Vrede in vryf

Die silwer teestel van my ma kla my al lankal aan, dit moet opgevryf word. Dit is al ‘n hele paar jaar sedert dit laas blinkgevryf is.  Dit ís mos maar die ding van silwerware, dit vra liefdevolle versorging.

Maar ek pendel en het nie tyd nie en het ook nie meer regtig iemand wat my in die huis help nie. ‘n Dierbare seun wat my soms kom help stoepe vee en kar was, bied aan om dit vir my te doen, maar ook daarvoor kom die geleentheid nie regtig nie.

Die stel kla my aan, dit raak swarter en swarter en iewers gaan dit seerkry in die proses. Iewers gaan dit skade optel. Ek weet ook nie of ek dit nog sal skoon kry nie, dis al so verkleur.

Ek raak gefrustreerd omdat die goed net nie meer gedoen word soos dit hoort nie, ons jaag voort, tyd ontbreek. Maar daar is ander frustrasies ook! Eintlik het ek sommer lus vir groot baklei. Vir ontplof.

Maar die stemmetjie waarsku: ‘Moenie.’

(Asof ek my aan stemmetjies steur!)

Ek gaan sit voor my klavier en speel en speel, maar dis of die frustrasie net nie wil wyk nie. Dán sien ek die swart teestel wat veronderstel is om silwer te wees.

Net daar gryp ek ‘n lappie en die Sylvo wat al so lank al staan en wag vir hierdie oomblik en ek begin van die vloeistof aansmeer aan die teepot. Ek smeer en smeer en vryf en vryf en met elke vryf kom daar ‘n tikkie ouwêreldse sjarme terug. Ek vryf in die hoekies en voutjies en voor ek my kom kry, is die teepot weer skitterblink, reg om gebruik te word saam met pragtige teekoppies.

En skielik besef ek: ook die frustrasie in my hart is weg. Heeltemal weg. My hart blink ook, nes die teepot!

Eerskomende naweek is dit die res van die stel se beurt en volgende week hou ek high tea!

Groetnis

Toortsie

28 thoughts on “Vrede in vryf

  1. Jy kan bly wees daar het nie ‘n genie uitgespring nie 😁😁😁😁
    Toorts jy moet dadelik terapie op jouself toepas…. in my hele lewe is jy die tweede vrou wat ek hoor wat van stryk hou. Dis abnormaal… stroom op…. onwelvoeglik… onverstaanbaar…. ongeoorloofd … onbetaamlik… sinneloos… grotesk… en dies meer 🤔 om van stryk te hou.

    Liked by 3 people

  2. Ag maar jou teepotjie lyk sommer weer spiekeries. Ek sou verseker land en sand met my wyse moedertjie geklets het terwyl ek gevryf het. Hou van stryk? Amper soos my “honger” vriendin wat Sondae na kerk inval vir ontbyt en dan bly om skottelgoed te was.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!