Toortsie gaan Kaaaap toe!

Hou vas julle koppe! Toortsie moes alleen Kaap toe, en dié van julle wat weet, Toortsie het geen rigting nie. Noord? Oos? Wes? Suid? Wat is die verskil? As Toortsie Kaap toe ry, ry sy in die rigting van Tafelberg. Moet sy weer uit die Kaap uit kom, moet Tafelberg op haar rugkant wees. Dis al.

Toortsie kan met gemak by ‘n paar plekke in die Kaap kom, en sy kan dit doen, ongeag of sy op die N1 of die N2 ry. Ek noem hulle gou vir jou op: Tygervallei en die Arts Cape. Niks meer nie, hoor jy!? Wil jy na een van hierdie plekke gaan, kan julle vir Toortsie vra, die kans is goed dat sy julle daar gaan besorg, wel, baie goed, tensy sy skielik onseker raak en totaal verdwaal, maar nêrens anders nie, hoor!

Soos Toortsie ouer raak, kom sy natuurlik al hoe minder in die stad, en vandat haar kinders al donkiejare gelede hulle lisensies gekry het, het sy al hoe minder die geleentheid gebruik om self te bestuur, die bloedjies moet mos ook leer ry! En later kon hulle so gemaklik in die stad ry, hoekom sal Toortsie?

Al wat sy hoef te doen, is sit links en hou die selfoon vas sodat kind op Google Maps kan kyk en dis natuurlik ook ‘n uitdaging op sy eie! Want Toortsie raak per ongeluk aan goedjies. Soms. Of sy gesels so baie, sy vergeet om te help kyk wat Google vir haar wil sê.

Wat ek eintlik wil sê, is, dat Toortsie nie eintlik meer in die stad ry nie.

Toe moet Toortsie skielik vir ‘n daguitstappie Kaap toe. Paardeneiland toe. Alleen. Stokalleen. En dit reën katte en honde, nie dat dít haar eintlik afsit nie, sy hou mos vreeslik baie van reën.

Toortsie en tannie Google hét heelhuids daar uitgekom, dalk is die geduld van ‘n paar ander bestuurders beproef, dalk het ‘n paar vir haar genade betoon, maar met ‘n hart wat klop het sy gekom waar sy moes wees en haar aankope gedoen.

En tóé vang sy die spitsverkeer. Sy sien die N1 langs haar, maar dit vat haar ‘n halfuur net om op hom te kom.

Google het gesê sy moet regs hou en soos dit ‘n ordentlike bestuurder uit die platteland in die stad betaam, hou sy die regterbaan sodat daar nie ‘n gesukkel is vorentoe nie. Genade! Sy het nie besef sy sit in die ry wat KAAP toe draai nie, dit besef sy eers toe sy heel voor kom en toe moes uitsukkel, want die afdraai Paarl toe is 500 m vorentoe.

EK HET DIT GEMAAK! BRAVO! En moenie dink ek gaan dit môre weer doen nie, hoor jy! Gmf.

Groetnis

Toortsie

46 thoughts on “Toortsie gaan Kaaaap toe!

  1. Ha! Ek weet presies waarvan jy praat. Ek het eendag per ongeluk die Kaap misgery. Moenie my vra hoe nie. Maar toe ons weer sien is die berg nie meer voor ons nie- hy’s weg! Toe ontdek ons hom later so skuins in die linkeragter ruit….. Bly jy is weer veilig terug.

    Liked by 1 person

    1. As jy die Kaap so maklik misry, moet jy nie jou oë knip as jy by Napier verby ry nie! 😂 Jissie seegogga, dis erg in die Diepkaap! Ek het hoofpyn gehad en my nek was stokstyf. Lekker om terug te wees. Ek het toe daai koekies by Spar opgespoor.

      Liked by 1 person

      1. In ou Johies is 2 bakens: die FM toring en die Hillbrowtoring. ‘n Mens kan darem mooi jou rigting bepaal as jy een van daardie 2 sien. Pretoria is vierkantig.in d middestad- soos grafiekpapier. (preek ek wat Kaapstad verloor het, nou vir jou!)

