Toe drink ons tee

Een van my groot ondernemings toe ek dorp toe getrek het, was om deel van die dorp se gemeenskap te word. Daarom probeer ek, wanneer ek wel die slag tuis is, deel te neem aan die aktiwiteite wat hier aangebied word.

Ek wil my lus vir mense bevredig wanneer ek hier is, my lus vir gesels, anders raak ek so geselshonge, en praat dat mense se ore begin tuit.

Een keer wat ek by die huis was, sms ek ‘n klompie mense dat ek die week hier is, iewers moet ons ‘n teetjie inwerk en net daar ontstaan ‘n groepie, die teedrinkers! Wanneer ek dus die kans het, stuur ek ‘n whattsapp en sê, kom, hier’s tee!

Intussen het die groepie al gegroei en elke keer nooi ons nog mense by. Party kan dit miskien nie hierdie keer maak nie, maar weer ‘n ander keer.

Hoe moeilik kan dit nou wees om gou by ‘n winkel in te hardloop en ‘n eetdingetjie te gryp of ‘n welbekende Toortsie Spinasietert, sonder ekstra kruitjies natuurlik, in die oond te druk? En hier en daar bring iemand ‘n eetdingetjie saam en vir net ‘n bietjie meer as ‘n uur klets ons soos net vroue kan. Te lekker!

En daarna? Dan sit ons ons gewone dagtaak voort met net so ‘n effense ekstra huppel in ons stap.

Tot ons weer tee drink.

Toortsie

31 thoughts on “Toe drink ons tee

  1. Ek het twee vaste afsprake weekliks. Dinsdae met twee vriendinne en Woensdae met twee ander. Dis mense wat ek al meer as dertig jaar ken. Dis dan sommer ‘n kopskoonmaak en onderskragingsessie ook. Soms broodnodig. Vriendinne se waarde is onskatbaar.

    Liked by 2 people

      1. Mmmm… ek wonder… narre by die parteitjie is ook uitsonderinge! Ek glo wat goed is vir die een is goed vir die ander. Nee wat, dis of tee of rooi druiwesap… die een hoort nie saam met die ander nie!!
        Eintlik, dit val my nou by… julle is daar in die middel van die wynland… gooi weg daai tee goed… dit hoort nie daar nie! 😀

        Liked by 1 person

  2. Hier in ons miniatuurdorpie kan jy maar net buite op die stoeptrappies of ‘n tuinbankie gaan sit, jy kry blitsvinnig geselskap. My man is die groot kuiergees en ek sit soms en blog, en dan luister ek sommer die gesprekke af … 😄

    Liked by 1 person

  3. Toortsie, Ek weet ek is nou op die verkeerde blad, maar weet nie hoe om terug te gaan nie. Het jy reggekom met die trourok storie? Ons het iemand in ons familie wat trourokke maak. Werk saam met bekende mode ontwerpers van ons land. Het ek al programme op TV gehad.

    Like

    1. Ek het nog nie reggekom nie, hier volg nog ‘n storie daaroor. Ek het ‘n probleem met tyd, so ek moet sommer klaar koop, want ons pendel mos elke week. 🙂 Waar woon hierdie persoon?

      Like

Gesels saam, asseblief!