Skryf ‘n opstel: My gunstelingmens

(Vir die blogmaats met wie ek graag saamkuier, vra ek geduld. Behalwe dat ek ‘n kuierblog het, wil ek ook graag mense help. In die begin het ek gedink dis kinders en hulle mammas wat onderwerpe vir Google vra en dit dan by my uitkom, maar ek het ‘n vae vermoede dat ook onderwysers deesdae hier rondloer vir opstel- en mondelingonderwerpe. )

Skryf ‘n opstel oor jou gunstelingmens.

(Voor jy begin skryf, dink oor wie jy wil skryf en skryf dit dan asof jy dit vir jou beste vriend vertel.)

Begin deur te sê WIE is jou gunstelingmens is. Wat is sy/haar naam? Vertel ‘n biejie meer van hom/haar, sommer in die algemeen. Stel hom/haar bekend aan die leser.

Hoekom is sy/hy jou gunstelingmens? Is daar iets spesiaals wat hierdie persoon doen wat hom/haar laat uitstaan bo ander mense? Of is dit juis haar nederigheid of liefdevolheid of geloof wat haar jou gunstelingmens maak?

Is jou gunstelingmens ‘n bekende persoon, soos ‘n nasionale held, van wie almal hou, of is dit juis een wat nie so bekend is nie, maar vir jou baie spesiaal is?

Vertel van hierdie persoon. Ken jy hom/haar persoonlik? Indien wel, wat is jou verwantskap met die persoon? Is dit jou oom/tannie/niggie/neef of sommer net ‘n vriend? Hoe gereeld spandeer julle tyd saam, indien julle dit wel doen?

Het hierdie persoon spesiale eienskappe wat jou aantrek? Wat is die spesiale eienskappe? Is hy/sy besonder goed in een of ander iets soos sport of dans of boks?

Is dit vir jou lekker om in sy/haar teenwoordigheid te wees? Gee hy/sy spesiale aandag aan jou? Laat voel hy/sy vir jou spesiaal, amper asof jy ook uitstaan bo die res, amper of jy sy/haar witbroodjie is?

Wat kan jy by hom/haar leer? Wat is daar wat jy graag soos sy/hy sal wil doen? Hoe sal jy in sy/haar voetspore wil volg?

Behalwe dat jy dalk baie by hom/haar kan leer, wat kan jy vir hom/haar teruggee om jou bewondering of dankbaarheid te bewys? Is daar iets spesiaals wat jy vir hom/haar kan doen wat sy/haar lewe ook makliker kan maak? Of sommer net om vir hom/haar te wys dat hy/sy vir jou baie beteken?  Wat sal jy graag vir hom/haar wil doen?

Wat is daar nog wat jy van jou gunstelingmens wil vertel wat ek vergeet het om te noem? Onthou om op een of ander manier vir hom/haar te wys dat hy/sy vir jou spesiaal is.

Groetnis

Toortsie

13 thoughts on “Skryf ‘n opstel: My gunstelingmens

  1. Ek het sowaar ook nou die dag n opstel navraag gekry! Vakansie by die see. Ek het nog nie reply nie, maar dit was by n bloginskrywing wat presies daaroor gaan, so ek hoop hulle het reeds gekry wat hulle gesoek het.

    Liked by 1 person

  2. Hallo Toortsie. Skuus as hierdie dalk ‘n dom vragie is, maar noem dit onkunde.

    Ek sien al jou blogs oor Skryf ‘n opstel.

    Skryf elkeen een dit op sy eie.
    Is dit sommer net “tips”?

    Jy gee sulke oulike onderwerpe en dan wonder ek elke keer.

    Dankie

    Like

    1. Dis suiwer informatief. Ek vermoed dis mense wat opstelle moet skryf, dan tik hulle die onderwerp by Google in. Om een of ander rede beland die vraag dan op my blog.
      Ek gebruik dit dan as ‘n bloginskrywing, met die doel dat, sou iemand weer so ‘n opstel moet skryf, dit hulle hopelik help in die skryfproses.
      Maar hier is ook besig om iets anders te gebeur: Soos ek dit meer en meer opsit, raak die versoeke ook meer en ek het nou omtrent al 16 opstelonderwerpe so hanteer. Onderwysers wat idees soek vir opstelle, kom nou ook hierby uit, en die raad wat ek gee, kan hul selfs ook gebruik as hul dit in die klas behandel.
      Maar as jy lus het om so ‘n opstel op jou blog te skryf, kan jy natuurlik dit ook doen! 😁 Soos ‘n bloguitdaging! Onthou dan net om hierdie post te tag.

      Like

Gesels saam, asseblief!