Skryf ‘n opstel: My familie

Die kategorie, ‘opstelle’ wat eintlik sommer net so terloops ontstaan het, trek al hoe meer aandag en Google stuur al hoe meer versoeke van opstelle na my mandjie.

‘My familie’ kan ook ‘n lekker onderwerp wees om oor te skryf. Families is mos uiteenlopend en jy kan regtig hier wyd gaan as jy sou wou.

Jy kan dalk net van jou gesin vertel, of gaan jy jou ooms en tannies, niggies en nefies ook insluit?

Voor jy sommer net almal opnoem wat in jou familie is, dink ‘n bietjie aan dinge wat julle familie uniek maak, dinge wat vir jou lekker is om juis deel van julle familie te wees. Het julle sekere familietradisies, of doen julle sommer soms op die ingewing van die oomblik iets lekkers? Kuier julle familie graag saam, of is julle maar elke gesin op sy eie?

Brei ‘n bietjie uit oor elke lid in julle gesin. Wat doen jou ma? Werk sy buitenshuis, of is sy by die huis besig om die gesin te versorg? En jou pa? Wat is sy beroep? Is hy baie betrokke by die gesin en doen julle dinge saam? Vertel van jou broers en susters, en sommer van hulle kêrels en meisies ook.

Is daar dinge waarin van jou gesinslede uitblink? Jou broer is dalk die wêreldskaatskampioen vir elfjariges. Vertel daarvan! Of jou suster is dalk ‘n danser van formaat. Dalk woon sy kompetisies by. Vertel dalk hoe jou kleinsussie elke middag klavier oefen en hoe dit jou irriteer!

Wat is julle familiegeheimpies waaroor julle stilweg lag, maar nie mag oorvertel nie? Dis NOU jou kans!

Is julle familie grapperig en hou van lawwe dinge doen, of is julle ernstig? Is julle spelerig, of sit julle heeltyd voor die rekenaar? Reis julle graag? Gaan stap julle graag in die natuur?

Waar hou julle vakansie? Wat behels dit?

Het julle troeteldiere? Wat is dit? Wie se hond/kat/budjie is dit? Wie versorg dit?

Is daar dalk iets wat nie lekker is in julle familie nie, wat jy voel om te vertel? Iets wat jy van jou hart af wil kry? Dalk is daar nie ‘n pappa of ‘n mamma in julle gesin nie. Dalk moet julle kinders alleen regkom? Dalk moet jy as kind jou ouma versorg? Self kosmaak vir julle gesin? Vertel ons daarvan.

Nou toe! Nou is dit jou beurt. Gaan teken ‘n prentjie van almal in jou familie en dink ‘n bietjie wat jy oor elkeen wil vertel. Onthou, dit is JOU storie. Geniet dit om jou storie te vertel. Dis ‘n unieke storie en niemand anders kan presies dieselfde storie as jy vertel nie.

Groetnis

Toortsie

 

8 thoughts on “Skryf ‘n opstel: My familie

  1. Ek sal jare lank moet skryf aan daai opstel!
    Herhinder my aan ‘n Afrikaanse eksamen opstel vraag…
    “Skets ‘n vakansie toeneel”
    Ek het dit letterlik opgeneem en so tussen die skrywery ‘n mooi boom geteken! Dit was on “den”…
    As ek reg onthou was die onnie so half en half beindruk…
    😉

    Like

Gesels saam, asseblief!