Lone

Elke beroep het sy pyn, elke sport sy beserings, maar om een of ander rede laat ‘lone’ my diep sug. Dis eintlik iets wat sommer vinnig en maklik moet gebeur, maar iewers is daar altyd ‘n verrassinkie wat wegkruip. ‘n Kinkel in die kabel.

Ek het al in moedeloosheid harde woorde geskree toe die werksmense die voordeurklokkie die een na die ander lui en die druk hoog was, toe dit ‘n buurman was by die deur en nie nóg ‘n werker nie.

My kinders wat stokflou en oormoeg van oorsee af by die huis gekom het, moes een aand self kom kosmaak omdat die lone net nie klaar kom nie.

Die vorige maand se loneweek was ‘n absolute riller waar letterlik ALLES verkeerd geloop het en ek redelik op en moedeloos die taak voltooi het.

Die laaste week verloop alles toe weer heeltemal glad, behalwe dat daar ‘n paar sosiale en ander belangrike items op die rooster was wat ek nie kon of wou mis nie. Iewers draai ek dan op die ou end vas, of ek dit beplan, of nie.

Dit bring toe mee dat ek op die pendelpad met ‘n pak betaalstrokies op die skoot, pen in die een hand, teen ‘n redelike hoë spoed op ‘n besige pad en soms skielike remtrap, met my reisgenoot wat ook kliphard op volle volume sy besigheid moet bestuur op die speakerphone omdat hy bestuur, my betalings op my selfoon sit en doen het, die een na die ander. Dis hier ‘n ding optel, daar een neersit …

En ek besef: Dis darem maar goed dat die mens ‘n aanpasbare wese is. En dis ook goed dat ons keuses in die lewe het. Ek kon kies om my te vererg en dinge vir myself net moeiliker te maak, of ek kon kies om die ongemaklike situasie na die beste van my vermoë te hanteer. (Gewoonlik kies ek die vererg-een omdat die spanning op loneweek gewoonlik ‘n bietjie oorhel. )

Ja, ek móes ná die tyd dubbeld seker maak dat ek niemand oorgeslaan het in my beperkte kantoorspasie van een Toortsieskoot nie, maar in die proses kon ek my werk seker twee ure vroeër afhandel.

Nou ja, wie het gesê die lewe is oninteressant? Dit hoef nie te wees nie!

Groetnis

Toortsie

If you want to play where others don’t, you have to do what others won’t. -ANON

27 thoughts on “Lone

  1. Aanlynbankdienste – my lewensredder. Ek het vanoggend saam met my dogter bank toe gegaan om haar nuwe kaart af te haal. Daai staan-staan en wag dat jy gehelp kan word – daar sal nooit weer gras groei waar my gedagtes geval het nie.

    Liked by 1 person

      1. Jy verstaan nie. Daai tak het ‘n OTM wat klink soos ‘n casino-masjien. Dan is daar een of ander stelsel (ek dink dis by die tellers) wat klink soos O R Tambo se aankondigingstelsel. Ek het die hele tyd in die ry gestaan en met die tik van die gong afgekondig dat ‘n vliegtuig geland het. Die kliënte het dit vermaaklik gevind; die personeel nie (ag sjym en ek voel jammer vir hulle), maar ek PES sulke geraas.

        Like

          1. *fluister* ek haat dit om te vlieg. Ek is ‘n swak passassier – as ek nie kan bestuur nie, gaan ek nie saam nie. Dit krap my om as daar soveel mense rondom my is, veral wanneer daar babatjies is wat huil, waardinne wat hulle trollies verby my stoel wil stoot, vlieëniers wat daarop aandring om my te vertel hoe hoog ons vlieg, medepassassiers wat ‘n vuurwarm vryery aan die gang het langs my, oor my wil klim om by die toilet uit te kom, hulle bes probeer om met een van hulle boude op my stoel ook te sit … As ek nou besigheidsklas kon bekostig, sou ek gevlieg het met ‘n smile.

            Like

            1. Dit klink my jy moet vra vir ‘n venstersitplek. Dan kan jy oor die ander klim om by die toilet uit te kom. Luister, ek is ook nie mal oor vlieg nie, maar hoe gaan ek nou op ‘n ander manier aan die ander kant van die wêreld kom?

              Liked by 1 person

              1. Nou sien, dis waar ons verskil. Hierdie kant van die wêreld, hierdie kontinent suid van die ewenaar, geniet ek (al sy probleme ten spyt). Links en regs van die kontinent of bo die ewenaar hou vir my geen aantrekkingskrag in nie. Gelukkig nie, want ek het ook nie die geld om vir die res van die wêreld te gaan kuier nie. En as ek die lotto wen (wanneer ek onthou om te speel), gaan ek vir my ‘n eiland koop sodat ek my wêreldjie kleiner en minder dig bevolk kan maak.

                Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Toortsie Kanselleer antwoord