Gemoedstoestand

Of ons dit nou so wil hê, of nie, ons gemoedstoestand word weerspieël in ons skryfwerk. Ons kan dit so wil wegsteek soos ons wil, maar as ons kwaad is, is ons blogs kwaad, as ons bly is, is ons blogs bly. En natuurlik, saam met dit, is ons blogmaats ook bly of kwaad of hartseer saam met ons wanneer ons mekaar se blogs lees en dis wonderlik.

Dis wat Jo Black gesê het by die vroue-oggend wat ek was: Empatie en ons glimlag is alles gawes wat God vir ons gegee het om vir ander uit te deel. As ek glimlag, voel jy ook opgelig. As ek empatie het met jou, voel jy dit en voel jy nie meer so alleen nie.

‘n Hele rukkie gelede was ek baie kwaad vir iemand. Dit het gevoel of my persoonlikheid aangetas is, of ek buite my persoonlikheid moes optree om hierdie persoon tevrede te stel. Ek is beskuldig van goed waarvan ek regtig nie skuldig is nie, en dan sê sy, ek besef nie ek doen dit nie, wat seker waar is.

In hierdie tyd het ek ‘n hele paar ‘kwaaiblogs’ geskryf. Ek moes net, ek moes ontslae raak van die woede wat in my opgekrop het, behoorlik ingelê met die lat. Ek het my sê behoorlik gesê in hierdie blogs, sonder om na hierdie persoon direk te verwys, sonder om selfs te verwys dat dit teenoor my gedoen is. Ek het probeer om dit in die algemeen te skryf. Ek het dit nie dadelik gepubliseer nie, omdat ek besef het dat dit op daardie stadium skade sou doen.

Oor en oor het ek die bloginskrywings wat lê en wag het, gelees, verander daaraan, hardheid daaruit gehaal, probeer om die byt te verwyder. Wanneer ek gevoel het dit is tyd, het ek selfs van hulle gepubliseer.

Een van hulle het ek al ‘n maand gelede verwyder omdat ek gevoel het dis nie iets om te publiseer nie. Tog het twee bloginskrywings hier bly lê, die een gereed om gepubliseer te word, die ander een nog ‘n bietjie op die ys.

Elke keer skryf ek nuwe goed, en hierdie twee bloginskrywinkies skuif af en af en af.

Skielik bekyk ek die blogs wat ek tans skryf en dink, ek is tans vrolik en lig in die hart, ek is laf en maak grappe, trek my eie been, vertel lawwighede oor myself, hierdie twee bloggies pas regtig nie in nie, Eintlik het ek dit klaar uit my sisteem gesit. Klaar verwerk.

En ek vee hulle uit.

Weet julle hoe lekker voel dit?

Toortsie

34 thoughts on “Gemoedstoestand

  1. Soos wat tyd aanstap versag daardie woede en is mens maar bly jy het die blogs uitgevee. Het met my ook al gebeur. In die hitte van die oomblik kan dinge gesê word wat nooit teruggetrek kan word nie. Die kuberruim is in daardie opsig uiters gevaarlik.

    Liked by 2 people

  2. Hierdie is so absoluut waar, dat ń mens se gemoedstoestand in jou skrywes weerspieël word. Ek dink ek moet jou voorbeeld volg, en soms ń stuk eers eenkant hou voor ek dit opsit …nadat die angel uitgehaal is.

    Liked by 1 person

    1. Una, een van die twee blogs wat nog lê en wag het, se woorde wou net nie sag raak nie. Toe skryf jy een dag ‘n blog met dieselfde boodskap, maar so mooi en reg en ek wou skree: ‘Ja! Dis wat ek bedoel!’ Maar dan lees ek weer myne en ek kon dit nie mooi kry sonder harde kante nie. 😁

      Liked by 1 person

    1. Beslis terapeutiese waarde. In diebegin moet die woorde net uit, dit voel of jy wil bars. Met tyd, deur dit oor en oor te lees, kry jy kans om daaraan, en aan jouself, te skawe. Op die ou end kry jy sommiges publiseerbaar, maar ander kom net nooit reg nie.

      Liked by 2 people

  3. Dink nie as ek rêgtig kwaad is gaan skryf help nie. Ek het al net gestaan en ten hemele gegil, en gil, en gil. Uitlaatklep om van al die opgekropte woede ontslae te raak. Die Here het eendag vir my gesê “en jy gaan skreeu om hulp…..” so Hy ken my goed 😊

    Like

  4. Ek dink dit verskil, hang af of jy onder ‘n skuilnaam skryf en wie by jou lees. As ek onder my eie naam geskryf het, het ek helfte van die goed nooit gepubliseer nie. Dieselfde geld as familie of my kinders hier sou lees. Ek het spesifiek begin blog om die gif te kon uitskryf

    Liked by 2 people

  5. Og! Ek het soveel om te leer hieruit. Mind you, ek het wel een of twee inskrywings wat ook nie gepubliseer is nie en dalk, net dalk mettertyd oorbodig en onnodig sal raak, wanneer die eina verdwyn het.

    Liked by 1 person

    1. Bb ek oortree self! Onthou, meeste van alles skryf ek vir myself. Ek het gister weer ‘n geskeduleerde blog geskryf wat ek gisteraand afgevee het. Die skryf is nodig. Die publiseer dalk nie altyd nie. ❤️

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!