Met die hond, of nie?

Die meerderheid mense sal in elk geval dink dis laf om ‘n Parkrum MET ‘n hond te doen, maar interessant genoeg, is dit een van hulle toegewings: Jy mag met jou hond die parkrun doen, maar slegs een hond en hy moet aan ‘n leiband wees. En jy mag jou baba in die stootwaentjie saambring, maar nie jou hond én ‘n baba in ‘n stootwaentjie nie.

Toe ek die eerste keer park’walk’, en ek sien hoe lekker die roete is tussen bosse en almal stap nie op ‘n hoop nie en hier en daar ‘n hond, dink ek by myself dat ek dit dalk moet probeer. Eintlik is my idee dat ek en hond sommer parkrun toe stap, die parkrun stap en terugstap. Lekker Saterdagoggend uitstappie. Ons kry ons oefening in en ek voel nie sleg dat die honde by die huis bly en net moet lê nie, terwyl hulle noi lekker stap in die veld en hulle kon dit ook mos gedoen het.

Maar watter hond kies ek? Toortsie het twee honde. Grotes.

Ek besluit op die jonger een, en sowaar, hier sê manlief hy gaan ook weer saam, dan kan ons albei honde saamvat.

Ek het maar so stil-stil gewonder hoe dit sal gaan. Dis plaashonde wat soms aan ‘n leiband is en wanner hulle aan die leibande is, is die twee leibande vasgebind aan mekaar.

Ek koop toe sommer twee nuwe leibande, die ander is al erg geknoop en hier gaan ons met die bakkie, die honde agterop. Te lekker.

Of die honde dit geniet het? Beslis ja.

Het die honde ander mense gepla? Ek dink nie so nie. Ek hoop nie so nie. Ons het agterlangs gehou en toe my ou hond sy draaitjie wou stap, het ons mooi in die bossies gaan staan sodat hy nou nie oepsies maak waar mense moet loop nie.

Gaan Toortsie dit weer doen? Ek dink ek gaan die meerderheid volg en dit nie weer met my hond doen nie, want soos ek die vorige keer gesê het, doen ek dit vir die geselligheid daarvan. Ek wil gesels met die mense om my. Ek wil rondkyk. Ek wil hoor hoe dit met almal gaan. As ek egter met ‘n hond aan die leiband loop, en my man is ook by met nóg ‘n hond aan ‘n leiband wat reageer as ek ‘n geluid maak, is my aandag by my twee honde, en by niemand om my nie.

Been there done that got the t-shirt. En nou sien ek ‘n hele paar mense hul koppe in verligting knik.

Groetnis

Toortsie

11 thoughts on “Met die hond, of nie?

  1. Dis waar. Ons geniet ook die Parkrun as ons dit alleen doen. Dan het mens nie nodig om te bekommer oor iets/iemand anders nie. My manlief draf lekker vinnig, so ek blaas-blaas maar so op my eie agterna en dis heerlik. Ek stop wanneer ek wil om eers die eende in die kanaal te bekyk, of te kyk na die watervalletjies wat nou weer aangeskakel word nadat dit so lekker gereën het. Dis heerlik.

    Liked by 1 person

  2. Toortsie jy het my so geïnspireer dat ek en Karen verlede week geregistreer het vir die parkrun, maar Saterdag se weervoorspelling het ons by die huis gehou. Hopelik kry ons binnekort ook ‘n lekker dag om te gaan inval. Honde, ja, ek wil nie te veel oor hierdie onderwerp sê nie, maar kom ons volstaan met “ek was lief vir my honde, maar ander mense honde moet liefs by hulle se huise bly”.

    Like

    1. Ek het nogals aan jou gedink toe ek hierdie geskryf het. 🙂 Ek dink dit sal nogals erg raak as almal hulle honde bring, wat hulle gelukkig nie doen nie! Dis vir my interessant dat hulle honde toelaat en elke week kondig hulle ook af dat honde welkom is.
      Ek weet nie of ek dit sal doen as ek so vroeg moet opstaan soos jy, net om betyds daar te kom nie. As jy dít doen, haal ek my hoed vir jou af.
      En nee, ek sal nie weer my honde saamneem nie. 🙂 Ek wil eerder met die mense kuier.

      Liked by 1 person

  3. Gesien in die stad neem mense graag hulle honde. Dis nou wragtig die rooies en die bontes, ja alles wat ‘n hond is, en dit gaan goed. Maar by die huis, neem ek soms vir Lapman en Sussietjie op ‘n Sondag en ons gaan stap ons nie amptelike parkrun roete. Daar is die probleem glo eerder bobbejane as iets anders.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!