit reg gesit het nie, selfs nie nadat ek omtrent al tien kg verloor het nie!

Toe kry my dogter troukoors. Ek bestel die mooiste rok oor die internet. Pragtig. Dit kort effens verstellings, maar meisiekind is nie opgewonde nie. Ek storm een dag oorhaastig by ‘n winkel in en koop my rok, kleurskema totaal vergete. Ag jaaa. En hoor hier, dit was ook ‘n mooi rok.

Toe is dit ten minste afgehandel. Dankie tog! Nie weer outfits nie!

Of so het ek gedink!

Hier kry een van my kinders sowaar weer troukoors. Hier gaan ek al weer!

Maar ek het geleer. Ek steur my nie meer aan reëls nie. Nou maak en net soos ek wil! Hiehaaaaa!

Uhm julle. (fluister) Ek het nog nie ‘n rok nie. sjuut. moenie oorvertel nie hoor.

Groetnis

Toortsie

Ns. Goeie nuus! Ek het iets gkry en ek is MaL daaroor! Nou kort ek net rooi stiletto’s!

24 thoughts on “Trou-outfits

  1. Gelukkig het net een van my kinders getrou en gelukkig in ‘n Engelse kerk waar dinge heelwat meer informeel verloop. Ek was besig om te herstel van ‘n knie-operasie en was bly dat ek ‘n wye langbroek met oorhangende bloes kon dra.

    Liked by 1 person

    1. Wye langbroek met oorhangende bloes klink verskriklik mooi.
      Die kerk waarin hulle trou, het darem nie ‘n invloed nie, tensy ek ‘n baie lae hals gaan aantrek, wat ek sterk betwyfel. By my 2e seun se troue het ek ook ‘n broek aangehad.

      Liked by 1 person

  2. En ek kan nie wag om fotos te sien nie!!! Ek was sowaar op jou meisiekind se trou…virtueel natuurlik. En jy het stunning gelyk. Onthou, jy het vir ons fotos geplaas, voor jy wonder.😊

    Like

  3. Ek het dieselfde deurgemaak… my enigste mooiste meisiekind se troue was 2 weke terug. Ek het haar lank terug belowe en sal nie swart dra op haar mooiste dag eendag nie. En dis vir my ‘n gróót opoffering 🙂 so laat ek dit aan haar oor om vir my ietsie te kies. Dit was blou. Donkerblou. Met bietjie bling. Blykbaar was dit toe mooi….
    Ek mag darem my eie skoene gaan kies het. Dit was rooier as rooiste stilettos 😀 Pragtig seg ek jou!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!