        Liked by 1 person

  2. Hahaha, dis die eerste keer wat ek hoor ‘n mens kan die Kaap mis ry. Toemaar, ek was nog altyd so rigtingbedinges – dis hoekom Edward altyd saam met my ry. Hy sit daar binne my voorruit en sê vir my in hogere English Public School aksent “in 200 meters, turn left”. As ek nie betyds left turn nie, gil hy ook nie vir my om te “recalculate! recalculate!” soos wat sy onbeskofte Amerikaanse vroulike kollega in haar histeriese stemmetjie doen nie. Edward is besadig – hy lei my net kalmpies terug op die regte pad. Toortsie, het jy nou alo die pad Kaap toe gery om te gaan koekies koop by die Spar?

    Like

  3. Die mooie Kaap! Eks bang vir die karre, so Pappa moet ook maar dryf as ons daar is, want as ek moet ry sal ons iewers op eindig waar niemand ons weer gaan kry nie!

    Liked by 1 person

  4. Jy moet volgende keer vir my laat weet. Ek werk in die hartjie van die Kaap. My kantoorvenster wys ‘n reuse Tafelberg. Ek kan jou tjoef tjaf op al jou draaie vat en heelhuids aan die ander kant uitkry :-D. …. of vir jou die tye laat weet wanneer jy liewer lekker koffie moet sit en drink in plaas van jou wiele op die Kaapse teer waag. 😉

    Liked by 1 person

      1. Twee opsies in die grote Kaap: Die weg van die minste weerstand as jy nie seker is wat jy soek nie: ‘n winkelsentrum soos Tygervallei of Canal Walk. Parkeer jou kar veilig (waar jy hom weer gaan kry), en stap winkeltjie in en winkel uit. Of in ons omgewing by Table View kant is Bridal Allure. My vriendin het haar moeder van die bruid rok daar gekry en was baie tevrede met haar rok en met hulle diens.

        Like

          1. Laat maak een by Stephen van Eeden of sy vriend wat eers by Guchi ootwerp het. Hulle is fantasties. Stephen was op project runway en sy vriend het iemand wat jy goed ken se mother of the bride rok ontwerp
            Sy was baaaie tevrede.
            Stephen modeontwerper
            Work +27726483487

            Like

            1. Ek moet by jou kom hoor. Is hy in ons kontrei? Ek is al moedeloos met sulke rokke. Ek het ná die eerste kind se troue gesê die kinders moet eerder saambly, ek soek nie weer rok nie! Nou is dit die 4e keer en ek het net 3 kinders. Ek vertrou dis regtig nou die laaste keer. Volgende keer gaan ek kaal. Genade!

              Liked by 1 person

    1. Regtig! Daardie outfitsoekery is angswekkend! My man vertel graag die storie hoe ek flou geval het oor ‘n outfit, maar hy vergeet om te vertel dat ek ‘n hele vrugtebrood saam met ‘n pot boontjiesop opgeëet het.

      Liked by 1 person

  5. Homer se altyd as rigtingb4k ‘n woord in die woordeboek was, sou hulle ter verduideliking net Olga langsaan gesit het. Maar, toe ons Feb in die Kaaaap was, kon ek skadukant of sonkant van die platberg altyd die rigting beter as die gps aangee. 😉

    Liked by 1 person

  6. Die goeie ou Kaap!
    Net so by the way… ek en daai Antie Googel klim nie saam in die kar nie!
    My vrou bestuur as ons saam is… sy raak glo karsiek as sy nie haar aandag op iets anders fokus nie (pot bollie, dink ek maar wie is ek om the vra??) … so, sy weet, dis of ek of daai antie… nie altwee saam in die kar nie! 😉

    Liked by 1 person

      1. Ja… dis oukei vir julle dames as sy julle in die sloot in help… en julle mans is nie daar om die blaam te vat nie!
        My vrou gee vir my die blaam… al luister sy vir daai antie… no way vat ek die bollie vir haar ook nie! 😉

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!