Hoe hou jy vol met Banting?

Iemand vra my: Hou jy steeds vol met Banting? Hoe kry jy dit reg?

Dit was by ‘n damesoggend waar die heerlikste eetgoed bedien is: Klein souttertjies, pasteitjies, en ‘n happiegrootte frikkadel. Die bordjies is sommer lekker vooraf gepak, so elke gas neem net ‘n bordjie. Baie oulik en mooi.

Ek noem vir haar dat daar tye is wat dit vir my baie maklik is en wat sulke eetgoed my glad nie pla nie, terwyl daar ander tye is wat dit vir my ‘n versoeking is.

Dit is werklik so dat as ek iewers effens gekroek het, ek ‘n deur vir versoekings oopmaak.

Kort gelede het iemand oor middagetetyd by ‘n vergadering soortgelyke eetgoedjies gehad. Ek het ‘n souttertjie geëet, en toe is die hek oop. Nóg ‘n souttertjie, ‘n pasteitjie en ‘n deegrolletjie verder, voor ek stop. Daarvandaan loer deeggoedjies vir my en is die versoeking baie groot om maar net ‘n happie iewers te neem, wat sal dit nou regtig doen?

Ongelukkig werk dit nie so nie en moet ek altyd onthou dat ek ‘n suikerverslaafde is, soos my reaksie duidelik wys: Een happie is nie genoeg nie en nee, ek wil regtig nie weer in daardie put afgetrek word nie.

Die afgelope week was daar baie versoekings voor my deur: Eers die teedrinkery by my huis, waar daar ook koek en melktert was, en ek mooi gehou het, maar tog later ‘n klein stukkie melktert geëet het, wat bitter soet was. Ek was by ‘n damesbederfoggend wat ons koöperasie gehou het en kon gelukkig genoeg eet wat toelaatbaar was, maar het besef dat dit vir my beter was om te loop toe die poeding bedien word, ek het mos ‘n deur oopgelos! (Ander kere sou dit my glad nie gepla het nie!)

By die damesoggend waar hierdie gesprek plaasgevind het, het ek besef dat, sou ek ‘n bordjie van daardie eetgoed voor my neersit, net ter wille van ‘n frikkadel, my weerstand sou verkrummel. Ek het op die ou end ‘n bordjie geneem, maar al die verleidings op ‘n ander bord gesit, sodat daar net ‘n paar frikkadelletjies en tamatie op my bordjie was.

Genadiglik het ek Vrydagaand 8 nm besef dis dringend tyd dat ek vir my iets lekkers maak en het ‘n kaaskoek gebak, waarvan ek Vrydagaand voor ek in die bed geklim het, Saterdagoggend toe ek opstaan, én weer na die Parkrun geëet het. Hier is dringende konsentrasie nodig om die hekke wat ek laat ooplê het, toe te gooi.

Die suikerlose lekkers met verkeerde versoeters in wat ek ontdek het, moet ek ook nie verder koop nie, ek vermoed dit gooi ook hekke oop wat eerder moet toe bly.

So ja, ek hou by Banting, dis vir my lekker en maklik, maar ek moet altyd sorg dat ek nie ‘n hek op ‘n skrefie oopmaak nie.

Groetnis

Toortsie

17 thoughts on “Hoe hou jy vol met Banting?

  1. Dankie Una. Die ding is, ek is ook net ‘n gewone mens wat moet Bant omdat ek ‘n suikerverslaafde is. As ek nie ‘n suikerverslaafde was nie, sou ek mos nie nodig hê om te Bant nie. Die versoekings is soms maar groot voor my deur!

    Liked by 1 person

    1. Seegogga, jy het nou die dag gepraat van ‘n diabetiese groep, maar die vet word nie so beklemtoon soos by Banting nie. Dís die rede hoekom die vet so belangrik is. Genoeg vet in die dieet keer cravings, dit hou jou versadig. Die ding is, sodra jy low carb gaan, haal jy ‘n klomp koolhidrate uit jou dieet. Daardie voedingswaarde maak jy op met vet, anders bly daar ‘n leemte en gaan jy hard val.

      Like

      1. Dis waar, die belang van ‘n gebalanseerde dieet kan nooit onderskat word nie. ‘n Hongerly dieet is nie vir my nie. Om die waarheid te sê, ek is nie gedissiplineerd genoeg om enige verslankingsdieet te volg nie, maar gelukkig het ek nie ‘n soettand nie – ek vermy suiker soos die pes.

        Like

Gesels saam, asseblief!