Gladgestryk

Nee, ek is nie mal oor stryk, soos iemand gelees het uit ‘n opmerking wat ek gemaak het nie. 🙂 Daar is ‘n klompie goed wat ‘n vrou mos maar moet doen, tensy sy iemand het wat dit vir haar doen, soos bed opmaak, skottelgoed was en afdroog, wasgoed ophang, stryk, huis skoonmaak. Ek stryk eerder voor ek huis skoonmaak en ek verkies om eerder die skottelgoed te was as af te droog. Maar dis van daardie goed wat ek net doen, ek dink nie eintlik daaroor nie.

Tog kry ek die laaste tyd aanmekaar hierdie prentjie in my kop wanneer ek klere opvou en stryk, wanneer die bondel onnet klere onder my hand, een vir een netjies opgevou raak, dat onder God se Hand, my verfrommelde lewe netjies raak. Soos wat ek die voue en kreukels met my hand, of met die strykyster wegvee, net so vee God met Sy hand die voue en kreukels in my lewe weg as ek Hom toelaat.

En ek hét baie voue en kreukels in my lewe, by party van hulle moet die stykyster sommer op WARM gestel word om dit weg te kry.

Net soos met ons wasgoed wat opgevou word, hoef party goed in ons lewe sommer net liggies met die hand gevee en opgevou te word, terwyl ander ‘n strykyster nodig het en partykeer moet die strykyster lank op ‘n sekere plek vee voor die merk heeltemal uitgestryk is. Dis sulke tye wanneer dit nie so maklik is nie en ons dalk sommer swaarkry en wonder wat aangaan.

Ek is tans baie onder die indruk van Jakobus. Ek het ‘n bybelstudieboek oor hom gedoen en hom letterlik vers vir vers oordink.

Jakobus Hoe nou gemaak? Annene Mullins en Kobus Myburgh

Agterop staan dat Jakobus nié uit ‘n reeks sedelessies, lang lyste wettiese voorskrifte of bolangse troos bestaan nie maar ‘n wysheidsboek is waarin Jakobus vir gelowiges riglyne gee hoe om in moeilike omstandighede voor God te leef.

Jakobus is ‘n boek wat vandag nog net so relevant is en dis of ek net nie genoeg van hom kan kry nie, en ontdek toe sowaar nog hierdie boek ook op my boekrak, wat ek nou ook sommer gaan doen:

Geloof vir ‘n tyd soos hierdie – Johan Smit

Soos die Spreuke so graag sê: ‘Wysheid begin by die dien van die Here.’ Laat ons tyd voor Sy troon deurbring, by Sy voete sit, tyd met Hom spandeer, en Hom toelaat om die kreukels in ons lewens uit te stryk met Sy liefdevolle hand.

Toortsie

4 thoughts on “Gladgestryk

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s