My eerste parkrun

Saterdag het ek die eerste keer deelgeneem aan ‘n parkrun, alhoewel, ek het geparkwalk. Ek hoor al lank al van mense wat elke week ‘n parkrun doen en dit klink so lekker, maar ons het nie so iets op ons dorp nie. Toe kry ons dorp dit, maar 8 vm op ‘n Saterdagoggend is darem VROEG!

Vrydagaand sien ek weer op Facebook dat die mense skryf oor die parkrun en ek dink so by myself dat dit mos my voorneme was dat as ek op my dorp is en hier gebeur iets, ek gaan deelneem. Verder is ek dan so lief vir stap en kom ook nie gereeld daarby uit nie. Dis nou sommer nonsens! Net daar registreer ek en Saterdagoggend vroeg nooi ek vir manlief saam en whalla, daar gaan ons.

Sjoe! Dis lekker! Net 5 ou kilometertjies en glad nie eers bulte nie. Die geselskap is heerlik! Ek sien soveel bekendes uit my dorp, mense met wie ek al ‘n pad gestap het, mense met wie ek nog ‘n pad wil stap en minder bekendes wat oor tyd mos bekendes kan raak. Dis ‘n fees!

Toortsie sal dit weer wil doen, as sy onthou, en die grootste onthouding is die strepieskode wat moet saamgaan. Dis die eerste plek waar ek totaal uit die bus uit gaan val, maar ag wat, dan doen ek dit sommer net saam vir die geselligheid, strepieskode of te nie. Ek het hom nou in my selfoonsakkie gebêre, dalk werk dit!

Volgens die Parkrun webblad, was die heel eerste Parkrungeleentheid op 2 Oktober 2004 in Bushy Park, Teddington, in die Verenigde Koninkryk, met slegs 13 deelnemers. Oor tyd het hulle gerekenariseer en kon hulle al hoe meer Parkruns aanbied, soveel so dat dit nou ‘n wêreldwye ding geraak het. Hulle leuse bly steeds dat dit weekliks moet plaasvind, gratis moet wees, en tot beskikking van almal wat wil deelneem.

En sou jy een keer geregistreer het, is jy vir die res van jou lewe geregistreer om op enige plek in die wêreld deel te neem op ‘n Saterdagoggend, waar jy ookal is.

In Suid-Afrika is dit orals 8 vm en jy daag net op, neem deel, wys jou strepieskode en dis dit. Hoe moeilik kan dit nou wees? Jy mag selfs jou hond saamneem solank hy aan ‘n leiband is en slegs een hond per persoon, en jou jong kinders mag ook deelneem, solank hulle onder toesig is.

Nou toe! Wie is Saterdag by vir ‘n gesellige saamhardloop/saamstap? Dit lyk my jy kan selfs Vitalitypunte verdien met Parkrun.

Groetnis

Toortsie

40 thoughts on “My eerste parkrun

  1. Ek stap ook my run… ek glo vas daar is ‘n 11de gebod. Toe die liewen Heer vir ons Eva’s boobies opgesit het, het hy gesê : “Thou shalt not run”. En ek hou by daai een 😀

    Liked by 1 person

  2. Daarsy! Ek dreig noual lank om aan te sluit, maar ons naaste Parkrun venue is in Uvongo. Om soontoe te ry en parkering te vind voor 8:00vm op een van die besigste strande hier rond is my grootste beswaar. Ek gaan tog registreer en wag vir ‘n dag wat die weer van so ‘n aard is dat ek bereid is om voor 6:00vm in die pad te val.

    Like

          1. Ek het gekyk, die tye wissel van 20 minute (die joggers) tot een uur (oues van dae). Ek en Karen stop natuurlik elke vyf tree vir ‘n foto, dus mag dit dalk ‘n bietjie langer duur! Hulle stap in die heuwels / duine amper reg teen die see.

            Liked by 1 person

  3. Ek kan nou nie uit die vuis se hoeveel parkrun’s ek al gewalk het nie. Die wintermaande is ok. Dan begin dit 8vm. Maar omdat die humiditeit baie hoog kan wees in die laeveld begin dit 7vm. Ons moet 48km ry om daar te kom en 48km terug. Maar ons poog nou om ‘m parkrun in ons dorp te vestig. Die roete is darem al goedgekeur. Om 7 vm al in Hazyview aan tr tree vir ‘n parkrun, meen ek moet 5vm al opstaan, dis in die middel van die nag.

    Like

  4. Ek het dit eens op n tyd gereeld gedoen. Dit is heerlik.
    Ooh maar ekt so antjie op my facebook sy moet na elke park run n foto van haar in haar park run klere (en make-up) post. Ek se jou ELKE Saterdag – dit iriteer my SO.
    Geniet dit Toorts

    Liked by 1 person

  5. Toortsie daar is darem al 1 ding wat ek voor jou gedoen het. Met my eerste parkrun het ‘n vriend wat verjaar ń paar gesinne genooi en ons het saam geparkrun bt Blouberg soos Transvalers op ń skottelskaar ontbyt gemaak. Was baie lekker. En nou dat ek daaraan dink daar is fotos geneem, regverdig dalk ń blog post

    Liked by 1 person

  6. Jy is baie oulik. As ek in Namibië is, kyk ek elke Saterdagoggend by my venster uit en sien die klomp daar verby wikkel…reg voor ons deur. Was nog heeltemal te lui om dit te doen. Ek moet darem bysê ek doen tweemaal ‘n week Calethenics al vir die laaste 28 jaar en ek en ‘n vriendin stap smiddae ‘n uur lank. Dus kan ek Saterdae rustig wees.Geniet dit!

    Like

Gesels saam, asseblief!